YouVersion Logo
Search Icon

2 Kronieke 23

23
Die opstand teen Atalia
1In Atalia se sewende regeringsjaar het Jojada ’n paar militêre offisiere in sy vertroue geneem. Hy het ’n ooreenkoms met hulle aangegaan. Hulle was Asarja, Jerogam se seun; Ismael, Joganan se seun; Asarja, Obed se seun; Maäseja, Adaja se seun en Elisafat, Sikri se seun. 2Hulle het deur die hele Juda gereis en die Leviete in die Judese stede en die Israelitiese familiehoofde opgeroep om in Jerusalem bymekaar te kom. 3Hulle almal het toe in die tempel van God vergader en ’n ooreenkoms met Joas, die jong koning, aangegaan.
Jojada het vir hulle gesê: “Dis tyd dat die koning se seun ons regeer. Die Here het belowe dat ’n seun uit Dawid se nageslag altyd ons koning sal wees. 4Hier is die plan: van die priesters en Leviete wat op die sabbat aan diens kom, moet ’n derde die ingange bewaak, 5’n derde die paleis en ’n derde die Fondamentpoort. Al die ander mense moet in die tempel se voorhof bymekaarkom. 6Niemand behalwe die priesters en Leviete wat in die tempel moet gaan werk, mag in die tempel ingaan nie. Net die mense wat in die tempel moet gaan werk, mag daar ingaan. Al die ander moet buite bly. 7Julle Leviete moet ’n lyfwag rondom die koning vorm. Hou julle wapens gereed en maak enigiemand dood wat ongemagtig in die tempel inkom. Bly die hele tyd by die koning en pas hom op.”
8Die Leviete en die ander Judeërs het Jojada se bevele presies uitgevoer. Elke leier het ’n dubbele diensgroep gehad, naamlik dié wat aan diens gekom het, maar ook dié wie se diensbeurt verby was, want Jojada het hulle nie laat huis toe gaan na hulle klaar gewerk het nie. 9Jojada het toe vir die offisiere van die spiese en skilde gegee wat Dawid vroeër in die tempel laat stoor het. 10Hy het die gewapende wagte rondom die koning opgestel. Hulle het ’n ry gevorm van die suidelike hoek van die tempel tot by die noordelike hoek en reg rondom die altaar.
11Jojada en sy seuns het toe vir Joas, die koning se seun, uitgebring en hom koning gemaak. Hulle het ’n kroon op sy kop gesit, die koninklike volmag in sy hand gesit en hom gesalf deur olie op hom uit te giet. Daarna het almal geskree: “Lank lewe die koning!”
Atalia word doodgemaak
12Atalia het die lawaai by die tempel gehoor van die mense wat die koning toejuig en uitgegaan om te kyk wat daar gebeur. 13Sy sien toe dat die koning op sy koninklike verhoog by die ingang van die tempel staan. Die militêre offisiere en die trompetblasers het langs hom gestaan. Terwyl die mense uitbundig juig en trompette blaas, het die sangers musiek gemaak en lofliedere gesing. Atalia het geweet wat dit beteken. Sy het ontsteld haar klere geskeur en geskree: “Verraad! Verraad!”
14Jojada het vir die offisiere gesê: “Vang haar en vat haar weg. Enigiemand wat aan haar kant is, moet julle doodmaak. Onthou net, julle mag haar nie in die tempel van die Here doodmaak nie!” 15Hulle het haar toe gegryp en weggevat. Toe hulle by die Perdepoort van die paleis kom, het hulle haar daar doodgemaak.
Jojada se godsdienstige hervormings
16Jojada het daarna ’n ooreenkoms met die volk en die koning gesluit dat hulle almal saam die Here se volk sou wees. 17Daarna het hulle almal na die Baältempel toe gegaan. Hulle het die tempel en die altare afgebreek en die afgodsbeelde stukkend geslaan. Toe maak hulle vir Mattan reg voor die altare dood. Hy was Baäl se priester.
18Jojada het toe die tempeldiens in ere herstel: hy het weer die Leviete en priesters aangestel om toesig oor die tempel te hou, soos Dawid bepaal het. Hy het gesê dat hulle weer die brandoffers vir die Here moes bring, soos die wet van Moses voorskryf, en dat hulle dit met vreugde en sang moes doen, soos Dawid gesê het. 19Hy het wagte by die ingange van die tempel geplaas om te sorg dat mense wat nie daar mag ingaan nie, buite bly. 20Daarna het die militêre offisiere, die hoofde van families, ander leiers en die hele volk die koning uit die tempel na die paleis toe begelei. Hulle het deur die boonste ingang van die paleis gegaan en die koning op die troon laat sit.
21Al die mense was bly en die hele stad was rustig nadat Atalia doodgemaak is.

Currently Selected:

2 Kronieke 23: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in