YouVersion Logo
Search Icon

Miga 3

3
Strafaankondiging oor leiers en profete
1 Maar ek sê:
“Luister tog, hoofde van Jakob,
•gesagvoerders van die huis van Israel!
Is julle nie veronderstel
om die reg te ken nie,
2 julle wat die goeie haat
en die slegte liefhet,
julle wat die mense se velle
van hulle afskeur
en die vleis van hulle bene;
3julle wat my volk se vleis eet,
hulle velle afstroop
en hulle bene stukkend kap,
hulle uitmekaarhaal soos in 'n pot,
ja, soos vleis in 'n kookpot?”
4 Dan sal hulle na die Here
om hulp roep,
maar Hy sal hulle nie antwoord nie.
In daardie tyd sal Hy sy gesig
vir hulle verberg
omdat hulle optrede boos was.
5 So sê die Here oor die profete
wat my volk mislei,
wat vrede verkondig
as hulle iets te ete kry;
maar as iemand hulle nie iets
in die mond stop nie,
'n oorlog teen hom heilig:
6“ Daarom, dit sal vir julle
nag wees, sonder visioene,
ja, donker, sonder voorspellings.
Die son sal ondergaan
vir die profete,
die dag sal vir hulle pikdonker wees.
7Die sieners sal in die skande
gesteek word,
die voorspellers sal beskaamd staan.
Hulle sal almal hulle snorre bedek,
omdat daar geen antwoord
van God kom nie.”
8Maar ek, ek is gevul met krag,
met die Gees van die Here,
met 'n sin vir geregtigheid
en die moed,
om aan Jakob sy opstand
en aan Israel sy sonde
bekend te maak:
9“Luister tog hierna,
hoofde van die huis van Jakob
en gesagvoerders van die huis
van Israel,
julle wat regte minag
en alles wat reg is, verdraai;
10 julle wat Sion met bloed
gebou het
en Jerusalem met onreg!
11 Haar leiers spreek 'n oordeel
uit vir omkoopgeskenke!
Haar priesters gee onderrig
teen betaling!
Haar profete maak voorspellings
vir geld!
Hulle steun nogal op die Here en sê,
‘Is die Here nie in ons midde nie?
Geen onheil sal ons tref nie!’
12 Daarom, deur julle toedoen
sal Sion 'n omgeploegde veld word;
Jerusalem sal puinhope word
en die tempelberg
oorgroeide heuwels.”

Currently Selected:

Miga 3: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in