YouVersion Logo
Search Icon

Sagaria 11

11
1 Maak oop jou deure, Libanon,
sodat vuur jou sederbome
kan verteer!
2Huil, sipres, want 'n seder het geval,
die magtige bome is verwoes!
Huil, eike van Basan,
want die digte bos is afgekap!
3Hoor die gehuil van die herders;
want hulle aansien is verwoes!
Hoor die gebrul van die jong leeus,
want die trots van die Jordaan
is verwoes!
Veroordeling van slegte leiers
4So sê die Here my God: “Pas die kleinvee op wat geslag gaan word! 5Hulle kopers maak hulle dood sonder om daarvoor te boet, en hulle verkopers sê, ‘Prys die Here, ek word ryk!’ Hulle herders het nie medelye met hulle nie. 6Ja, Ek sal nie langer medelye met die inwoners van die land hê nie,” is die uitspraak van die Here. “Kyk, Ek gaan die mense oorlewer, elkeen in die hand van sy medemens en van sy koning. Hulle sal die land vernietig en Ek sal niemand uit hulle hande red nie.”
7Ek het die kleinvee wat geslag gaan word, en aan die kleinveehandelaars behoort, opgepas. Ek het vir my twee herderstokke geneem; die een het ek Welwillendheid genoem en die ander een Samehorigheid. So het ek die kleinvee opgepas. 8Van drie herders het ek in een maand ontslae geraak. Ek het ongeduldig geraak met hulle; ook hulle het 'n afkeer in my gekry. 9Toe sê ek: “Ek gaan julle nie meer oppas nie. Laat dié wat sterf, maar sterf; laat dié wat wegraak, maar wegraak; en laat dié wat oorbly, mekaar verslind!” 10Ek het my herderstok, Welwillendheid, geneem en dit in stukke gebreek, om so die verbond wat ek met al die volke gesluit het, te verbreek. 11Dit is op daardie dag verbreek. Die kleinveehandelaars wat my dopgehou het, het toe besef dat dit die woord van die Here was. 12 Ek het toe vir hulle gesê: “As julle dit goedvind, gee dan my loon; maar indien nie, laat dit daar.” Hulle het my loon afgeweeg: dertig sikkel silwer.
13Toe sê die Here vir my: “Gooi dit vir die smelter! Dit is die kosbare prys waarmee Ek deur hulle na waarde geskat is.” Ek het die dertig sikkel silwer geneem en dit in die huis van die Here vir die smelter gegooi. 14Ek het my tweede herderstok, Samehorigheid, in stukke gebreek om die broederskap tussen Juda en Israel te verbreek.
15Daarop sê die Here vir my: “Neem weer die gereedskap van 'n dwase herder. 16 Want kyk, Ek gaan 'n herder in die land laat opstaan – dié wat wegraak, sal hy nie probeer opspoor nie, die jonges sal hy nie soek nie, dié met gebreekte bene nie gesond maak nie en dié wat uitgeput is, nie voer nie. Maar die vleis van die vet diere sal hy eet; selfs die hoewe sal hy afruk.
17 “Wee die nuttelose herder
wat die skape in die steek laat!
Mag die swaard sy arm
en sy regteroog tref!
Mag sy arm heeltemal verdor,
en sy regteroog heeltemal
blind word!”

Currently Selected:

Sagaria 11: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in