YouVersion Logo
Search Icon

Eksodus 21

21
Die boek met die reëls vir hulle wat aan God verbind is
1“Gee die volgende reëls vir my volk aan wie Ek My verbind het.”
Reëls vir mense wat as slawe werk
2“As ’n Hebreeuse man soveel skuld gemaak het dat jy dit vir hom moes betaal, moet die man ses jaar lank sonder betaling vir jou werk. Hy is dan jou slaaf. In die sewende jaar moet jy hom vrylaat. Hy skuld jou dan niks verder nie. 3As hy nie getroud was toe hy by jou begin werk het nie, maar intussen getrou het, moet jy net vir hom vrylaat. As hy aan die begin alreeds getroud was, moet jy sy vrou saam met hom laat gaan. 4As die persoon vir wie hy slawewerk doen, vir hom ’n vrou gegee het in die tyd dat hy by hom gewerk het en hy het kinders by die vrou gehad, moet hy sonder hulle vrygelaat word. Die vrou en haar kinders moet by die eienaar bly. Hulle behoort aan hom. 5As die man wat as slaaf gewerk het, reguit sê: ‘Ek hou van my baas en ek is lief vir my vrou en my kinders. Ek wil nie vrygelaat word nie,’ 6moet die eienaar saam met hom na die Here se plek toe gaan. Hy moet hom daar teen ’n deur of deurkosyn laat staan en met ’n els ’n gaatjie in sy oor maak. As hy dit gedoen het, bly daardie man vir die res van sy lewe sy slaaf.
7“Wanneer iemand so diep in die skuld raak dat hy sy dogter moet verkoop om slawewerk te doen, word sy nie soos manlike slawe na ses jaar vrygestel nie. 8As haar eienaar nie met haar wil trou nie, breek hy sy ooreenkoms met haar. Hy moet haar dan verkoop. Hy mag haar egter nie aan iemand van ’n ander volk verkoop nie. 9As hy haar gekoop het om met sy seun te trou, mag hy haar nie langer behandel asof sy ’n slaaf is nie. Sy word vir hom soos sy eie dogter. 10Indien hy egter wel self met haar trou en later met ’n tweede vrou ook trou, en sy word dan sy tweede vrou, mag hy nie ophou om vir haar te sorg en by haar te slaap nie. 11As hy enige van hierdie dinge nie doen nie, het sy die reg om vry weg te gaan. Daar hoef dan nie ’n enkele sent vir haar betaal te word nie.”
Oortredings waarvoor iemand doodgemaak kan word
12“As iemand ’n ander persoon so beseer dat hy daarvan doodgaan, moet hy self doodgemaak word. 13As hy dit nie vooraf beplan het nie, maar hom in die hitte van die stryd seergemaak het, sal Ek ’n plek gee waarheen hy mag vlug. 14Wanneer iemand ’n ander koelbloedig doodmaak, moet hy weggevat word om opgehang te word, selfs al het hy na die altaar gevlug en daar gevra om vergewe te word. 15Iemand wat sy ouers beseer, moet doodgemaak word. 16As een mens ’n ander mens steel, of dit nou is om daardie persoon vir geld te verkoop of hom as slaaf aan te hou, is hy met die dood strafbaar. 17Selfs minagting vir jou ouers is met die dood strafbaar.
18-19“As twee mans aan die baklei raak, kan dit gebeur dat die een die ander een met ’n klip of met sy vuis slaan sodat hy in die bed beland. Dit kan gebeur dat hy nie daarvan doodgaan nie, maar met ’n kruk moet loop as hy weer regkom. As dit gebeur, moet die persoon wat hom geslaan het hom vergoed vir die tyd wat hy siek was en vir hom sorg tot hy weer gesond is. 20As iemand sy manlike of vroulike werker so met ’n stok slaan dat die slaaf doodgaan, moet daardie persoon gestraf word. 21As die slaaf dit oorleef en nie binne ’n dag of twee doodgaan nie, is dit in orde. Die man besit tog immers die slaaf.”
Vergoeding van gelyke waarde
22“Twee mans kan miskien met mekaar baklei. Terwyl hulle veg, kan een van hulle teen ’n vrou stamp wat swanger is sodat sy daardeur haar baba verloor. Die man wat haar die baba laat verloor het, moet dan skadevergoeding betaal. Haar man sal ’n eis instel. Daar moet dan onderhandel word oor die bedrag wat betaal moet word. 23As hy skade veroorsaak het wat vir altyd sal bly, moet hy daarvoor baie geld betaal. As sy doodgaan, sal hy met sy eie lewe moet betaal. 24’n Oog se skade moet met ’n oog goed gemaak word. As daar ’n tand uit is, moet hy een van sy tande laat uithaal. ’n Hand se skade moet met ’n hand betaal word, ’n voet met ’n voet, 25’n brandplek met ’n brandplek, ’n wond met ’n wond en ’n kneusplek met ’n kneusplek. 26As ’n eienaar sy slaaf of slavin op die oog slaan en die slaaf kan nie meer met daardie oog sien nie, moet die eienaar die slaaf laat vry gaan om die skade van die oog goed te maak. 27Ook net so wanneer hy sy manlike of vroulike slaaf se tand uitslaan, moet hy daardie persoon vrylaat om so vir die tand te vergoed.”
Gevaarlike diere
28“As ’n bul toevallig ’n man of ’n vrou met sy horings doodstoot, moet die bul dadelik met klippe doodgegooi word. Sy vleis mag egter nie geëet word nie. Die eienaar van die bul hoef ook niks verder te betaal nie. 29As daar egter al vantevore vir die eienaar gesê is dat sy bul sulke neigings het en hy niks daaraan gedoen het nie, moet hy saam met die bul doodgegooi word wanneer die bul ’n man of ’n vrou se dood veroorsaak. 30As dit miskien kan gebeur dat die familie bereid is om geld vir hulle familielid se dood te vat, kan hy bly lewe, maar hy moet die volle bedrag aan hulle betaal. 31Selfs al het die bul ’n seun of ’n dogter doodgestoot, bly dit nog presies dieselfde. 32Indien die bul ’n manlike of vroulike slaaf doodgemaak het, moet die eienaar van die slaaf 40 gram silwer kry. Die bul moet in elk geval nog met klippe doodgegooi word.
33“As iemand ’n put vir water grawe en hy sit nie ’n deksel daarop nie, of hy los die put oop en ’n bees of ’n donkie val daarin, 34moet die man wat die put gegrawe het vir die eienaar van die dier skadevergoeding betaal. Nadat hy hom betaal het, mag hy egter die karkas van die dier hou.”
35“As iemand se bul iemand anders se bul doodmaak, moet die lewendige bul verkoop word. Die geld moet dan tussen die twee eienaars verdeel word. Hulle moet ook die karkas van die dooie bul tussen mekaar verdeel. 36As almal egter geweet het dat dit ’n bakleierige bul was en sy eienaar het niks daaraan gedoen nie, moet hy die eienaar van die dooie bul vir die hele bul vergoed. Hy mag die dooie bul vir homself vat.”

Currently Selected:

Eksodus 21: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in