1 Konings 1
1
1Koning Dawid was nou al ’n baie ou man. Hulle het hom met komberse toegemaak, maar dit kon hom nie warm maak nie. 2Ten einde raad het Dawid se mense gesê: “U Majesteit, laat ons vir u ’n jongmeisie kry wat by u kan bly en wat vir u kan sorg. Sy kan ook langs u lê en u probeer warm maak.”
3Dawid het ingestem en hulle het oral na ’n mooi jongmeisie gesoek. Uiteindelik het hulle in Sunem se omgewing die regte een gekry. Haar naam was Abisag en hulle het haar reguit na die koning toe gevat. 4Sy was werklik baie mooi. Sy het Dawid met alles gehelp en hom goed versorg. Hulle het egter nie seks gehad nie.
5Na Absalom se dood was Adonia die oudste seun. Adonia is net na Absalom gebore. Hy was Dawid en Gaggit se kind en ’n baie aantreklike jongman.
6Sy pa het egter nooit met hom geraas nie en hy het gedoen net wat hy wou. Adonia was ’n mooi jongman, maar baie ambisieus; hy wou graag koning word. Hy het toe vir hom ’n klomp strydwaens, perde en 50 lyfwagte gekry. 7Hy het stilletjies met Joab, die seun van Seruja, en met Abjatar die priester gekonkel en hulle het beloof om hom te steun. 8Sadok, die ander priester, Benaja, die seun van Jojada, Natan die profeet, asook Simeï, Reï en al Dawid se lyfwagte het botweg geweier om Adonia te ondersteun.
9’n Paar dae later het Adonia ’n klomp skape, beeste en vetgemaakte kalwers gevat en dit by die Sogeletrots naby die Rogelfontein gaan offer. Hy het toe die ander seuns van Dawid asook van sy amptenare wat van Judese afkoms was, na die feesmaal genooi. 10Adonia het egter nie sy halfbroer Salomo of die profeet Natan of Benaja of enigiemand van die koning se lyfwagte genooi nie.
11Natan was baie ontsteld hieroor en het na Batseba, Salomo se ma, gegaan en haar gevra: “Het u gehoor dat Adonia die seun van Gaggit homself koning gemaak het? 12Indien u u eie lewe en dié van Salomo wil spaar, 13moet u onmiddellik na die koning toe gaan en vir hom vra: ‘U Majesteit, het u my nie lank gelede al beloof dat my seun Salomo na u koning sal word nie? As dit so is, waarom het Adonia dan vandag koning geword?”’
14Natan het egter iets belangriks bygevoeg: “Terwyl u nog met die koning praat, sal ek binnekom en dieselfde dinge vir die koning sê.”
15Batseba is toe na die koning se kamer toe. Hy was baie oud en Abisag, die vrou uit Sunem, het hom verpleeg. 16Batseba het laag voor hom gebuig en Dawid het vir haar gevra: “Wat kan ek vir jou doen?”
17Batseba sê toe: “U Majesteit, lank gelede het u my in die Naam van die Here u God beloof dat my seun Salomo na u koning sou word. 18Vandag het Adonia egter koning geword. Niemand het u nog daarvan vertel nie. 19Hy het baie beeste, skape en vetgemaakte kalwers geoffer en al u seuns genooi. Abjatar die priester, en Joab, die hoof van u leër, was ook daar. Adonia het u seun Salomo egter nie genooi nie. 20U Majesteit, die hele Israel wag op u. U moet nou sê wie na u koning moet word. 21As u niks gaan sê nie, sal Adonia vir my en Salomo na u dood soos verraaiers behandel.”
22Batseba was nog aan die praat toe Natan daar aankom. 23Hulle het vir die koning gesê die profeet is daar en Dawid het gesê hy moet inkom. Natan het die kamer binnegegaan en laag voor die koning gebuig.
24Natan het gevra: “U Majesteit, is dit u wat gesê het dat Adonia in u plek moet koning word? 25Adonia het vandag ’n groot klomp beeste, skape en vetgemaakte kalwers by die Sogeletrots gaan offer. Hy het al u seuns soontoe genooi en die leërhoofde en Abjatar die priester was ook daar. Op hierdie oomblik vier hulle fees en kort-kort skree die mense: ‘Lank lewe koning Adonia.’ 26Maar, U Majesteit, hy het nie een van ons genooi nie. Nie vir my nie, ook nie vir Sadok, die ander priester nie en ook nie vir Benaja nie. Selfs Salomo is nie eens genooi nie. 27Is dit reg wat Adonia gedoen het, U Majesteit? Moet hy u opvolg? Het u alles so beplan sonder om ons daarvan te vertel?”
Dawid kies Salomo as sy opvolger
28Koning Dawid het geantwoord: “Gaan roep vir Batseba! Sê sy moet onmiddellik hierheen kom!” Batseba het teruggekom en voor die koning gaan staan.
29Toe het hy vir haar gesê: “Ek belowe voor die lewende Here, die God wat my uit soveel moeilikhede en probleme gehelp het, 30dat ek vandag my belofte sal nakom wat ek lank gelede in die Naam van die Here, die God van Israel, aan jou gemaak het. Jou seun Salomo sal inderdaad koning word wanneer ek nie meer daar is nie.”
31Batseba was oorstelp van vreugde. Sy het laag gebuig en gesê: “Mag koning Dawid vir altyd in die herinnering van sy mense voortleef.”
32Toe het Dawid vir Sadok, Natan en Benaja laat kom en vir hulle gesê: 33“Vat nou al my lyfwagte en dan laat julle my seun Salomo op my eie muil klim. Gaan julle dan almal saam met hom na die Gihonfontein toe. 34Laat Sadok die priester, en Natan die profeet hom daar voor almal as koning van Israel salf. Laat die trompette klink en die mense skree: ‘Lank lewe koning Salomo!’ 35Gaan dan saam met hom terug en laat hom op my troon sit. Ja, laat hom daar sit, want hy is die een wat na my sal regeer. Ek het hóm gekies om oor Israel en Juda te regeer.”
36“Ons sal so maak,” het Benaja geantwoord. “En mag die Here, u God, ons help dat alles goed sal verloop. 37En soos die Here by u was, mag Hy ook by Salomo wees. Mag Salomo se koningskap selfs voorspoediger wees as dié van Dawid.”
38Sadok, Natan, Benaja, asook die koning se lyfwagte het Salomo op koning Dawid se muil gesit en is saam met hom Gihonfontein toe. 39Sadok het ’n houer met olie uit die tent waar die Here altyd teenwoordig was, saamgeneem. En hy het Salomo gesalf. Toe het hulle die trompette begin blaas en geskree: “Lank lewe koning Salomo.”
40Almal is toe saam met Salomo terug. Hulle was uitbundig bly en het vrolik op hulle fluite gespeel. Van al die geraas het die aarde eintlik gebewe.
Salomo spaar Adonia se lewe
41’n Entjie daarvandaan het Adonia en sy gaste net klaar geëet en gedrink toe hulle skielik die geraas gehoor. Joab het die trompette veraf gehoor en gesê: “Waarom raas die mense so in die stad?”
42Joab het skaars klaar gepraat of Jonatan die seun van die priester Abjatar kom daar aangestap. “Kom binne, Jonatan,” het Adonia gesê. “Jy is ’n goeie mens en ek weet jy bring vir ons goeie nuus.”
43“Ongelukkig nie,” het Jonatan geantwoord. “Koning Dawid het sy seun Salomo pas koning gemaak. 44Hy het Sadok, Natan, Benaja en die koninklike lyfwag na Salomo toe gestuur. Hulle het hom op die koning se muil gesit. 45By die Gihonfontein het Sadok en Natan hom as koning gesalf. Daarna is hulle terug stad toe terwyl die volk vrolik gesing en gedans het. Tans is die stad die ene uitbundigheid. Dit is die geraas wat julle nou daar hoor. 46Salomo het selfs op die koning se troon gaan sit. 47Maar iets ergers het nog gebeur. Al die koning se amptenare is na koning Dawid toe om hom met sy seun geluk te wens. Almal het gesê hulle hoop dat God vir Salomo beroemder en voorspoediger as Dawid sal maak. 48Die koning het by sy bed gekniel en gesê: ‘Kom ons loof die Here, die God van Israel, wat vandag een van my eie kinders koning laat word het. Loof die Here dat elkeen van ons dit met ons oë kon sien.’”
49’n Groot angs het Adonia en sy gaste beetgepak. Almal het vinnig opgespring en is daar weg. Elkeen het sy eie koers ingeslaan. 50Adonia was benoud en baie bang dat Salomo hom sou kry. Hy het toe sommer reguit na die tent waar die Here teenwoordig was, gehardloop en aan die hoeke van die altaar gaan vashou. 51Hulle het vir Salomo vertel dat Adonia bang is vir hom en krampagtig aan die hoeke van die altaar vasklou terwyl hy aanmekaar sê: “Ek los nie voordat koning Salomo gesweer het hy sal my nie doodmaak nie.”
52Salomo het geantwoord: “Laat hom tog maar gaan. En sê vir hom as hy aan die koning getrou is, sal daar nie eens ’n haar van sy kop afval nie. As hy egter verkeerd doen, sterf hy onmiddellik.”
53Koning Salomo het manne gestuur om Adonia by die altaar te haal en hom van die koning se besluit te vertel. Adonia is toe reguit na die koning toe en het laag voor hom gebuig. Salomo het vir hom gesê: “Jy kan maar huis toe gaan.”
Currently Selected:
1 Konings 1: DB
Highlight
Share
Copy
Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in
2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.