Hosea 13
13
Efraim maak gode
1“As Efraim se familie gepraat het, was die ander families bang en het na hom geluister. Efraim was die leier van Israel. Hulle het ’n fout gemaak toe hulle Baäl begin aanbid het. Hulle sal met hulle lewe vir hulle sonde moet betaal. 2Maar hulle doen selfs nog meer as dit. Hulle maak vir hulleself beelde van die afgode om daarvoor te buig. Hulle dink die afgode uit. Hulle maak uit silwer vir hulle beelde volgens hulle idees oor hoe die gode lyk. Maar dit bly tog maar net goed wat iemand uit silwer vir hulle gemaak het. Nogtans sê hulle: ‘Mens, offer vir die god. Buig voor die kalf en soen hom.’ 3Omdat hulle goed aanbid wat mense gemaak het, sal hulle nie vir altyd bly staan nie. Hulle sal verdwyn soos die vroeë oggendmis voor die son verdwyn. Hulle sal wees soos dou wat vroeg in die oggend al verdamp. Hulle sal wees soos kaf wat die wind van die dorsvloer af wegwaai, soos rook wat by ’n skoorsteen uitgaan en in die wind wegwaai.
4“Ek is die Here. Ek is jou God. Ek het jou uit Egipte gered. Julle behoort nie aan enige ander god nie. Julle behoort net aan My. Daar is niemand anders wat julle kan verlos nie. Dit is net Ek wat julle uit julle probleme kan red.”
Die Here verskeur
5“In die woestyn het Ek vir hulle gesorg. Dit was droog daar en daar was nie water nie. 6Toe hulle daarna in ’n vrugbare land kom, was hulle soos skape wat hulle knuppeldik gevreet het. Hulle het gedink dat hulle My nie meer nodig het nie. Hulle het die rug vir My gedraai asof Ek oorbodig was. 7Ek het daarom vir hulle soos ’n leeu geword wat hulle wil verskeur. Ek is vir hulle net soos ’n luiperd wat langs die pad lê en wag dat sy prooi moet kom. 8Ek sal hulle aanval soos ’n woedende beer as iemand haar kleintjie by haar probeer wegvat. Ek sal hulle uitmekaarskeur. Ek sal daar langs die pad gaan lê en hulle opvreet soos ’n leeuwyfie. Wanneer Ek klaar is, sal die wilde diere van die veld hulle verder uitmekaarskeur en opvreet.
9“Ek gaan jou uitroei, Israel. Ek het jou gehelp, maar jy het die rug vir My gedraai. 10Waar is jou koning nou? Waar is die een wat jou kon kom help het toe die vyand jou stede aangeval het? Waar is die regters nou vir wie jy gevra het om vir jou ’n koning en leiers te gee? 11Ek was al klaar vies vir julle toe Ek vir julle ’n koning gegee het. Ek is nou woedend vir julle as Ek hom by julle wegvat.”
Efraim se lot is klaar uitgemaak
12“Ek het Efraim se oortredings opgeteken. Sy sonde staan op papier. 13Efraim is soos ’n kind wat nie verstand het nie. Hy is domastrant. Hy is soos ’n ongebore baba in sy ma se lyf wat nie in die wêreld wil kom as dit tyd is om gebore te word nie. 14Sal Ek keer dat hulle doodgaan? Sal Ek hulle verlos uit die dood? Nee wat, laat die dood maar kom met sy rampe. Laat die dood sy pyn bring. Ek voel niks meer vir hulle nie. 15Al het Efraim ook vooruitgegaan en bo die ander uitgestyg, die Here sal hom laat doodgaan. Die Here sal ’n oostewind stuur wat uit die woestyn waai en alles laat uitdroog. Sy land sal verdroog. Sy waterputte sal opdroog. Sy fonteine sal gaan staan. Die wind sal alles wat goed was in sy land, wegwaai.
Currently Selected:
Hosea 13: DB
Highlight
Share
Copy
Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in
2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.