YouVersion Logo
Search Icon

Sagaria 14

14
Koms van die dag van die Here
1“Kyk, daar kom 'n dag van die Here! Jou buit, Jerusalem, sal in jou midde verdeel word. 2Ek sal al die nasies vir die oorlog teen Jerusalem byeenbring. Die stad sal ingeneem word, die huise geplunder en die vroue verkrag word. Die helfte van die stad sal in ballingskap weggaan, maar die res van die volk sal nie uit die stad uitgeroei word nie.”
3Daarna sal die Here optrek en teen daardie nasies oorlog voer soos wanneer Hy veg op die dag van stryd. 4Op daardie dag sal sy voete staan op die Olyfberg, wat voor Jerusalem aan die oostekant lê. Die Olyfberg sal middeldeur skeur van oos na wes, 'n baie groot vallei sal ontstaan. Die een helfte van die berg sal verskuif na die noorde en die ander helfte na die suide. 5 Julle sal vlug na die vallei tussen my berge, want die vallei tussen die berge sal tot by Asal strek. Julle sal vlug soos julle gevlug het vir die aardbewing in die dae van Ussia, die koning van Juda. Dan sal die Here my God kom en al die heiliges sal saam met Hom wees.
6Op daardie dag sal daar nie lig wees nie, ook nie koue of ryp nie. 7Dit sal 'n uitsonderlike tyd wees wat net aan die Here bekend is, sonder dag of nag. Teen die aand sal dit lig word.
8 In daardie tyd sal daar vars water uit Jerusalem vloei, die een helfte na die oostelike see en die ander helfte na die westelike see. In die somer en in die winter sal dit so wees. 9 Die Here sal koning word oor die hele aarde. In daardie tyd sal die Here die enigste wees, en sy Naam die enigste.
10Die hele land sal verander word soos die Araba vanaf Geba tot by Rimmon suid van Jerusalem. Jerusalem sal egter uittroon; sy sal gevestig wees op haar plek: van die Benjaminpoort tot by die plek van die vroeëre poort en tot by die Hoekpoort, en van die Gananeltoring tot by die koning se kuipe. 11 Hulle sal daar woon. Daar sal nie meer 'n volledige vernietiging wees nie; Jerusalem sal veilig gevestig wees.
12Dit sal die plaag wees waarmee die Here al die volke sal tref wat teen Jerusalem optrek: Hy sal hulle liggame laat verrot terwyl hulle nog op hulle voete is; hulle oë sal verrot in hulle oogkaste, en hulle tonge sal verrot in hulle monde.
13Op daardie dag sal die Here groot verwarring onder hulle veroorsaak. Hulle sal die een die ander se hand gryp en die een teen die ander die hand lig. 14Selfs Juda sal teen Jerusalem veg. Die rykdom van al die nasies rondom hulle sal bymekaargemaak word: baie groot hoeveelhede goud, silwer en klere. 15So sal dieselfde plaag die perde, muile, kamele, donkies en al die ander diere wat in hulle kampe is, tref. 16Almal wat oorbly uit al die nasies, wat opgeruk het om teen Jerusalem oorlog te maak, sal jaar ná jaar optrek om voor die Koning, die Here, Heerser oor alle magte, in aanbidding neer te buig en om die Huttefees te vier. 17En oor diegene onder die familiegroepe van die aarde wat nie optrek na Jerusalem om voor die Koning, die Here, Heerser oor alle magte, in aanbidding neer te buig nie, sal geen reën val nie. 18As die familiegroep uit Egipte nie optrek en na Jerusalem kom nie, sal daar oor hulle nie reën val nie. Dit sal die plaag wees waarmee die Here die nasies tref wat nie opgaan om die Huttefees te vier nie. 19Dit sal die straf wees vir Egipte en die straf vir al die nasies wat nie optrek om die Huttefees te vier nie.
20Op daardie dag sal op die klokkies van die perde staan “Heilig vir die Here”, en die kookpotte in die huis van die Here sal soos die offerbakke voor die altaar wees. 21Elke kookpot in Jerusalem en Juda sal heilig wees vir die Here, Heerser oor alle magte. Almal wat wil offer, sal kom en van die kookpotte neem en daarin kook. Daar sal op daardie dag nie meer 'n handelaar in die huis van die Here, Heerser oor alle magte, wees nie.

Currently Selected:

Sagaria 14: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in