YouVersion Logo
Search Icon

II KRONIEKE 23

23
1MAAR in die sewende jaar het Jójada moed geskep en saam met hom in 'n verbond geneem die owerstes oor honderd: Asárja, die seun van Jeróham, en Ismael, die seun van Jóhanan, en Asárja, die seun van Obed, en Maäséja, die seun van Adája, en Elisáfat, die seun van Sigri.
2En hulle het in Juda rondgetrek en die Leviete vergader uit al die stede van Juda, en die familiehoofde van Israel; en hulle het na Jerusalem gekom.
3En die hele vergadering het in die huis van God met die koning 'n verbond gesluit. Toe sê hy vir hulle: Kyk, die seun van die koning moet koning wees soos die Here oor die seuns van Dawid gespreek het.
4Dit moet julle doen: 'n derde deel van julle wat op die sabbat inkom — van die priesters en Leviete — moet drumpelwagters wees;
5en 'n derde deel by die huis van die koning, en 'n derde deel by die Fondamentpoort, en die hele volk in die voorhowe van die huis van die Here.
6Maar niemand mag in die huis van die Here ingaan nie, behalwe die priesters en diensdoende Leviete; húlle mag ingaan, want hulle is heilig; maar die hele volk moet die verordening van die Here hou.
7En die Leviete moet rondom die koning gaan staan, elkeen met sy wapens in sy hand, en hy wat in die huis ingaan, moet gedood word, en julle moet by die koning wees as hy in- en as hy uitgaan.
8En die Leviete en die hele Juda het gedoen net soos die priester Jójada beveel het: elkeen het sy manne geneem wat op die sabbat inkom saam met die wat op die sabbat uitgaan; want die priester Jójada het die afdelings nie ontslaan nie.
9En die priester Jójada het aan die owerstes oor honderd die spiese en die klein skilde gegee en die skilde van koning Dawid wat in die huis van God was;
10en hy het al die manskappe opgestel — elkeen met sy wapen in sy hand, van die regterkant van die huis af tot by die linkerkant van die huis, na die altaar en na die huis toe, by die koning rondom.
11Daarna het hulle die seun van die koning uitgebring en aan hom die kroon en die Getuienis oorgegee; en hulle het hom koning gemaak; en Jójada en sy seuns het hom gesalf en gesê: Mag die koning lewe!
12En toe Atália die stem van die mense hoor wat toestroom en die koning toejuig, het sy na die volk in die huis van die Here gekom;
13en toe sy die koning sien staan op sy verhoog by die ingang en die owerstes en die trompetblasers by die koning en dat die hele volk van die land bly is en op die trompette blaas, en die sangers met die musiekinstrumente, terwyl hulle die teken gee om lof te sing, skeur Atália haar klere en roep uit: Verraad, verraad!
14Maar die priester Jójada het die owerstes oor honderd, die aanvoerders van die leër, uitgebring en aan hulle gesê: Neem haar weg tussen die rye deur; en die wat agter haar aankom, moet met die swaard gedood word; want die priester het gesê: Julle mag haar nie in die huis van die Here doodmaak nie.
15En hulle het die hande aan haar geslaan, en sy het by die ingang van die Perdepoort in die huis van die koning gekom, en daar het hulle haar gedood.
16En Jójada het 'n verbond gesluit tussen homself en die hele volk en die koning, dat hulle 'n volk van die Here sou wees.
17Daarna het die hele volk in die tempel van Baäl ingegaan en dit afgebreek en sy altare en sy beelde stukkend geslaan, en Mattan, die priester van Baäl, voor die altare gedood.
18Verder het Jójada wagte aangestel in die huis van die Here onder leiding van die Levitiese priesters wat Dawid ingedeel het vir die huis van die Here om die brandoffers van die Here te bring, soos geskrywe is in die wet van Moses, met blydskap en gesang volgens die instelling van Dawid.
19En hy het die poortwagters aangestel by die poorte van die huis van die Here, sodat niemand kon inkom wat in enige opsig onrein was nie.
20En hy het die owerstes oor honderd geneem en die vername manne en die wat oor die volk geheers het, en die hele volk van die land, en hy het die koning uit die huis van die Here afgebring; en hulle het deur die Boonste Poort in die huis van die koning gekom en die koning op die koningstroon laat sit.
21En die hele volk van die land was bly, en die stad was rustig. Maar hulle het Atália met die swaard gedood.

Currently Selected:

II KRONIEKE 23: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

Videos for II KRONIEKE 23