YouVersion Logo
Search Icon

Jesaja 63

63
Die Here se woede
1Wie is dit wat daar van Edom af aankom? Wie is dit wat van Bosra af kom met sulke helder rooi klere? Wie is dit wat so flink aangestap kom met daardie klere? Dit is Ek, die Here. Ek kom vir julle sê dat Ek julle gaan red. Ek het die krag om julle vry te maak.
2Maar waarom is u klere dan so rooi gevlek soos iemand wat in die wynpers druiwe uit- getrap het?
3Ek het die nasies in die parskuip gaan trap soos druiwe. Ek was alleen. Niemand het My gehelp nie. Ek het hulle in my woede uitgetrap soos druiwekorrels. Ek was kwaad en Ek het hulle stukkend getrap. Hulle bloed het op my klere gespat. Dit het my klere vuil gemaak. 4Ek het besluit dat dit die regte tyd was om die volke te straf. Die tyd het gekom om my volk te bevry. 5Ek het gekyk, maar niemand gesien wat My kon help nie. Ek was verbaas dat daar niemand was om My te ondersteun nie. My woede het die oorhand gekry en Ek het dit met my eie krag gedoen. 6Ek was so kwaad dat Ek die nasies in die grond in getrap het. Ek het hulle in my woede laat steier en hulle bloed oor die aarde laat uitloop.
Getroue God van ’n ontroue volk
7Ek wil oor die liefde en getrouheid van die Here praat. Ek wil die Here se Naam grootmaak oor alles wat Hy vir ons gedoen het. Ek wil sing oor al die baie goeie dinge wat Hy vir Israel gedoen het. Ek wil die Here prys vir al sy liefde en simpatie. 8Die Here het gesê: Hulle is tog my eie volk. Hulle is my kinders wat My nie sal bedrieg nie. Hy het hulle bevry 9uit hulle nood. Hy self het hulle verlos. Omdat Hy vir hulle lief was en hulle jammer gekry het, het Hy hulle gered. Hy het hulle nog altyd opgetel en hulle gedra.
10Hulle het egter in opstand gekom. Hulle het die Gees van God se gevoelens seergemaak. Die Here het daarom vir hulle ’n vyand geword. Hy het teen hulle baklei.
11Toe het sy volk teruggedink aan die dae lank terug in die tyd van Moses. Hulle het gevra: “Wat het geword van die Here wat sy volk saam met hulle leier deur die see laat trek het? Wat het van Hom geword wat sy Gees in hulle harte laat kom woon het?” 12Hy het met sy krag die see voor hulle laat oopgaan toe Moses sy hand uitgesteek het. Hy het daarmee seker gemaak dat sy Naam vir altyd onthou sal word. 13Hy het hulle reg deur die bedding van die see gelei soos perde wat oor die vlaktes hardloop sonder om te struikel. 14Die Here se Gees het hulle na veiligheid gelei soos vee wat na ’n weiveld in ’n laagte gebring word. So het U, Here, u volk gelei sodat u wonderlike Naam vir altyd onthou kan word.
Red ons tog weer ’n keer
15Kyk tog ’n bietjie op ons af van daar bo van u hoë woonplek af. Sien ons raak. Wat het geword van die verterende liefde wat U vir ons gehad het en die groot dade waarmee U ons gered het? Moet tog nie u liefde en u meegevoel van ons af weghou nie. 16U is tog ons Vader. Abraham het nie van ons geweet nie. Israel kon ons nie geken het nie. Maar U, Here, is ons pa. U Naam was nog altyd “ons Bevryder”.
17Here, waarom het U toegelaat dat ons vreemdelinge vir U geword het? Waarom het U ons so ongevoelig laat word dat ons nie meer respek vir U het nie? Help ons dat ons weer vir U kan lewe en weer aan U kan behoort. 18Ons kon vir ’n kort rukkie U by die tempel aanbid. Ons vyand het dit ongelukkig verwoes. 19Ons het geword soos mense wat nooit aan U behoort het nie, soos mense van wie daar nooit gesê is dat hulle u volk is nie.

Currently Selected:

Jesaja 63: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in