YouVersion Logo
Search Icon

Psalms 116

116
1 Ek het die Here lief,
want Hy luister na my stem,
my smeekgebed;
2ja, Hy draai sy oor na my,
en solank ek leef, sal ek Hom aanroep.
3 Bande van die dood het my omsluit;
angste van die •doderyk het my oorval;
benoudheid en bekommernis
het ek ervaar.
4Toe het ek die Naam
van die Here bly aanroep:
“Ag, Here, red tog my lewe!”
5Genadig is die Here en regverdig;
ons God is barmhartig.
6Die Here beskerm onkundiges;
ek is nietig, maar Hy het my verlos.
7Kom weer tot rus, my •siel,
want die Here het goed gedoen aan jou.
8Ja, U het my lewe
van die dood gered,
my oë van trane,
my voete van struikeling.
9Ek mag leef in die
teenwoordigheid van die Here,
in die land van die lewendes.
10 Ek het bly glo, selfs toe ek gesê het:
“Ek is swaar beproef.”
11 Ek is een wat in my angstigheid
gesê het:
“Alle mense is leuenaars.”
12Hoe kan ek die Here vergoed
vir al sy goeie dade aan my?
13Die beker van verlossing sal ek oplig
en die Naam van die Here aanroep.
14My geloftes aan die Here sal ek betaal,
daar voor sy hele volk.
15In die oë van die Here
is die dood van sy troue
volgelinge 'n duur verlies.
16Ag, Here, omdat ek u dienskneg is
– ja, ek is u dienskneg,
die seun van u diensmeisie –
het U my boeie losgemaak.
17Aan U sal ek •dankoffers bring
en die Naam van die Here aanroep.
18My geloftes aan die Here sal ek betaal,
daar voor sy hele volk,
19in die voorhowe van die huis
van die Here,
in jou midde, Jerusalem.
Halleluja!

Currently Selected:

Psalms 116: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

Videos for Psalms 116