2 Konings 4
4
Elisa help ’n arm weduwee
1Die weduwee van een van Elisa se medeprofete het baie mooi vir Elisa gevra om haar te help. Sy het gesê: “My man, wat vir u gewerk het, is dood. U weet self dat hy die Here getrou gedien het. Maar nou was die skuldeiser by my. Hy dreig om my twee seuns vir hom as slawe te neem.”
2“Wat kan ek vir jou doen?” het Elisa gevra. “Vertel my wat jy in die huis het.”
Sy het geantwoord: “Ek het net mooi niks oor nie. Net ’n flessie olyfolie.”
3Elisa sê toe: “Gaan leen by al jou bure soveel leë kanne as wat jy kan kry. Moenie te min leen nie. 4Maak dan die deur agter jou en die seuns toe en maak al die kanne vol olie. Sit die volles eenkant neer.”
5Sy het presies gedoen wat Elisa gesê het. Die seuns het die kanne aangegee en sy het dit volgemaak. 6Toe al die kanne vol was, het sy gesê: “Gee nog een aan,” maar haar seun het geantwoord: “Daar is nie meer nie!” Net toe het die olie opgehou vloei.
7Die weduwee het vir Elisa gaan vertel wat gebeur het. Hy sê toe vir haar: “Gaan verkoop nou die olie. Betaal jou skuld af en gebruik die geld wat oor is om jou en jou seuns te onderhou.”
Elisa en die kinderlose vrou van Sunem
8Op ’n dag het Elisa deur die dorp Sunem gereis. ’n Vooraanstaande vrou van die dorp het by hom aangedring om iets by haar huis te kom eet. Daarna het dit elke keer gebeur. Wanneer hy in die dorp was, het hy by haar iets gaan eet.
9Eendag het sy vir haar man gesê: “Weet jy, ek is seker die besoeker wat dikwels hier by ons kom eet, is ’n spesiale boodskapper van God. 10Kom ons bou vir hom ’n dakkamer op die huis. Ons kan dit mooi inrig met ’n paar stukkies meubels, soos ’n bed, tafel, stoel en ’n lamp. Dan kan hy, wanneer hy ook al hier aankom, by ons oorbly.”
11Toe Elisa weer ’n keer in Sunem was, het hy opgegaan kamer toe om te gaan rus. 12Hy het vir sy assistent, Gehasi, gesê: “Gaan sê vir die vrou ek wil met haar praat.” Toe sy daar bo kom, 13het hy vir Gehasi gesê: “Sê vir haar: Ons waardeer die baie moeite wat jy vir ons gedoen het. Is daar dalk iets wat ek vir jou kan doen? Kan ek vir jou ’n goeie woord by die koning doen, of dalk by die hoof van die leër?”
“Nee, dankie,” het sy geantwoord, “ek woon doodgelukkig hier tussen my mense.”
14Later het Elisa vir Gehasi gevra: “Wat kan ons tog vir die vrou doen?”
“Daar is tog iets,” het Gehasi gesê, “sy het nie ’n seun nie en haar man is al ’n ou man.”
15Elisa sê toe: “Roep haar gou weer hier na my toe!” Toe sy daar bo kom, het sy in die deur van sy kamer bly staan. 16Hy het vir haar gesê: “Teen dié tyd volgende jaar sal jy ’n seuntjie in jou arms vashou.”
Sy het skerp geantwoord: “Ag nee, Meneer! U is tog ’n man van God. Moenie ’n leuen vertel en my vals hoop gee nie!”
17Maar sy het begin verwag en omtrent ’n jaar later is haar seuntjie gebore, net soos Elisa voorspel het.
Elisa wek die kind uit die dood op
18Op ’n dag het die seuntjie, wat toe al ’n bietjie groter was, na sy pa op die lande gegaan. Hulle was besig om te oes. 19Skielik het die kind uitgeroep: “Pa, my kop is seer! My kop!”
Sy pa het dadelik ’n werker gestuur en gesê: “Vat hom gou na sy ma toe.”
20Toe hy met die kind by die huis kom, het sy ma hom op haar skoot vasgehou, maar hy is teen die middag dood. 21Sy het die liggaampie opgedra na Elisa se kamer toe en hom op die bed neergelê. Daarna het sy uitgegaan en die deur gesluit. 22Sy het toe vir haar man laat weet: “Stuur vir my een van die werkers en ’n donkie. Ek wil gou die man van God gaan besoek. Ek sal binnekort terug wees.”
23“Waarom vandag?” het haar man gevra. “Dit is tog nie vandag nuwemaan of sabbat nie.”
“Toemaar, wees gerus,” het sy geantwoord 24en onmiddellik die donkie opgesaal. Sy het vir die werker gesê: “Jaag die donkie aan en moet nie stadiger ry nie, behalwe as ek so sê.” 25Sy het na Elisa toe gery waar hy op die Karmelberg gebly het. Elisa het haar gesien toe sy nog ’n ent weg was en vir Gehasi gesê: “Kyk daar. Dit is die vrou van Sunem. 26Draf haar tegemoet en vra hoe dit met haar en haar man en kind by die huis gaan.”
Sy het net vir Gehasi gesê: “Dit gaan goed,” 27maar verbygejaag na Elisa toe op die berg.
Toe sy by hom kom, het sy voor hom op die grond geval en sy voete vasgegryp. Gehasi wou haar wegstoot van Elisa af, maar hy het gesê: “Los haar. Sy is baie ontsteld. Hier is groot fout, maar die Here het niks daarvan vir my gesê nie.”
28“Ag, Meneer,” het sy gekerm, “het ek u gevra vir ’n seun? Nee, ek het gesê u moet my nie vals hoop gee nie.”
29Elisa het vir Gehasi gesê: “Kry jou reg om dadelik te gaan! Vat my kierie saam. Jy moet met niemand op pad praat nie. Gaan reguit na die kind toe en sit my kierie op sy gesig neer.”
30Die vrou het egter gesê: “So seker as die Here en u leef, ek sal nie huis toe gaan as u nie saamkom nie!” Elisa het toe saam met haar gegaan.
31Gehasi het vinnig vooruitgegaan en Elisa se kierie op die kind se gesig neergesit. Niks het egter gebeur nie, daar was geen teken van lewe nie. Hy het teruggegaan na Elisa toe en gesê: “Die kind is nog steeds dood.”
32Toe Elisa in die huis kom, was die situasie onveranderd. Die liggaampie het steeds op Elisa se bed gelê. 33Hy het alleen in die kamer ingegaan en die deur gesluit. Toe het hy ernstig tot die Here gebid. 34Hy het op die kind gaan lê. Hy het met sy kop op die kind se koppie, sy oë oor die kind se ogies en sy hande op die kind se handjies gaan lê. Geleidelik het die liggaampie weer warm geword. 35Elisa het opgestaan en ’n keer in die kamer op en af geloop en toe weer op die kind gaan lê. Toe het die seun sewe keer genies en sy oë oopgemaak!
36Elisa het dadelik vir Gehasi geroep en gesê: “Gaan haal gou die kind se ma!” Toe sy inkom, het hy vir haar gesê: “Hier is jou kind!” 37Sy het dankbaar voor hom neergesak, die kind opgetel en hom ondertoe gedra.
Elisa maak ’n giftige bredie eetbaar
38Elisa is toe terug Gilgal toe. Daar was in dié tyd ’n hongersnood in daardie omgewing. Die dorp se profetegroep het by Elisa vergader. Hy het vir Gehasi gesê: “Sit ’n groot pot op die vuur en maak ’n bredie vir ons om te eet.”
39Een van die manne het uitgegaan veld toe om te help kruie pluk vir die bredie. Hy het op ’n wilde rankplant met vrugte afgekom en ’n klomp daarvan gepluk. Hy het die vrugte in die bredie ingesny sonder dat hy geweet het wat dit was. 40Toe die bredie gaar was, het hulle begin inskep. Maar toe hulle dit proe, het hulle uitgeroep: “Man van God! Dié kos is giftig!” en geweier om verder te eet.
41Elisa het gesê: “Bring vir my ’n bietjie meel.” Hy het dit in die pot gegooi en gesê: “Nou is dit reg. Julle kan maar inskep,” en niemand het iets daarvan oorgekom nie.
Honderd mense kry kos
42’n Man uit Baäl-Salisa het by Elisa aangekom met twintig garsbrode en ’n sak graan. Dit het uit die eerste deel van sy oes gekom. Elisa het gesê: “Deel dit aan ons mense uit, dat hulle kan eet.” 43Sy assistent kon dit nie glo nie. “Hoe moet ek hiermee vir 100 mense kos gee? Dis heeltemal te min!” het hy gevra. Elisa het geantwoord: “Deel jy dit maar net uit. Die Here het gesê hulle sal genoeg hê om te eet en daar sal nog oorbly ook.”
44Dit is presies wat toe gebeur het. Almal het geëet en daar het nog kos oorgebly, net soos die Here gesê het.
Currently Selected:
2 Konings 4: DB
Highlight
Share
Copy
Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in
2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.