YouVersion Logo
Search Icon

Esra 10

10
’n Belofte
1Terwyl Esra op sy knieë voor die tempel gestaan en bid en huil het en sy volk se skuld bely het, het ’n groot klomp mense om hom begin saamdrom. Daar was mans en vroue en kinders. Hulle het kliphard saam met Esra gehuil.
2Een van hulle, Sekanja seun van Jegiël uit die nageslag van Elam, het vorentoe gekom. Hy het vir Esra gesê: “Ons was nie getrou aan ons God toe ons met vroue uit die ander volke getrou het nie. Maar daar is miskien nog hoop vir Israel. Ons kan hierdie saak nog regmaak. 3Kom ons belowe die Here dat ons al hierdie vroue en die kinders wat ons by hulle het, na hulle mense toe sal laat teruggaan. Dié onder ons wat die Here se wette ken, moet ons help en vir ons sê hoe ons moet maak. 4Jy moet die voortou neem. Doen wat gedoen moet word dat ons dit reg kan doen. Ons sal agter jou staan.”
5Esra het toe so gemaak. Hy het die leiers van die priesters en die Leviete en die hele Israel laat sweer dat hulle so sal maak. Hulle het dit baie ernstig vir die Here belowe.
6Esra is van die tempel af weg na die blyplek van Joganan die seun van Eljasib toe. Hy het die nag daar gebly. Hy het egter niks geëet of gedrink nie. Hy het getreur oor al die mense wat teruggekom het en nie aan die Here getrou gebly het nie.
Die byeenkoms voor die tempel
7Almal in Jerusalem en Juda wat deur die jare teruggekom het, moes in Jerusalem bymekaarkom. 8Die leiers van die priesters het besluit dat elkeen wat nie binne drie dae in Jerusalem opdaag nie, alles sal verloor wat hy besit. Hy sou ook nie langer as ’n Judeër beskou word nie.
9Op die derde dag, dit was die twintigste van die negende maand, was al die mans wat in Juda en Benjamin bly, in Jerusalem. Hulle het op die plein voor die tempel van God bymekaargekom. Hulle het gestaan en bewe. Aan die een kant was hulle gespanne oor wat gaan gebeur. Aan die ander kant was dit koud en het dit aanhoudend gereën. 10Esra het met hulle gepraat. Hy het gesê: “Julle het nie getrou gebly aan die Here nie. Julle het met vroue van ander volke gaan trou. Julle het daardeur Israel se skuld by God net nog meer gaan maak. 11Luister nou na die Here. Respekteer die God van julle voorouers. Doen wat Hy van julle vra. Hou julle eenkant van die ander volke in die land. Stuur die heidense vroue met wie julle getrou het, terug na hulle eie mense toe.”
12Almal wat daar was, het toe geantwoord en hardop gesê: “Goed, ons sal doen wat jy vir ons sê!”
13Daar het ook ’n voorstel gekom: “Ons is baie mense hier bymekaar. Dit reën aanmekaar. Ons kan nie die hele tyd hier buite in die reën bly staan nie. Hierdie ding kan ook nie binne ’n dag of twee klaargemaak word nie. Daar is baie van ons wat aan hierdie oortreding skuldig is. 14Gee vir ons leiers die opdrag om hierdie saak af te handel. Elkeen wat met ’n vreemde vrou getrou het, kan ’n afspraak maak met die leiers en regters van sy dorp. Dan kan hy die saak saam met hulle afhandel. Op hierdie manier kan ons die Here se woede oor die saak laat ophou.”
15Die voorstel is deur almal aanvaar. Net Jonatan die seun van Asael en Jagseja die seun van Tikwa, het nie saamgestem nie. Mesullam en die Leviet Sabbetai het ook soos hulle gedink.
16Om te maak soos hulle besluit het, het Esra mans uit die verskillende families aangewys. Hy het hulle name opgeskryf. Op die eerste dag van die tiende maand het hulle die sake begin aanhoor.
17Binne drie maande, op die eerste dag van die eerste maand, was die sake van die mans wat met vreemde vroue getrou het, afgehandel.
Die mans wat hulle vroue moes laat gaan
18Daar is bevind dat die volgende priesters met vreemde vroue getrou het:
Uit die familie van Jesua die seun van Josadak en sy priesters was daar Maäseja, Eliëser, Jarib en Gedalja. 19Hulle het belowe om van die vroue te skei en ’n ram as offer vir hulle sonde vir God te offer om weer vrede by God te kry.
20Uit die priesterfamilie van Immer was daar Ganani en Sebadja. 21Uit die familie van Garim was daar Maäseja, Elia, Semaja, Jegiël en Usija. 22Uit die familie van Pasgur was daar Eljoënai, Maäseja, Ismael, Netanel, Josabad en Elasa.
23Onder die Leviete was dit Josabad, Simeï, Kelaja (hy was ook bekend as Kelita), Petagja, Juda en Eliëser.
24Tussen die sangers was dit Eljasib.
Uit die poortwagte was daar Sallum, Telem en Uri.
25Uit die gewone Israeliete was daar die volgende:
Uit die Parosfamilie was dit Ramja, Jissija, Malkija, Mijamin, Eleasar, Malkija en Benaja; 26uit die Elamfamilie was dit Mattanja, Sagaria, Jegiël, Abdi, Jeremot en Elia; 27uit die Sattufamilie het gekom Eljoënai, Eljasib, Mattanja, Jeremot, Sabad en Asisa; 28uit die Bebaifamilie was daar Joganan, Gananja, Sabbai en Atlai; 29uit die Banifamilie was dit Mesullam, Malluk, Adaja, Jasub en Seal-Jeremot; 30uit die Pagat-Moabfamilie was daar Adna, Kelal, Benaja, Maäseja, Mattanja, Besaleël, Binnuï en Manasse; 31uit die Garimfamilie het gekom Eliëser, Jissija, Malkija, Semaja, Simon, 32Benjamin, Malluk en Semarja; 33uit die Gasumfamilie was dit Mattenai, Mattatta, Sabad, Elifelet, Jeremai, Manasse en Simi; 34uit die Banifamilie het gekom Maädai, Amram, Uel, 35Benaja, Bedja, Keluhi, 36Wanja, Meremot, Eljasib, 37Mattanja, Mattenai en Jaäsai; 38uit die Binnuïfamilie was daar Simi, 39Selemja, Natan, Adaja, 40Maknadbai, Sasai, Sarai, 41Asarel, Selemja, Semarja, 42Sallum, Amarja en Josef; 43uit die Nebofamilie het gekom Jeïel, Mattitja, Sabad, Sebina, Jaddai, Joël en Benaja.
44Al hierdie mans het met vreemde vroue getrou. Sommige van hulle het ook by hulle kinders gehad. Die mans moes die vroue en die kinders laat gaan.

Currently Selected:

Esra 10: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in