1 Konings 17
17
Elia kondig droogte aan
1Toe het Elia, ’n profeet uit Tisbe in Gilead, vir koning Agab gesê: “So seker as wat die Here, die God van Israel wat ek dien, leef, so seker sal daar geen dou of reën in die volgende jaar of wat val sonder dat ek so sê nie.”
2Die Here het vir Elia gesê: 3“Gaan weg van hierdie plek af en loop ooswaarts totdat jy by die Kritspruit, oos van die Jordaan, kom en kruip dan daar vir ’n ruk weg. 4Jy kan uit die spruit water drink, terwyl die kraaie elke dag vir jou op my bevel kos sal bring.”
5Elia het na die Here geluister en na die Kritspruit aan die Oos-Jordaan gestap. 6Elke oggend en elke aand het die kraaie vir hom brood en vleis gebring. Elia het die water van die spruit gedrink. 7Na ’n ruk het die spruit opgedroog, want dit het nog nie gereën nie.
8Toe het die Here vir hom gesê: 9“Gaan na Sarfat toe, naby Sidon. Bly ’n rukkie daar. In Sarfat sal ’n weduwee elke dag vir jou sorg.”
Elia maak ’n weduwee se seun lewendig
10Elia is toe na Sarfat toe. Net toe hy die stad binnekom, sien hy ’n weduwee wat hout kap. Hy het haar nader geroep en gesê: “Gaan haal asseblief vir my ’n bietjie water.”
11Terwyl sy wegstap, het Elia bygevoeg: “En sommer ook ’n stukkie brood, asseblief.”
12Maar die vrou het geantwoord: “Meneer, ek sweer voor God dat ek niks brood het nie. Daar is nog net ’n bietjie meel in die blik en ’n paar druppels olie in die kan. Ek het hierheen gekom om ’n paar stukkies hout vir ’n vuurtjie te kap sodat ek vir my en my seun ’n laaste stukkie brood kan maak. As dit klaar is, is daar niks meer nie. Dan moet ons maar op die dood wag.”
13“Moenie bekommerd wees nie,” het Elia gesê. “Gaan bak maar die brood en as dit klaar is, bring eers vir my ’n klein stukkie. Jy en jou seun kan dan die res kry. 14Moenie bang wees nie, want die Here het vir my gesê dat jou meelblik en jou oliekan nie sal leeg word nie totdat Hy weer reën gestuur het.”
15Die weduwee het gedoen soos Elia gesê het. Daar was elke dag oorgenoeg kos vir hulle al drie. 16Soos die Here belowe het, was die meelblik nooit leeg nie en was daar altyd olie in die kan.
17Na ’n ruk het die weduwee se seun baie siek geword. Sy koors het erger geword en later is hy dood. 18“Meneer, wat het u my aangedoen?” het die vrou gesê. “Ek het u in my huis ingenooi, maar toe het u vir God van al my sondes vertel; daarom is my kind dood.”
19“Gee die kind vir my,” het Elia gesê. Toe het Elia die kind van haar skoot af opgetel, hom na sy kamer op die boonste verdieping gedra en op sy bed neergelê. 20Elia het gekniel en toe hardop gebid: “Here my God, waarom het U dit laat gebeur? Hierdie vrou was baie goed vir my. Sy het nog elke dag vir my gesorg. Waarom het U haar kind laat sterf?”
21Elia het toe drie keer op die kind gaan lê en gebid: “Here my God, ek smeek U, laat die kind tog leef.”
22Die Here het toe Elia se gebed verhoor en die kind het weer begin leef. 23Elia het die kind aan die hand gevat en hulle is met die trap af tot by die weduwee. Elia het vir haar gesê: “Mevrou, hier is jou kind. Hy leef.”
24“Nou weet ek dat die Here u gestuur het en dat Hy deur u praat,” het die weduwee gesê.
Currently Selected:
1 Konings 17: DB
Highlight
Share
Copy
Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in
2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.