YouVersion Logo
Search Icon

JOB 9

9
Hoe kan 'n mens by God regverdig wees? vra Job. Die hele natuur wys aan dat Hy onverstaanbaar is en ook geen rekenskap gee van sy dade nie.
1MAAR Job het geantwoord en gesê:
2Waarlik, ek weet dat dit so is; en hoe kan 'n mens regverdig wees by God?
3As hy sou begeer om met Hom te twis, nie een uit duisend sal hy Hom kan antwoord nie.
4 Hy is wys van hart en sterk van krag; wie was hardnekkig teen Hom en het ongestraf gebly?
5Hy wat berge versit sonder dat hulle dit merk; wat hulle omkeer in sy toorn;
6wat die aarde laat sidder uit sy plek, sodat sy pilare dril;
7wat bevel gee aan die son, en hy gaan nie op nie, en die sterre agter 'n seël wegsluit;
8wat alleen die hemel uitspan en stap op die golwe van die see;
9wat die Beer gemaak het, die Oríon en die Sewe-ster en die Kamers van die Suide;
10wat groot, ondeurgrondelike dinge doen en wonders sonder getal.
11Gaan Hy by my langs, dan sien ek Hom nie, en Hy skuif verby sonder dat ek Hom bemerk.
12Sleep Hy weg — wie sal Hom teëhou? Wie vir Hom sê: Wat maak U?
13God wend sy toorn nie af nie; onder Hom moet die helpers van Rahab kruip.
Daarom sal niemand, hoe onskuldig ook, voor God vrygepleit word nie.
14HOEVEEL minder sal ék Hom kan antwoord, sal ek my woorde kan kies teenoor Hom;
15 Hom wat ek nie kan antwoord nie, al was ek regverdig: ek kan my regter net om genade smeek!
16As ek dagvaar en Hy my antwoord, glo ek nie dat Hy na my stem sal luister nie.
17Hy wat my deur 'n stormwind sou vernietig en my wonde sonder oorsaak sou vermeerder;
18my nie sou toelaat om asem te skep nie, maar my sou versadig met bitterhede.
19Kom dit aan op die krag van die sterkste — hier is Ek! En kom dit op reg aan — wie kan My dagvaar?
20Al was ek regverdig, my eie mond sou my veroordeel; al was ek onskuldig, Hy sou my as 'n verkeerde reken.
21Vroom is ek! Ek gee niks om myself nie: ek verfoei my lewe!
Onreg het oral op aarde die oorhand, sê Job; ook in sy geval.
22DIT is net eenders — daarom sê ek: Die vrome en die goddelose vernietig Hy.
23As die gésel skielik doodmaak, spot Hy met die vertwyfeling van die onskuldiges.
24Die aarde is aan die mag van die goddelose oorgelewer, die gesig van die regters bind Hy toe. Is dit nie Hy nie, wie dan anders?
25Ja, my dae was gouer as 'n hardloper; hulle het weggevlug sonder om voorspoed te sien.
26Hulle het verbygegly soos skepe van biesies, soos 'n arend wat neerskiet op sy prooi.
27 As ek sê: Ek wil my geklaag vergeet, my droewige gesig laat vaar en vrolik word,
28dan is ek al bang vir al my smarte: ek weet dat U my nie sal vryspreek nie.
29Ek sal tog skuldig wees — waarom sal ek my dan tevergeefs afmat?
30Al was ek my met sneeu en reinig ek my hande met loog,
31dan sou U my in 'n poel indompel, sodat my klere van my 'n afsku kry.
32Want Hy is nie 'n man soos ek, dat ek Hom sou kan antwoord, dat ons saam na die gereg sou kan gaan nie.
33Daar is geen skeidsregter tussen ons wat sy hand op ons twee kan lê nie.
34 Laat Hy sy roede van my wegneem, en laat sy verskrikking my nie beangstig nie;
35dan wil ek spreek sonder dat ek vir Hom bevrees is; want só is dit met my nie gesteld nie.

Currently Selected:

JOB 9: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in