YouVersion Logo
Search Icon

Josua 9

9
Verdrag met die Gibeoniete
1Toe al die konings wat anderkant die Jordaan was, dit hoor – in die bergland, die Sjefela, en langs die hele kus van die Groot See tot teen die Libanon; dit is die Hetiete, die Amoriete, die Kanaäniete, die Feresiete, die Hewiete en die Jebusiete – 2het hulle byeengekom en eenparig besluit om teen Josua en Israel te veg.
3 Maar toe die inwoners van Gibeon hoor wat Josua aan Jerigo en Ai gedoen het, 4het hulle op hulle beurt slinks opgetree: Hulle het gegaan en vir hulle padkos voorberei, en hulle het verslete saalkleedjies vir hulle donkies en wyn in verslete leersakke, wat gebars en toegewerk was, saamgeneem. 5Daar was verslete en gelapte sandale aan hulle voete, en die klere aan hulle was ook verslete. Al die brood van hulle padkos was droog; dit het krummels geword.
6Hulle het na Josua in die kamp by Gilgal gegaan, en vir hom en die manne van Israel gesê: “Ons kom van 'n baie ver land; sluit daarom nou met ons 'n verdrag.” 7Maar die manne van Israel het die Hewiete geantwoord: “Miskien woon julle hier tussen ons – hoe kan ons dan met julle 'n verdrag sluit?”
8Hulle sê toe vir Josua: “Ons is u dienaars.” Josua het vir hulle gevra: “Wie is julle en waar kom julle vandaan?” 9Hulle het hom geantwoord: “Van 'n baie ver land het u dienaars gekom, oor die roem van die Here u God; want ons het die berigte oor Hom gehoor: alles wat Hy in Egipte gedoen het, 10 en alles wat Hy gedoen het aan die twee konings van die Amoriete wat oorkant die Jordaan was, aan Sihon, die koning van Gesbon, en aan Og, die koning van Basan, wat in Astarot was. 11Ons oudstes en al die inwoners van ons land het vir ons gesê, ‘Neem padkos met julle saam vir die reis en gaan hulle tegemoet. Sê vir hulle: “Ons is u dienaars; daarom, sluit nou met ons 'n verdrag.” ’ 12Hierdie brood van ons – warm het ons dit uit ons huise geneem as padkos die dag toe ons uitgegaan het om na julle te kom. En nou, kyk, dit is droog en het krummels geword. 13En hier is die leersakke met wyn wat ons volgemaak het toe dit nog nuut was. En kyk, dit het gebars! Hier is ons klere en ons sandale; dit is verslete van die baie lang reis.” 14Toe aanvaar die manne hulle woord op grond van hulle padkos. Maar die Here se beslissing het hulle nie gevra nie. 15Josua het toe vir hulle vrede aangebied, en met hulle 'n verdrag gesluit om hulle te laat leef. Die leiers van die volksvergadering het dit vir hulle met 'n eed bevestig.
16Maar ná drie dae, nadat Israel met hulle 'n verdrag gesluit het, het hulle gehoor dat hulle bure is en tussen hulle woon. 17Die Israeliete het verder getrek en op die derde dag by hulle stede aangekom. Hulle stede was Gibeon, Kefira, Beërot en Kirjat-Jearim. 18Maar die Israeliete het hulle nie aangeval nie, omdat die leiers van die volksvergadering vir hulle voor die Here, die God van Israel, 'n eed afgelê het. Die hele volksvergadering het teenoor die leiers gemor. 19Toe sê al die leiers vir die hele volksvergadering: “Ons het self vir hulle 'n eed afgelê voor die Here, die God van Israel. Daarom kan ons nie aan hulle raak nie. 20Dit is wat ons aan hulle sal doen: Ons sal hulle laat leef, sodat 'n oordeel uit toorn ons nie tref oor die eed wat ons vir hulle gesweer het nie.” 21Die leiers het dus vir die volksvergadering gesê: “Hulle sal leef.” Maar hulle het houtkappers en waterdraers geword vir die hele volksvergadering soos die leiers vir hulle gesê het.
22Josua het hulle ontbied en met hulle gepraat. Hy het gesê: “Waarom het julle ons mislei deur te sê, ‘Ons woon baie ver van julle af,’ terwyl julle tussen ons woon? 23 Daarom, vervloek is julle! Julle sal julle knegskap nie kan afskud nie; houtkappers en waterdraers sal julle wees vir die huis van my God.” 24Hulle het Josua geantwoord en gesê: “Omdat daar duidelik berig gebring is aan u dienaars dat die Here u God sy dienskneg Moses beveel het om die hele land aan julle te gee en om al die inwoners van die land voor julle uit te delg, het ons, as gevolg van julle, ernstig gevrees vir ons lewens, en so opgetree. 25Daarom, kyk, ons is in u hand. Soos dit goed en reg is in u oë, moet u met ons maak.”
26Dit is wat hy toe met hulle gedoen het: Hy het hulle gered uit die hand van die Israeliete, en hulle het hulle nie doodgemaak nie. 27Op daardie dag het Josua hulle houtkappers en waterdraers gemaak vir die volksvergadering en vir die altaar van die Here, op die plek wat Hy sou kies; dit is vandag nog so.

Currently Selected:

Josua 9: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in