YouVersion Logo
Search Icon

1 Timoteus 2

2
Bid vir ander
1Die eerste ding wat ek vra, is dat julle vir almal moet bid. Vra dat God almal moet help met wat hulle nodig het en sê vir God dankie daarvoor.
2Dit maak nie saak of dit die belangrikste persoon in die regering is en of dit sommer ’n gewone polisieman is nie, bid vir elkeen wat moet sorg dat alles goed gaan in die gemeenskap. Julle sal die vrugte daarvan pluk, want julle sal dan in rus en vrede julle gang kan gaan en kan leef soos God wil hê julle moet leef. 3So hoort dit en so hou God, wat ons gered het, daarvan. 4God wil hê alle mense moet na Hom toe kom en by Hom leer wat waar is.
5Daar is mos net een God en daar is net een Mens wat ons kan help om by God uit te kom, en dit is Christus Jesus. 6Hy het die prys betaal wat nodig was sodat ons saak met God weer reg kon wees; ja, Hy het Homself daarvoor gegee. Op die regte tyd het Hy gewys dat God mense graag by Hom wil hê.
7Juis daarom het God my aangestel om vir al die mense wat nog nie van Hom gehoor het nie, die waarheid te gaan vertel oor sy Seun Jesus sodat hulle ook in Hom kan glo. Julle kan dit gerus maar glo, want ek sal nie vir julle lieg nie.
Ken julle plek
8As julle saambid, wil ek hê dat julle met oorgawe moet bid. Verwag ook dat die Here julle gebede sal beantwoord, mits julle nie kwaad is vir mekaar of oor alles stry en baklei nie.
9Vroue moet ook ordentlik aantrek sodat hulle nie die verkeerde boodskap vir ander mans gee en so hulle eie man in die verleentheid bring nie. Hulle moet so aantrek dat God en hulle man tevrede sal wees. 10Vroue wat geen geheim daarvan maak dat hulle die Here dien nie, moet hulle lewe eerder versier met al die goeie dinge wat hulle vir ander mense doen. Dit maak hulle baie mooier as wat duur klere of mooi juwele dit ooit kan doen. 11’n Vrou moet ook nie voor op die wa wees en iets anders wil wees as wat sy is nie. Sy moet in stilte gewillig wees om te leer. 12Ek wil nie hê dat vroue die mans se werk moet doen terwyl hulle besig is om die gemeente te leer nie. Hulle moenie probeer baasspeel oor die mans nie, maar eerder stil sit en luister. 13God het Adam eerste gemaak en daarna vir Eva. 14Satan het ook nie vir Adam in die strik ingelok nie, maar vir Eva. Hy het haar uitgevang en sy het toe iets gedoen waarvan God niks gehou het nie. 15Gelukkig vir haar vergoed sy weer daarvoor deur kinders te hê, mits sy natuurlik op God bly vertrou. Sy moet God ook liefhê en net vir Hom lewe.

Currently Selected:

1 Timoteus 2: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in