YouVersion Logo
Search Icon

Nehemia 8

8
Voorlesing van die Wet
1 Met die aanbreek van die sewende maand was die Israeliete al in hulle dorpe. 2Die hele volk het toe soos een man byeengekom op die plein voor die Waterpoort en Esra, die skrifgeleerde, gevra om die •boekrol te bring met die Wet van Moses wat die Here Israel beveel het. 3Esra, die priester, het toe op die eerste dag van die sewende maand die Wet voorgehou aan die byeenkoms, wat mans en vroue ingesluit het, elkeen wat met begrip kon luister. 4Hy het, vandat dit lig geword het tot die middel van die dag toe, daar voor die plein by die Waterpoort daaruit voorgelees vir die mans en vroue en dié wat kon verstaan. Die hele volk het met gespitste ore geluister na die boekrol met die Wet.
5Esra, die skrifgeleerde, het gestaan op 'n houtverhoog wat hulle vir dié doel gemaak het. Langs hom, aan sy regterkant, het Mattitja, Sema, Anaja, Urija, Gilkija en Maäseja gestaan, en aan sy linkerkant Pedaja, Misael, Malkija, Gasum, Gasbaddana, Sagaria en Mesullam. 6Esra het die boekrol voor die oë van die hele volk oopgemaak, want hy het hoër as die hele volk gestaan. Toe hy dit oopmaak, het die hele volk opgestaan. 7 Esra het die Here, die grote God, geprys en die hele volk het, met hulle hande opgehef, geantwoord: “Amen, amen!” Toe het hulle gekniel en met hulle gesigte na die grond in aanbidding gebuig voor die Here.
8Jesua, Bani, Serebja, Jamin, Akkub, Sabbetai, Hodija, Maäseja, Kelita, Asarja, Josabad, Ganan, Pelaja en die Leviete het vir die volk die Wet verduidelik, terwyl die volk op hulle plekke bly staan het. 9Hulle het uit die boekrol met die Wet van God voorgelees, terwyl hulle verduidelik. Hulle het die uitleg gegee, sodat die volk die voorlesing kon verstaan.
10Nehemia – hy was die administrateur – en Esra, die priester en skrifgeleerde, en die Leviete wat besig was om vir die volk te verduidelik, het toe vir die hele volk gesê: “Hierdie dag is heilig vir die Here julle God. Moenie treur of huil nie!” Ja, die hele volk het gehuil toe hulle die woorde van die Wet hoor. 11Esra het vir hulle gesê: “Gaan eet feestelike kos en drink soet drank. Deel ook uit aan hulle vir wie niks voorberei is nie, want hierdie dag is heilig vir ons Heer. Moenie neerslagtig wees nie, want die vreugde van die Here, dit is julle toevlug.” 12Die Leviete het die hele volk gemaan om stil te wees en gesê: “Wees stil, want hierdie dag is heilig! Moenie neerslagtig wees nie!”
Huttefees
13Toe gaan die hele volk uit om te eet en te drink en om uit te deel, en om met groot vreugde fees te vier, want hulle het die woorde verstaan wat aan hulle bekend gemaak is.
14Op die tweede dag het die familiehoofde van die hele volk, die priesters en die Leviete, by Esra, die skrifgeleerde, byeengekom om insig te kry in die woorde van die Wet. 15 Hulle ontdek toe, opgeteken in die Wet wat die Here by monde van Moses beveel het, dat die Israeliete in hutte moet woon tydens die fees in die sewende maand. 16Hulle moes dit bekend maak. Hulle moes 'n boodskap deur al hulle dorpe en Jerusalem stuur: “Gaan uit na die berge, en bring takke van olyfbome, wilde-olyfhoutbome, mirtebome, dadelpalms en die takke van welig groeiende bome, om hutte te maak, soos daar geskryf staan.”
17Die volk het toe uitgegaan, dit ingebring en vir hulleself hutte gemaak, elkeen op sy dak, in hulle binnehowe of in die voorhowe van die huis van God, en ook op die plein by die Waterpoort en die plein by die Efraimspoort. 18Die hele geloofsgemeenskap, dié wat teruggekeer het uit die ballingskap, het hutte gemaak en in die hutte gewoon. Ja, sedert die dae van Josua, seun van Nun, tot op daardie dag het die Israeliete dit nog nooit so gedoen nie. Daar was baie groot vreugde. 19Esra het dag vir dag, van die eerste tot die laaste dag toe, voorgelees uit die boekrol met die Wet van God. Hulle het sewe dae lank fees gevier, en op die agtste dag was daar volgens voorskrif 'n gewyde rusdag.

Currently Selected:

Nehemia 8: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

Videos for Nehemia 8