YouVersion Logo
Search Icon

2 Kronieke 15

15
Asa se godsdienstige hervormings
1God se Gees het Asarja, Oded se seun, beetgepak. 2Hy het uitgegaan om vir koning Asa te ontmoet toe hulle van die geveg af terugkom. Hy het gesê: “Luister na my, Asa! Luister, julle mense van Juda en Benjamin! Die Here sal by julle wees, solank julle by Hom bly. Wanneer julle Hom soek, sal Hy toelaat dat julle Hom vind. Maar as julle van Hom af weggaan, sal Hy van julle af weggaan. 3Israel was vir ’n lang ruk sonder God en ook sonder ’n priester om hulle van God te leer én sonder sy wet. 4Maar in moeilike tye, as julle by Israel se God, die Here, hulp gaan soek het, het Hy elke keer gehelp. 5In sulke tye was niemand veilig nie. Daar was groot onrus in al die lande: 6die een nasie het teen die ander geveg en stede teen mekaar, want God het hulle met verwarring geteister. 7Vertrou op die Here. Moenie moedeloos word nie. Julle sal vir julle werk beloon word.”
8Toe Asa die boodskap van die profeet hoor, het hy moed geskep. Hy het die afgode uit al die dorpe van Juda en Benjamin verwyder, ook dié wat in die dorpe in die Efraimsberge was wat hy verower het. Hy het ook die altaar van die Here herstel wat by die tempel gestaan het.
9Asa het toe al die mense van Juda en Benjamin, asook die groot groep uit Efraim en Manasse en Simeon wat tussen hulle kom bly het, bymekaargeroep. Baie mense het tydens Asa se regering na Juda toe getrek omdat hulle kon sien dat die Here, sy God, hom ondersteun het. 10Hulle het in die derde maand van die vyftiende jaar waarin Asa regeer het, in Jerusalem bymekaargekom. 11Dié dag het hulle baie van die diere wat hulle in die oorlog afgevat het, vir die Here geslag. Hulle het 700 beeste en 7 000 skape en bokke geoffer. 12Daarna het hulle ’n ooreenkoms met mekaar gesluit dat hulle die Here, die God van hulle voorouers, met alles in hulle vermoë sou dien. 13Hulle het besluit om enigiemand, oud of jonk, man of vrou, wat dit nie wou doen nie, dood te maak. 14Hulle het hulle belofte aan die Here met vreugde uitgeskree terwyl hulle hard op die trompette en ramshorings blaas. 15Al die mense van Juda was bly oor die belofte wat hulle gemaak het, want hulle het dit regtig bedoel. Hulle wou graag doen wat die Here van hulle verwag het en die Here het hulle gehelp. Hy het toe vir hulle vrede met al die volke rondom hulle gegee.
16Asa het selfs sy ouma Maäka as koningin-moeder afgesit omdat sy ’n vieslike pilaar ter ere van Asjera gemaak het. Asa het die ding afgekap, in stukke gebreek en toe in die Kidronvallei gaan verbrand.
17Al is die plekke waar ander gode gedien is, nie almal uit Israel verwyder nie, was Asa sy lewe lank uiters getrou aan die Here. 18Hy het die goue en silwervoorwerpe wat hy en sy pa spesiaal vir die Here bymekaargemaak het, in die tempel gaan sit.
19Tot in die 35ste jaar waarin Asa regeer het, was daar nie weer oorlog nie.

Currently Selected:

2 Kronieke 15: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

Videos for 2 Kronieke 15