YouVersion Logo
Search Icon

Miga 1

1
Opskrif
1 Die woord van die Here wat tot Miga van Morêset gekom het in die tyd van Jotam, Agas en Hiskia, die konings van Juda, wat aan hom geopenbaar is oor Samaria en Jerusalem.
Oordeel oor Samaria en Jerusalem
2Luister, alle volke!
Let op, aarde en almal
wat daarop woon!
My Heer, die Here,
gaan teen julle getuig,
die Heer uit sy heilige paleis.
3 Kyk, die Here kom
uit sy woonplek;
Hy daal neer en trap op die hoogtes
van die aarde.
4 Die berge smelt onder Hom
en die valleie skeur oop,
soos was wat voor vuur smelt,
soos water wat teen 'n berghang
afstroom.
5 Oor Jakob se oortreding
gebeur al hierdie dinge,
oor die sondes van die huis
van Israel.
“Wie is verantwoordelik
vir Jakob se oortreding?
Is dit nie Samaria nie?
Wie is verantwoordelik
vir die offerhoogtes van Juda?
Is dit nie Jerusalem nie?
6 Daarom sal Ek van Samaria
'n puinhoop maak,
'n stuk veld vir die aanplant
van wingerd.
Ek sal haar klippe
in die vallei laat afrol,
haar fondamente blootlê.
7 Al haar afgodsbeelde
sal stukkend geslaan word,
alles wat sy verdien het,
sal in die vuur verbrand word,
al haar afgode sal Ek vernietig;
want met die loon van 'n prostituut
het sy dit bymekaargemaak,
en dit sal weer die verdienste
van 'n prostituut word.”
8 Hieroor wil ek weeklaag en huil;
ek wil kaalvoet en sonder klere loop;
ek wil tjank soos woestynjakkalse
en brom soos steenuile;
9want Samaria se wonde
is ongeneeslik,
ja, dit strek tot by Juda;
dit raak aan die poort van my volk,
aan Jerusalem.
10 Moet dit nie in Gat vertel nie,
moet glad nie daaroor huil nie!
In Bet-Leafra rol hulle in die stof!
11Trek weg, inwoners van Safir,
naak en in skaamte.
Die inwoners van Saänan
ruk nie op nie.
Daar word gerou in Bet-Haesel;
Hy neem sy bystand van julle weg.
12Ja, die inwoners van Marot
wag angstig op iets goeds,
want die kwaad
wat van die Here kom,
het afgegaan tot by die poort
van Jerusalem.
13 Span die perde
voor die strydwa,
inwoners van Lagis!
Dit was die begin van die dogter
van Sion se sonde;
ja, in jou is die oortredings
van Israel gevind.
14Daarom moet jy afskeidsgeskenke
gee aan Morêset-Gat.
Die huise by Agsib
sal 'n droë fontein
vir die konings van Israel wees.
15Ek sal weer 'n veroweraar
na julle bring,
inwoners van Maresa;
hy sal tot by Adullam kom.
Trots van Israel,
16skeer jou kop kaal,
skeer jou hare af
oor jou lieflingkinders;
maak die kaal kol so groot
soos dié van 'n aasvoël,
want hulle sal van jou af
weggevoer word in ballingskap.

Currently Selected:

Miga 1: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

Videos for Miga 1