YouVersion Logo
Search Icon

Eksodus 36

36
1“Besaleël, Oholiab en al die ander mense vir wie die Here die aanleg gegee het en die kundigheid om die tent te maak, moet dit vir ons bou soos die Here dit wil hê.”
Te veel boumateriaal
2Moses het Besaleël en Oholiab laat kom en almal wat bekwaam was en daarvoor kans gesien het om die werk te doen. 3Moses het die boumateriaal wat die Israeliete gegee het, vir hulle beskikbaar gestel om met die werk te begin. Die volk het egter aangehou om elke oggend weer nuwe voorraad te bring. 4Die mense wat die tent maak, het toe een vir een van die werk waarmee hulle besig was, na Moses gekom 5en vir hom gesê: “Die volk bring nou meer goed as wat ons nodig het om die dinge te maak wat die Here gesê het.” 6Moses het toe oral in die kamp laat afkondig dat hulle moet ophou om goed vir die werk te bring. Die volk het opgehou om goed te bring. 7Daar was nou oorgenoeg voorraad om die tent te maak. Trouens, daar het selfs daarvan oorgebly.
Die seil bo-oor die tabernakel
8Elkeen wat kon help, het saamgewerk. Hulle het die onderste laag van die dak uit tien stukke materiaal van fyn linne gemaak waarin blou, pers en bloedrooi draad ingeweef was en waarop figure met vlerke geborduur was. 9Elkeen van hierdie tien stukke was presies ewe groot. Elkeen was veertien meter lank en twee meter breed. 10Hulle het dit op mekaar gepas en daarvan twee identiese stelle gemaak. Vir elke stel het hulle vyf stukke materiaal op hulle lengte aan mekaar vasgewerk. 11Hulle het blou lussies al om die buitekant van elkeen van die twee stelle vasgewerk 12sodat daar 50 lussies was wat presies teenoor mekaar was toe die twee stelle op mekaar gepas is. 13Hulle het ook 50 goue hakies gemaak en deur die lussies gehaak sodat die twee stelle op mekaar gepas het om een dubbelvel te vorm vir die onderste laag van die tent.
Die tweede en derde laag van die tent se dak
14Hulle het toe ’n seil van bokhaarmateriaal gemaak om bo-oor die eerste laag van die tent te trek. Dit is uit elf stukke materiaal gemaak. 15Al elf stukke was presies ewe groot. Elkeen was vyftien meter lank en twee meter breed. 16Hiervan het hulle twee stelle opgemaak. Hulle het vir die een stel vyf stukke materiaal op mekaar gesit en aan mekaar vasgewerk. Vir die ander stel het hulle ses stukke gebruik. 17Hulle het 50 lussies al om die buitekant van elkeen van die twee stelle vasgewerk sodat daar 50 lussies was wat teenoor mekaar was. 18Hulle het ook 50 koperhakies gemaak om deur die lussies te haak sodat die twee velle op mekaar een dubbelvel kon vorm vir die middelste laag van die tent se dak.
19Hulle het ook ’n boonste laag vir die dak van die tent gemaak. Dit is gemaak van ’n laag gelooide ramsvel waaroor ’n tweede laag gebreide vel gesit is.
Die houtpanele en hulle dwarslatte
20Hulle het ook vir die tent houtpanele uit akasiahout gemaak. 21Elke paneel was vyf meter hoog en 75 sentimeter breed. 22Daar was aan elke paneel twee lasplekke sodat dit aan ’n volgende paneel gelas kon word. Al die panele van die tent het dieselfde gelyk. 23Hulle het twintig panele gemaak vir die suidelike muur van die tent. 24Hulle het ook 40 voetstukke van silwer gemaak om onder die panele te sit. 25-26Vir die muur aan die oorkant, aan die noordekant, het hulle ook twintig panele met 40 voetstukke gemaak. 27Vir die koppenent aan die westekant van die tent het hulle ses gewone panele gemaak 28-29asook twee versterkte hoekpanele. 30In hierdie muur was daar agt panele met sestien silwervoetstukke.
31Hulle het ook dwarslatte van akasiahout gemaak wat die panele aan mekaar moes hou. Daar was vyf latte vir elke muur. 32Op die lang kante was daar vyf latte en vyf vir die muur aan die endkant. 33Hulle het die middelste dwarslat gemaak om op halwe hoogte dwarsoor die panele van hoek tot kant te loop. 34Hulle het die panele en die dwarslatte met goud oorgetrek. Hulle het ook goue ringe aan die panele vasgesit waardeur die dwarslatte gesteek kon word.
Die gordyn wat die tent verdeel
35Hulle het ook die gordyn gemaak waarmee die tent in twee verdeel moes word. Dit is van geweefde linne gemaak waarin blou, pers en bloedrooi draad kunstig ingeweef was en waarop figure met vlerke geborduur was. 36Hulle het vier akasiahoutpale gemaak en dit met goud oorgetrek. Vir elke regop paal is ook ’n silwervoetstuk gemaak. 37Vir die ingang van die tent, aan die regterkant, het hulle ’n gordyn van geweefde materiaal gemaak waardeur blou, pers en bloedrooi wol gestik was. 38Vir die gordyn het hulle vyf regop staanders gemaak met goue hakies. Die bopunte van die staanders en die gordynstokke wat daarop rus, het hulle met goud oorgetrek. Vir elke staander het hulle ’n voetstuk van koper gemaak.

Currently Selected:

Eksodus 36: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in