1 Kronieke 20
20
Die tweede Ammonitiese veldtog
1Die volgende lente, in die tyd toe die konings gewoonlik oorlog gaan maak het, het Joab die leër van Israel na Ammon toe gelei. Hulle het die land geplunder en uiteindelik die hoofstad, Rabba, ingeneem. Dawid het egter in Jerusalem agtergebly.
2Toe Dawid in Rabba aankom, het hy die Ammonitiese koning se kroon van sy kop afgehaal en op sy eie kop gesit. Die kroon was van goud, met ’n waardevolle edelsteen daarin. Dit het omtrent 34 kilogram geweeg. Hulle het ’n baie groot klomp skatte uit die stad weggedra 3en van die inwoners slawe gemaak wat met saag, pik en byl vir hom moes werk. Dit het hy met die inwoners van al die Ammonitiese dorpe gedoen.
Daarna het Dawid en al sy mense teruggegaan Jerusalem toe.
Oorloë teen die Filistyne
4Hierna het daar oorlog teen die Filistyne in Geser uitgebreek. Sibbekai die Gusatiet het vir Sippai, ’n Refaïet, verslaan en die Filistyne is ook onderwerp.
5In nog ’n geveg teen die Filistyne het Elganan, Jaïr se seun, vir Lagmi, Goliat se broer uit Gat, verslaan. Lagmi se spies se steel was so dik soos ’n weefstoel se dwarsbalk.
6Daar was weer ’n geveg in Gat. Een van die vegters was ’n Refaïet van geboorte. Hy was groot en het ses vingers aan elke hand en ses tone aan elke voet gehad, altesaam 24. 7Hy het die Israeliete getart, maar Jonatan, die seun van Dawid se broer Simea, het hom doodgemaak.
8Hulle was almal Refaïete van Gat wat deur Dawid en sy manskappe doodgemaak is.
Currently Selected:
1 Kronieke 20: DB
Highlight
Share
Copy
Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in
2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.