YouVersion Logo
Search Icon

Miga 4

4
Toekomsverwagting
1“ In die laaste dae
sal die berg van die Here
se huis stewig staan,
as die hoogste van die berge;
ja, hy sal bo die heuwels uittroon.
Volke sal daarheen stroom,
2baie nasies sal gaan en sê,
‘Kom laat ons optrek
na die berg van die Here,
na die huis van die God
van Jakob,
sodat Hy ons van sy weë kan leer,
en ons op sy paaie kan volg.’
Ja, uit Sion sal daar onderrig kom
en die woord van die Here
uit Jerusalem.
3 Hy sal regspreek
tussen baie volke
en die reg handhaaf
vir talryke nasies
tot in die verste uithoeke.
Hulle sal van hulle swaarde
ploegskare smee,
en van hulle spiese snoeimesse.
Nasies sal nie meer die swaard
teen mekaar opneem nie,
hulle sal nie meer leer
om oorlog te maak nie;
4 maar elke man
sal onder sy wingerd
en onder sy vyeboom sit,
sonder dat iemand hom opjaag.
Die Here, Heerser
oor alle magte,
het dit immers self gesê.
5 Selfs as al die volke elkeen
in die naam van sy god voortgaan,
sal óns in die naam van die Here
ons God voortleef
vir altyd en altyd.
6 “ ‘Op daardie dag,’ ”
is die uitspraak van die Here,
“ ‘sal Ek die gebreklikes bymekaar maak,
die verstrooides versamel,
ook hulle wat Ek sleg
behandel het.
7 Ek sal die gebreklikes
'n oorblyfsel maak,
en dié wat ver weg was,
'n sterk nasie.’
Die Here sal op die berg Sion
oor hulle koning wees,
van nou af tot in ewigheid.
8En jy, wagtoring van die kudde,
vesting van die dogter van Sion,
na jou sal dit kom,
ja, die vroeëre heerskappy
is op pad –
die koningskap
vir die dogter van Jerusalem.”
9 Waarom skree jy dan nou so hard?
Het jy nie meer 'n koning nie?
Of het jou raadgewer verdwyn,
sodat pyn jou oorval het
soos 'n vrou wat geboorte skenk?
10 Krimp ineen en skreeu dit uit,
dogter van Sion,
soos iemand met geboortepyne!
Want nou sal jy die stad moet verlaat
en in die veld gaan woon.
Jy sal na Babilonië gaan:
Daar sal jy gered word;
daar sal die Here jou uit die hand
van jou vyande verlos.
11“Maar nou span baie nasies
teen jou saam,
hulle wat sê,
‘Laat Sion maar ontheilig word;
ons sal dit met genoegdoening aanskou.’
12 Húlle weet egter nie
wat die Here beplan nie
en hulle verstaan nie sy besluite nie,
dat Hy hulle soos gerwe
op 'n dorsvloer
bymekaargemaak het.
13‘Staan op en dors die gerwe,
dogter van Sion,
want Ek maak jou horing van yster
en jou hoewe maak Ek van brons.
Jy sal baie nasies vertrap!
Jy sal hulle buit aan die Here toewy,
al hulle rykdom aan die Heer
van die hele aarde. ’ ”
14Sny jouself maar stukkend,
strydlustige vrou!
Ons word beleër
en die regter van Israel word
met 'n stok op die wang geslaan!

Currently Selected:

Miga 4: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in