2 Kronieke 36
36
Joahas regeer in Juda
1Die mense van die land het Josia se seun Joahas in sy plek koning in Jerusalem gemaak. 2Joahas was 23 jaar oud toe hy koning geword het. Hy het drie maande lank in Jerusalem regeer. 3Die Egiptiese koning het hom toe sy koningskap ontneem en die land met omtrent drie en ’n half ton silwer en 34 kilogram goud beboet.
4Die Egiptiese koning het toe sy broer Eljakim koning gemaak oor Juda en Jerusalem en sy naam na Jojakim verander. Hy het Joahas as gevangene saamgevat Egipte toe.
Jojakim regeer in Juda
5Jojakim was 25 jaar oud toe hy koning geword het. Hy het elf jaar lank in Jerusalem regeer. Die Here was nie tevrede met wat Jojakim gedoen het nie.
6Koning Nebukadnesar van Babel het hom aangeval, met dik kettings vasgebind en na Babel toe weggevat. 7Nebukadnesar het ook voorwerpe uit die tempel van die Here vir homself gevat en dit in sy tempel in Babel gaan sit.
8Die res van Jojakim se geskiedenis, al die slegte dinge wat hy gedoen het en wat met hom gebeur het, is opgeskryf in Die Geskiedenis van die Konings van Israel en Juda.
Sy seun Jojagin het hom opgevolg.
Jojagin regeer in Juda
9Jojagin was agtien jaar oud toe hy koning geword het. Hy het drie maande lank in Jerusalem regeer. Die Here was nie tevrede met wat Jojagin gedoen het nie. 10In die lente van die volgende jaar het Nebukadnesar hom na Babel toe laat bring. ’n Klomp van die kosbare voorwerpe van die Here se tempel is toe ook na Babel toe weggevat.
Nebukadnesar het Jojagin se broer Sedekia koning van Juda en Jerusalem gemaak.
Sedekia regeer in Jerusalem
11Sedekia was 21 jaar oud toe hy koning geword het. Hy het elf jaar lank in Jerusalem regeer. 12Die Here was nie tevrede met wat Sedekia gedoen het nie. Hy het geweier om na die profeet Jeremia, wat namens God gepraat het, te luister. 13Sedekia het ook teen Nebukadnesar in opstand gekom, selfs al het hy in die Here se Naam gesweer dat hy aan Nebukadnesar getrou sou wees. Sedekia was hardkoppig. Hy het volstrek geweier om hom aan die Here, Israel se God, te onderwerp.
Die val van Jerusalem
14Die leiers van die priesters en die volk was ook ongehoorsaam aan die Here. Hulle het ander volke se godsdienstige gebruike aangehang en die Here se tempel onrein gemaak met al hulle sondes. 15Die Here hulle God het keer op keer weer profete na hulle toe gestuur om hulle te waarsku, want Hy was jammer vir sy volk en vir sy tempel. 16Maar die mense het die boodskappers afgelag en hulle boodskappe verwerp. Hulle het die profete bespot totdat die Here só kwaad was dat Hy besluit het om hulle swaar te straf.
17Die Here het toe die koning van Babel gebruik om die mense van Juda te straf. Die Babiloniërs het die jongmans van Juda doodgemaak, selfs binne-in die tempel. Hulle het niemand oorgesien nie, geen jongmens nie. Nie eers die oumense is gespaar nie. Die Here het hulle almal in die hande van die koning van Babel oorgelaat.
18Nebukadnesar het alles wat in die tempel gebruik is, vir homself gevat. Hy het ook al die skatte wat in die Here se tempel, die koning se paleis en in die hoë amptenare se besit was, vir hom gevat. 19Daarna het hy die tempel van God aan die brand gesteek, die stadsmuur van Jerusalem afgebreek en al die deftige huise in die stad afgebrand. So is alles wat waardevol was, vernietig.
20Nebukadnesar het die mense wat nie doodgemaak is nie, na Babel toe weggevat. Hulle moes as slawe vir hom en sy seuns gaan werk. Dit het aangehou totdat die koninkryk van Persië die Babiloniërs verslaan het. 21Toe dit gebeur het, het ’n boodskap van die Here wat deur Jeremia oorgedra is, waar geword: “Die land het uiteindelik sy sabbatsrus geniet toe hy vir 70 jaar verlate was.”
Kores gee Israel nuwe hoop
22In koning Kores van Persië se eerste regeringsjaar het die Here nog ’n voorspelling van Jeremia waar laat word. Die Here het Kores beweeg om ’n koninklike boodskap deur die hele land te stuur.
23“’n Boodskap van koning Kores van Persië: Die Here, die God van die hemel, het alle koninkryke op aarde in my hande gegee. Hy het vir my die werk gegee om vir Hom ’n tempel in Jerusalem wat in Juda is, te bou. Enigiemand wat deel is van sy volk, mag teruggaan vir dié werk. Mag die Here julle God by julle wees!”
Currently Selected:
2 Kronieke 36: DB
Highlight
Share
Copy
Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in
2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.