1 Samuel 5
5
Die verbondsark by die Filistyne
1Die Filistyne het die ark van God van Eben-Haeser af Asdod toe gevat. 2Daar het hulle die ark in die tempel van hulle god Dagon ingevat en dit langs die beeld van Dagon neergesit.
3Vroeg die volgende dag, toe die mense van Asdod daar kom, sien hulle Dagon het plat op sy gesig geval voor die ark van die Here. Hulle het Dagon opgetel en hom weer regop op sy plek gesit. 4Maar vroeg die môre daarna lê Dagon wéér plat op sy gesig voor die ark van die Here. Sy kop en hande het afgebreek en het in die deur van die tempel gelê. Net Dagon se lyf was nog heel. 5Daarom trap die priesters van Dagon en almal wat na sy tempel in Asdod toe gaan, tot vandag toe nie op die drumpel van daardie deur nie.
6Die Here het die mense van Asdod en die hele omgewing laat les opsê en hulle vol swere gemaak. 7Toe die mense van Asdod sien wat gebeur, sê hulle: “Die ark van die God van Israel mag nie hier by ons bly nie, want die hand van hierdie God is hard teen ons en ons god Dagon.”
8Hulle roep toe die vyf regeerders van die Filistynse stadstate in Asdod bymekaar en vra: “Wat moet ons doen met die ark van die God van Israel?”
Die regeerders sê toe: “Stuur die ark Gat toe.”
Hulle vat toe die ark soontoe. 9Maar toe die ark daar aankom, was daar groot moeilikheid op die dorp. Die Here het hulle hard geslaan en al die dorp se mense, groot en klein, vol swere gemaak.
10Daarop stuur hulle die ark van God Ekron toe. Toe die ark dáár aankom, skree die mense van Ekron: “Hulle het die ark van die God van Israel na ons toe gebring! Hulle wil ons en ons mense almal dood hê!”
11Hulle roep toe weer die vyf regeerders van die Filistynse stadstate bymekaar en sê vir hulle: “Stuur tog die ark van die God van Israel na sy plek toe terug, anders is ons en ons mense almal dood.” Die mense van die dorp het verskriklik bang geword, want die Here het die plek laat swaarkry. 12Die mense wat nog nie dood was nie, was vol swere. Jy kon die gekerm van die dorp se mense kilometers ver hoor.
Currently Selected:
1 Samuel 5: DB
Highlight
Share
Copy
Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in
2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.