I KORINTHIËRS 14
14
Die uitnemendheid van die gawe van profesie bo dié van die tale.
1JAAG die liefde na, en beywer julle met die oog op die geestelike gawes, maar veral om te profeteer.
2Want hy wat in 'n taal spreek, spreek nie tot mense nie, maar tot God; want niemand verstaan dit nie, maar deur die Gees spreek hy verborgenhede.
3Maar hy wat profeteer, spreek tot die mense woorde van stigting en troos en bemoediging.
4Hy wat in 'n taal spreek, stig homself; maar hy wat profeteer, stig die gemeente.
5Ek wens dat julle almal in tale spreek, maar nog liewer dat julle profeteer. Want hy wat profeteer, is groter as hy wat in tale spreek, of hy moet dit uitlê, sodat die gemeente stigting kan ontvang.
6Maar nou, broeders, as ek na julle kom en in tale spreek, tot watter nut sal ek vir julle wees as ek nie met julle spreek òf deur 'n openbaring, òf deur kennis, òf deur profesie, òf deur lering nie?
7Net soos met lewelose dinge wat 'n klank gee, 'n fluit of 'n siter, as hulle nie 'n onderskeid in toon laat hoor nie, hoe sal 'n mens weet wat op die fluit of siter gespeel word?
8Want as die basuin ook 'n onduidelike klank gee, wie sal klaarmaak vir die oorlog?
9Net so julle ook, as julle met die tong geen verstaanbare woord uitbring nie, hoe sal 'n mens weet wat gespreek word? Want julle sal wees soos mense wat in die wind praat.
10Daar is wie weet hoeveel soorte tale in die wêreld, en geeneen daarvan is sonder klank nie.
11As ek dan die betekenis van die klank nie ken nie, sal ek vir die spreker 'n vreemdeling wees, en die spreker sal vir my 'n vreemdeling wees.
12So moet julle ook, terwyl julle streef na geestelike gawes, probeer om uit te munt tot stigting van die gemeente.
13Daarom moet hy wat in 'n taal spreek, bid dat hy dit kan uitlê.
14Want as ek in 'n taal bid, dan bid my gees, maar my verstand is onvrugbaar.
15Hoe staan die saak dan? Ek sal met die gees bid, maar ek sal ook met die verstand bid. Ek sal met die gees psalmsing, maar ek sal ook met die verstand psalmsing.
16Anders, as jy met die gees dank, hoe sal hy wat die plek van 'n onkundige inneem, amen sê op jou danksegging, aangesien hy nie weet wat jy sê nie?
17Want jy dank wel goed, maar die ander een word nie gestig nie.
18Ek dank my God dat ek meer in tale spreek as julle almal;
19maar in die gemeente wil ek liewer vyf woorde met my verstand spreek om ook ander te onderrig, as tienduisend woorde in 'n taal.
20Broeders, moenie kinders wees in die verstand nie, maar wees kinders in die boosheid en wees volwassenes in die verstand.
21 In die wet is geskrywe: Ek sal deur mense van ander tale en deur ander lippe tot hierdie volk spreek, en ook so sal hulle na My nie luister nie, sê die Here.
22Die tale is dus 'n teken nie vir die gelowiges nie, maar vir die ongelowiges; die profesie egter is nie vir die ongelowiges nie, maar vir die gelowiges.
23As die hele gemeente dan saam vergader het en hulle sou almal in tale spreek en daar kom onkundiges of ongelowiges binne, sal hulle nie sê dat julle kranksinnig is nie?
24Maar as almal profeteer en daar 'n ongelowige of 'n onkundige binnekom, dan word hy deur almal oortuig, deur almal beoordeel;
25en so kom die geheime van sy hart aan die lig. En so sal hy op sy aangesig val, God aanbid, en verkondig dat God werklik onder julle is.
Die noodsaaklikheid van orde in die godsdiensoefeninge van die gemeente.
26HOE staan die saak dan, broeders? Wanneer julle saamkom, dan het elkeen van julle 'n psalm of 'n lering of 'n taal of 'n openbaring of 'n uitlegging — laat alles tot stigting geskied.
27En as iemand in 'n taal spreek, laat dit dan wees twee of hoogstens drie, en by beurte; en laat een dit uitlê.
28Maar as daar geen uitlêer is nie, laat hy in die gemeente swyg, en laat hy met homself en met God spreek.
29Laat twee of drie profete spreek en die ander dit beoordeel.
30Maar as daar iets geopenbaar is aan 'n ander wat daar sit, laat die eerste swyg.
31Want julle kan almal een vir een profeteer, sodat almal kan leer en almal bemoedig word.
32En die geeste van die profete is aan die profete onderworpe;
33want God is nie 'n God van wanorde nie, maar van vrede, soos in al die gemeentes van die heiliges.
34 Julle vroue moet in die gemeentes swyg; want dit is hulle nie toegelaat om te spreek nie, maar om onderdanig te wees, soos die wet ook sê.
35Maar as hulle iets wil leer, laat hulle tuis hul eie mans vra, want dit is lelik vir vroue om in die gemeente te spreek.
36Of het die woord van God van julle uitgegaan, of het dit tot julle alleen gekom?
37As iemand meen dat hy 'n profeet of 'n geestelike mens is, moet hy erken dat wat ek aan julle skrywe, bevele van die Here is.
38Maar as iemand onkundig is, laat hom onkundig bly.
39Daarom, broeders, beywer julle om te profeteer en moenie verhinder dat daar in tale gespreek word nie.
40Laat alles welvoeglik en ordelik toegaan.
Currently Selected:
I KORINTHIËRS 14: AFR53
Highlight
Share
Copy
Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1933, 1953. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.