YouVersion Logo
Search Icon

Matteus 24

24
Profetiese rede: Afbreek van die tempel
(Mark 13:1-2; Luk 21:5-6)
1Jesus het uitgegaan en was besig om van die tempelterrein weg te beweeg. Sy dissipels het nader gekom om sy aandag op die tempelgeboue te vestig. 2Maar Hy sê vir hulle: “Sien julle al hierdie geboue? •Amen, Ek sê vir julle: Hier sal beslis nie een klip op 'n ander gelaat word nie – alles sal afgebreek word.”
Profetiese rede: Begin van die eindtyd
(Mark 13:3-13; Luk 21:7-19)
3Terwyl Jesus op die Olyfberg gesit het, het die dissipels na Hom gekom en Hom eenkant gevra. “Sê vir ons,” het hulle gevra, “wanneer sal hierdie dinge plaasvind, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die tyd? ” 4Jesus het hulle geantwoord: “Pasop dat niemand julle mislei nie. 5 Want baie mense sal in my Naam na vore tree en sê, ‘Ek is die Christus!’ en hulle sal baie mense mislei. 6Julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pasop, moenie verskrik raak nie. Want hierdie dinge moet gebeur, maar dit is nog nie die einde nie. 7Een nasie sal immers teen 'n ander nasie optrek en een koninkryk teen 'n ander koninkryk, en daar sal hongersnood wees en aardbewings op een plek ná die ander. 8Al hierdie dinge is die begin van die geboortepyne. 9Dan sal hulle julle oorlewer om verdruk te word en julle doodmaak, en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam. 10Dan sal baie tot 'n val kom, mekaar oorlewer en mekaar haat. 11 Baie vals profete sal verskyn en hulle sal baie mense mislei. 12En omdat die wetteloosheid sal toeneem, sal baie se liefde afkoel. 13 Wie egter volhard tot aan die einde, dié sal verlos word. 14Hierdie evangelie van die koninkryk sal oor die hele wêreld verkondig word as getuienis vir al die nasies. En dan sal die einde kom.”
Profetiese rede: Die groot verdrukking
(Mark 13:14-20; Luk 21:20-24)
15“Daarom, wanneer julle die gruwel van verwoesting waarvan die profeet Daniël praat, op die heilige plek sien staan – laat dié wat dit lees, goed begryp – 16dan moet hulle wat in Judea is, na die berge vlug, 17 en wie op die dakstoep is, moet nie ondertoe gaan om besittings uit sy huis te gaan haal nie; 18en wie op die landerye is, moet nie terugdraai om sy bokleed te gaan haal nie. 19Wee hulle wat in daardie dae swanger is en borsvoed! 20Bid dat julle nie in die winter en op die Sabbat sal moet vlug nie; 21 want dan sal daar groot verdrukking wees, soos daar sedert die begin van die wêreld tot nou toe nog nie was nie, en beslis ook nie weer sal wees nie. 22As daardie dae nie ingekort word nie, sou geen mens gered word nie. Maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae ingekort word.”
Profetiese rede: Koms van die Seun van die Mens
(Mark 13:21-27; Luk 17:23-24,37b; 21:25-28)
23“ As iemand dan vir julle sê, ‘Kyk, hier is die Christus!’ of ‘Hier is Hy!’ moet julle dit nie glo nie. 24 Want vals christusse en vals profete sal na vore tree, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, indien moontlik, selfs die uitverkorenes te mislei. 25Kyk, Ek het dit vooruit vir julle gesê. 26 As hulle dan vir julle sê, ‘Kyk, Hy is in die woestyn!’ moenie daarheen gaan nie, of ‘Kyk, Hy is in die binneste kamers!’ moet dit nie glo nie. 27Want net soos die weerlig uitslaan in die ooste en skyn tot in die weste, so sal die koms van die •Seun van die Mens wees. 28 Waar die karkas lê, daar sal die aasvoëls versamel.
29“Onmiddellik ná die verdrukking van daardie dae
“ ‘sal die son verduister word,
en die maan sal sy lig nie gee nie,
en die sterre sal van die hemel val,
en die kragte van die hemele sal geskud word. ’
30“Dan sal die teken van die Seun van die Mens aan die hemelruim verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rouklaag, en
hulle sal die Seun van die Mens sien kom op die wolke van die hemel
met krag en groot heerlikheid.
31Hy sal sy engele stuur met luide trompetgeskal, en hulle sal sy uitverkorenes uit die vier windrigtings versamel, van die een uithoek van die hemele tot by die ander. ”
Profetiese rede: Les van die vyeboom
(Mark 13:28-31; Luk 21:29-33)
32“Leer hierdie les van die vyeboom: Sodra sy takke begin sag word en blare uitstoot, weet julle dat die somer naby is. 33So moet julle ook, wanneer julle al hierdie dinge sien, weet dat dit naby is, voor die deur. 34 •Amen, Ek sê vir julle: Hierdie geslag sal beslis nie tot 'n einde kom voordat al hierdie dinge gebeur het nie. 35 Die hemel en die aarde sal tot 'n einde kom, maar my woorde sal beslis nie tot 'n einde kom nie.”
Profetiese rede: Waaksaamheid
(Mark 13:32,35; Luk 17:26-27,30,34-35; 12:39-40)
36 “Van daardie dag en uur dra niemand kennis nie, selfs nie die engele van die hemele nie, en ook nie die Seun nie, net die Vader alleen. 37Want net soos in die dae van Noag, so sal die koms van die •Seun van die Mens wees. 38Soos hulle immers in daardie dae voor die vloed besig was om te eet en te drink, om in die huwelik te tree en in die huwelik uit te gee, tot op die dag dat Noag die ark binnegegaan het, 39en hulle niks vermoed het totdat die vloed gekom en almal meegesleur het nie, só sal ook die koms van die Seun van die Mens wees.
40“Dan sal daar twee op die land wees –
een sal saamgeneem
en die ander agtergelaat word.
41Twee sal by die meule maal –
een sal saamgeneem
en die ander agtergelaat word.
42“ Bly daarom waaksaam, omdat julle nie weet op watter dag julle Here kom nie. 43 Dit moet julle weet: As die huiseienaar geweet het tydens watter nagwaak die dief kom, sou hy gewaak het en nie by sy huis laat inbreek het nie. 44Daarom moet julle gereed wees, want die Seun van die Mens kom op 'n tyd wanneer julle dit nie verwag nie.”
Profetiese rede: Getroue en ontroue slawe
(Luk 12:42-46)
45“Wie is dan die betroubare en verstandige slaaf vir wie die eienaar aangestel het oor sy huishouding om vir hulle op tyd kos te gee? 46Gelukkig is daardie slaaf wie se eienaar hom so aan die werk sal vind wanneer hy kom. 47•Amen, Ek sê vir julle: Hy sal hom oor al sy besittings aanstel. 48As die slegte slaaf egter in sy hart sê, ‘My heer talm,’ 49en hy begin sy medeslawe slaan, en hy eet en drink saam met die dronkes, 50sal die eienaar van daardie slaaf op 'n dag kom wat hy nie verwag nie en op 'n uur wat hy nie weet nie. 51Hy sal hom middeldeur laat kap en hom laat deel in die lot van die skynheiliges. Daar sal 'n geween wees en 'n gekners van tande. ”

Currently Selected:

Matteus 24: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in