YouVersion Logo
Search Icon

Nahum 3

3
Vernietiging van Nineve
1 Wee die stad van bloed!
Sy is geheel en al net leuens;
van wat geroof is, is sy vol,
en die rooftogte hou nie op nie!
2 Die klank van swepe!
Die klank van wiele wat dreun!
Perde wat voortstorm,
strydwaens wat bokspring.
3 Ruiters is op die voorpunt –
flitsende swaarde,
blitsende spiese!
'n Menigte gewondes,
'n magdom lyke,
tallose liggame –
hulle struikel oor hulle dooies!
4 Alles as gevolg van
die hoerery van die prostituut,
die aanvallige meesteres
van heksery,
wat nasies verkwansel het
deur haar hoerery,
volksgroepe deur haar heksery.
5 “Dis Ek teen jou, Nineve!”
is die uitspraak van die Here,
Heerser oor alle magte.
“Ek sal jou some oor jou gesig oplig;
Ek sal die nasies jou naaktheid
laat sien,
koninkryke jou skaamte.
6Ek gaan vullis op jou uitgooi
en jou met minagting behandel.
Ek gaan van jou 'n toonbeeld
van vernedering maak.
7Dan sal elkeen wat jou sien,
van jou af wegvlug
en sê, ‘Nineve is verwoes!
Wie sal meegevoel met haar hê?
Waar sal ek iemand kry
wat jou kan troos? ’ ”
8Is jy beter as No-Amon,
gevestig aan die Nyl
en omring deur water,
waarvan die voormuur
'n see van water was,
waarvan die stadsmuur ook water was?
9 Kus is talryk en ook Egipte,
Put en die Libiërs eindeloos in getal,
hulle was haar helpers.
10 Selfs sy was bestem
vir ballingskap;
sy moes in gevangenskap gaan.
Ook háár kleuters is verbrysel
op al die straathoeke.
Oor haar edelmanne is geloot,
al haar vername mense
is met kettings geboei.
11Ook jy sal dronk word
en verward wees.
Ook jy sal 'n toevlugsoord
teen vyande soek.
12Al jou versterkte stede
is vyebome met vroeë vye;
as die bome geskud word,
val die vye in die eter se mond.
13 Kyk, die manskappe
in jou midde is soos vrouens.
Vir jou vyande staan die poorte
van jou land wawyd oop;
vuur het jou sluitbalke reeds verteer.
14Skep maar vir jou water
vir die beleg!
Versterk maar jou versterkte stede!
Gaan kleigat toe en trap die klei!
Vat die steenvorm vas!
15Daar sal die vuur jou verteer,
die swaard jou afmaai.
Dit sal jou verorber
soos voetgangersprinkane.
Vermeerder maar
soos voetgangersprinkane,
word maar so baie
soos treksprinkane!
16Jy het jou handelaars
meer gemaak as die sterre
aan die hemel,
maar voetgangersprinkane
vervel en vlieg weg!
17Die mense aan jou hof is
soos treksprinkane,
en jou amptenare
soos 'n swerm sprinkane
wat op 'n koue dag
op die mure sit –
as die son deurbreek,
vlieg hulle weg.
Die plek waarheen hulle gaan,
is onbekend.
18 Koning van Assirië,
jou herders slaap;
jou vername mense rus.
Jou manskappe is verstrooi
oor die berge;
niemand bring hulle bymekaar nie.
19Daar is geen herstel
vir jou ineenstorting nie.
Jou wond is ongeneeslik.
Almal wat die nuus oor jou hoor,
sal daaroor hande klap,
want wie het nie voortdurend
onder jou wreedheid
deurgeloop nie?

Currently Selected:

Nahum 3: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

Videos for Nahum 3