Deuteronomium 20
20
Wie oorlog mag maak en wie nie
1“Jy gaan in gevegte beland. Ander nasies gaan teen jou oorlog maak. Dan gaan jy dalk sien dat hulle baie wapens het wat beter is as joune, en dat hulle meer soldate het as jy. Moet dan nie bang wees en benoud rondhardloop nie. Die Here jou God het jou veilig tot hier gelei, daar van Egipte af. Niemand minder nie as Hy is by jou. Jy het niks om voor bang te wees nie.
2“Voor jy gaan veg, moet die man wat in my huis werk eers voor die soldate gaan staan. Hy moet dan die soldate moed inpraat. 3Hy moet sê: ‘Luister na my, Israeliete! Julle staan op die punt om teen ’n vyand te gaan veg. Moenie bang wees nie. Moenie paniekbevange rondkyk wie julle sal help nie. Moenie vir julle vyand skrik nie. 4Die Here julle God gaan saam met julle! Hy is tussen julle. Hy sal vir julle teen julle vyande baklei. Hy sal vir julle die oorwinning gee.’
5“Hierna moet die offisiere van die soldate ook met die soldate praat. Hulle moet sê: ‘Is daar iemand onder julle wat so pas ’n nuwe huis gebou het, maar nog nie eens kon intrek voor hy opgeroep is om teen die vyand te kom veg nie? As daar so iemand is, moet hy huis toe gaan. Dalk word hy in die geveg doodgemaak, en dan gaan bly vreemde mense in die huis waaraan hy so hard gewerk het. 6Is daar iemand onder julle wat pas ’n wingerd geplant het, maar nog nie eens van die vrugte van die wingerd kon eet nie? As daar so iemand is, moet hy huis toe gaan. Miskien word hy in die oorlog doodgemaak en dan eet iemand anders die druiwe van sy nuwe wingerd. 7Is daar iemand onder julle wat nou net verloof geraak het? As daar so iemand is, moet hy huis toe gaan en gaan trou. Dalk word hy in die geveg doodgemaak en dan trou iemand anders op die ou end met sy verloofde.’
8Dan moet die offisiere ook vra: ‘Is daar iemand onder julle wat bang is? As daar so iemand is, moet hy huis toe gaan. Anders steek hy nou-nou die ander soldate aan sodat daar ’n klomp bangbroeke is wat aan die oorlog moet deelneem.’ 9As die offisiere klaar met die soldate gepraat het, moet hulle die leiers van die verskillende gevegseenhede se name aankondig.”
Bied soms vrede aan, maar ander kere nie
10“As jy oorlog teen ’n stad maak, en jy trek teen hom op, bied eers vir die mense van die stad vrede aan. Sê vir hulle onder watter voorwaardes jy hulle stad sal spaar. 11As hulle dan jou voorwaardes aanvaar en jou in hulle stad innooi, moet al die mense wat in die stad bly, vir jou werk sonder enige betaling. 12Maar as die mense nie belangstel in die vrede wat julle vir hulle aanbied nie en hulle klaarmaak om teen jou te baklei, moet jy hulle stad aanval. 13As die Here jou God hierdie stad vir jou gee en jy die geveg wen, moet jy elke man doodmaak wat in die stad bly. 14Maar die vroue en kinders en die vee en ander besittings wat jy in die stad kry, mag jy vir jouself hou. Geniet die besittings van jou vyande omdat dit die Here jou God is wat jou vyande in jou mag oorgee. 15Maar hierdie opdragte geld net vir stede wat ver buite jou grense val. Met die stede en dorpe van die nasies wat naby aan jou bly, moet jy anders maak.
16“Met die stede van die nasies wat die Here jou God vir jou gee om in te gaan bly, moet jy so maak: jy moet alles doodmaak wat in hierdie stede leef, sonder om enigiets te verskoon. 17Jy moet die Hetiete en die Amoriete, die Kanaäniete en die Feresiete, die Hewiete en Jebusiete voor die voet uitroei. Jy moet hulle as ’n offer aan My vernietig. Niks en niemand van hulle mag oorbly nie. So beveel die Here jou God jou. 18Dit sal keer dat hierdie mense, die mense wat nou in jou land bly, jou op die ou end dinge leer en jy die afskuwelike dinge begin doen wat hulle doen, en die afgode aanbid wat hulle dien. As jy hierdie dinge doen, sal jy jouself van die Here losmaak en sal Hy jou daarvoor straf.
19“As jy ’n stad aanval, kan dit gebeur dat dit ’n lang tyd neem voor jy uiteindelik die geveg wen. Dan mag jy nie die bome in daardie omgewing uitroei nie. Ja, jy mag van die bome se vrugte eet, maar jy mag nie die bome afkap nie. Die bome is nie jou vyande dat jy hulle moet aanval nie! Bome is kos vir die mens. 20Die bome wat nie vrugte dra nie en daarom nie veel beteken nie, mag jy wel afkap. Van daardie bome se hout moet jy die gereedskap maak wat jy nodig het om die stad mee aan te val tot die stad uiteindelik die knie voor jou buig.”
Currently Selected:
Deuteronomium 20: DB
Highlight
Share
Copy
Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in
2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.