YouVersion Logo
Search Icon

Matteus 17

17
Verheerliking van Jesus
(Mark 9:2-13; Luk 9:28-36)
1Ses dae later het Jesus vir •Petrus en Jakobus en sy broer Johannes saamgeneem en hulle teen 'n hoë berg uitgelei, waar hulle alleen was. 2 Voor hulle het Hy van gedaante verander: Sy gesig het gestraal soos die son, en sy klere het skitterend wit geword soos die lig. 3En kyk, Moses en Elia het aan hulle verskyn en was met Hom in gesprek. 4Petrus reageer toe en sê vir Jesus: “Here, dit is goed dat ons hier is. As U wil, laat my toe om hier drie hutte te bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia.” 5Terwyl hy nog praat, het 'n helder wolk skielik 'n skaduwee oor hulle gegooi, en kyk, 'n stem uit die hemel sê: “Dit is my geliefde Seun, oor wie Ek My verheug. Luister na Hom.” 6Toe die dissipels dit hoor, het hulle op hulle gesigte neergeval, oorval deur vrees. 7Jesus het nader gekom, en nadat Hy hulle aangeraak het, sê Hy: “Staan op en moenie langer bang wees nie.” 8Toe hulle opkyk, het hulle niemand gesien nie, behalwe net Jesus self.
9Terwyl hulle teen die berg afgaan, het Jesus hulle beveel: “Julle moet vir niemand vertel wat julle gesien het voordat die •Seun van die Mens uit die dood opgewek is nie.” 10Die dissipels het Hom gevra: “Waarom sê die skrifkenners dan dat Elia eers moet kom?” 11Hy het geantwoord: “Elia kom inderdaad, en hy sal alles herstel. 12Maar Ek sê vir julle, Elia het reeds gekom, en hulle het hom nie herken nie, maar met hom gemaak soos hulle wou. So moet ook die Seun van die Mens deur hulle toedoen ly.” 13Toe het die dissipels begryp dat Hy met hulle oor Johannes die Doper gepraat het.
Genesing van 'n seun
(Mark 9:14-29; Luk 9:37-43a)
14Toe hulle by die skare kom, het 'n man na Hom gekom, voor Hom gekniel 15en gesê: “Here, ontferm U oor my seun, want hy is maansiek en ly erg. Dikwels val hy in die vuur, en dikwels in die water. 16Ek het hom na u dissipels gebring, maar hulle kon hom nie gesond maak nie.” 17Toe antwoord Jesus: “O, ongelowige en ontaarde geslag, hoe lank moet Ek nog by julle bly? Hoe lank moet Ek julle nog verdra? Bring hom na My toe!” 18Daarop het Jesus die demoon bestraf, en hy het uit hom uitgegaan. Van daardie oomblik af was die seun gesond. 19Jesus se dissipels het toe eenkant na Hom gekom en gevra: “Waarom kon ons dan die demoon nie uitdryf nie?” 20Hy het hulle geantwoord: “Vanweë julle kleingeloof. •Amen, Ek sê vir julle: As julle geloof het soos 'n mosterdsaadjie, sal julle vir hierdie berg sê, ‘Verplaas jou hiervandaan daarheen,’ en hy sal soontoe verskuif. Ja, niks sal vir julle onmoontlik wees nie. ”
Tweede lydensaankondiging
(Mark 9:30-32; Luk 9:43b-45)
22Toe hulle in Galilea bymekaarkom, sê Jesus vir hulle: “Die •Seun van die Mens gaan oorgelewer word in die hande van mense. 23Hulle sal Hom doodmaak, maar op die derde dag sal Hy opgewek word. ” En hulle het baie bedroef geword.
Vraag oor tempelbelasting
24Toe hulle in Kapernaum aankom, het diegene wat die dubbeldragme invorder, na •Petrus gekom en gevra: “Betaal julle leermeester nie die dubbeldragme nie?” 25Hy antwoord: “Ja, wel.” Toe Petrus in die huis kom, spring Jesus hom voor, en vra: “Wat dink jy, Simon? Van wie vorder die aardse konings hulle tolgeld of belasting in? Van hulle seuns of van •vreemdelinge?” 26Toe hy antwoord, “van vreemdelinge”, het Jesus vir hom gesê: “Dan is die seuns mos vrygestel. 27Maar sodat ons hulle nie aanstoot gee nie, gaan see toe en gooi die hoek in. Vat die eerste vis wat jy uittrek, en as jy sy bek oopmaak, sal jy 'n stater vind. Neem dit en betaal dit aan hulle namens My en jou.”

Currently Selected:

Matteus 17: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in