2 Samuel 16
16
Dawid en Saul se mense
1Net toe Dawid oor die top van die Olyfberg is, kom hy af op Siba, die man wat vir Mefiboset in die huis werk. Hy het ’n hele span donkies wat opgesaal was, by hom gehad. Op die donkies was 200 brode, 100 pakke rosyntjies, ’n klomp ryp vrugte en ’n groot kruik wyn.
2“Wat wil jy daarmee maak?” vra die koning hom.
“Die donkies is vir die koning se gesin om op te ry en die brood en die vrugte is vir die manne. Die wyn is vir dié wat gedaan raak in die woestyn,” antwoord Siba.
3“En waar is Saul se kleinseun?” vra die koning.
“Nee, hy het in Jerusalem agtergebly,” sê Siba. “Hy dink mos die Israeliete gaan hom vandag weer koning maak soos sy oupa was.”
4Toe sê die koning vir Siba: “In daardie geval is al Mefiboset se goed nou joune.”
“Baie, baie dankie, U Majesteit,” sê Siba, “u is baie goed vir my.”
5Toe koning Dawid by Bagurim kom, kom een van Saul se familie uit die dorp uit. Sy naam was Simeï. Hy was Gera se seun. Sommer met die uitkomslag 6begin hy vir Dawid en sy amptenare vloek en hulle met klippe gooi waar hulle tussen die soldate en sy beste vegters staan. 7Hy vloek en skree vir Dawid: “Voertsek, jou moordenaar! Jou lae vent! 8Die Here betaal jou nou terug vir al Saul se mense wat jy laat doodmaak het toe jy die koningskap gesteel het! Die Here het nou vir Absalom koning gemaak en jy’s in die moeilikheid oor jy ’n moordenaar is!”
9Abisai, Seruja se seun, sê vir Dawid: “Maar waar kom dié dooie hond daaraan om my koning so te vloek? Laat ek soontoe gaan en sy kop vir hom inmekaar slaan!”
10Maar die koning sê: “Julle twee seuns van Seruja hoef nie vir my op te kom nie. Laat die man vloek. Miskien het die Here vir hom gesê hy moet my vloek. Wie kan dan vir hom sê: ‘Hoekom doen jy dit?’”
11Dawid sê toe verder vir Abisai en al sy amptenare: “My bloedeie kind wil my doodmaak. Wat moet ’n mens dan van hierdie Benjaminiet verwag? Los hom uit. Laat hy maar vloek. Dalk het die Here vir hom gesê hy moet dit doen. 12Wie weet, dalk sien die Here my moeilikheid raak en gee Hy my later iets goeds vir die gevloek wat ek vandag moet verduur.”
13Dawid en sy mense het padlangs verder geloop. Simeï het al teen die rant geloop. Hy het nog steeds gevloek en hulle met klippe en kluite gegooi. 14Die koning en al die mense wat saam met hom was, was stokflou toe hulle in die Jordaanvallei ingaan. Daar het die koning eers ’n bietjie gerus.
Agitofel en Gusai gee vir Absalom raad
15Absalom en al die mans van Israel het in Jerusalem aangekom. Agitofel was ook by. 16Toe Gusai, Dawid se vriend, by Absalom kom, sê hy vir hom: “Lank lewe die koning! Lank lewe die koning!”
17Absalom sê vir hom: “Is dít hoe lank jou vriendskap hou? Hoekom het jy nie saam met jou vriend gegaan nie?”
18“Nee,” sê Gusai vir Absalom, “ek is vir die man wat deur die Here gekies is en wat deur hierdie mense en al die Israeliete gekies is. By hóm sal ek staan. 19Buitendien, ek móét mos my vriend se seun dien. Soos ek vir u pa gewerk het, sal ek vir u werk.”
20Daarna sê Absalom vir Agitofel: “Komaan, gee raad! Wat moet ons nou doen?”
21Agitofel gee toe vir Absalom hierdie raad: “Slaap by jou pa se haremvroue wat hy hier gelos het om die paleis op te pas. Al die Israeliete moet weet dat jy jou pa in die gesig gevat het, dan sal hulle nog sterker by jou staan.”
22Hulle het toe vir Absalom ’n seil op die dak van die paleis gespan, en hy het daar voor al die Israeliete by sy pa se haremvroue geslaap.
23As Agitofel daardie tyd raad gegee het, was dit so goed of jy het ’n antwoord van God self af gekry. Dit is wat Dawid en Absalom van Agitofel se raad gedink het.
Currently Selected:
2 Samuel 16: DB
Highlight
Share
Copy
Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in
2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.