Job 29
29
Job praat oor sy voorspoed
1Job het verder gegaan om sy saak te stel en gesê: 2“Ag, hoe verlang ek na die dae en maande toe die Here nog vir my gesorg het. 3Toe was Hy by my soos ’n lig wat skyn. Omdat Hy dit vir my lig gemaak het, kon ek veilig in die donker loop. 4Vroeër in my lewe was God soos ’n huisvriend vir my, 5want toe was die Here nog by my, en my kinders om my. 6Dit was ’n tyd van oorvloed. Daar was ’n oormaat melk en die olie het by die groefies van die pers uitgestroom.
7“Dit was nog die goeie ou dae toe ek nog na die stadsingang toe gegaan het. Daar het ek tussen die leiers van die mense gaan sit. 8Van die jongmense het plek gemaak wanneer hulle my sien. Die ouer mense het selfs uit respek vir my opgestaan wanneer hulle my sien aankom het. 9Wanneer ek iets gesê het, het die leiers stilgebly om na my te luister. 10Die vername mense wat nog iets wou sê, het dan opgehou praat en nie verder hulle mening gegee nie.
11“Almal wat my gehoor het, het net goeie dinge vir my te sê gehad. Die mense wat my gesien het, was tevrede met wat ek gedoen het. 12Want ek het die armes gehelp wat gekla het. Ek het ook die weeskinders gehelp wat niemand gehad het om vir hulle te sorg nie. 13Ek het mense gehelp wat al die hoop opgegee het om te lewe, en hulle het net mooi dinge oor my lewe te sê gehad. Ek het dit reggekry om weduwees weer te laat sing omdat hulle bly is. 14Ek het reg geleef en mense eerlik en regverdig behandel. Ek het dit soos klere aangetrek en soos ’n band om my kop gesit. 15Ek was die blindes se oë en die lam mense se voete. 16Ek was soos ’n pa vir die armes. Ek het ook die belange van vreemde mense verdedig. 17Ek het die mag gebreek van mense wat ander onderdruk. Verder het ek hierdie onderdrukkers gedwing om hulle slagoffers vry te laat.
18“Ek het gedink dat ek baie oud sou word en in vrede in my eie huis sou doodgaan. 19Ek was soos ’n boom met wortels wat tot by die water gaan. In die nag val daar dou op die boom se takke. 20Ek het altyd binne-in my vol nuwe krag gevoel. Ek was sterk en gesond.
21“As ek gepraat het, het mense met aandag geluister. Hulle was stil, want hulle wou graag my raad en opinie oor dinge hoor. 22Na ek gepraat het, het niemand die behoefte gehad om iets meer te sê nie. Hulle was tevrede. Hulle het aanvaar wat ek gesê het. 23Net soos mense graag wou hê dit moes reën, net so graag wou hulle altyd hê ek moes praat. Dit was vir hulle soos lentereën wat hulle indrink. 24Hulle het weer nuwe moed gekry as ek vir hulle glimlag. My vriendelike gesigsuitdrukking was vir hulle baie werd. 25Ek het vir hulle besluit wat hulle moet doen, want ek was vir hulle ’n leier. Ek was soos ’n koning tussen sy manskappe. Ek het hulle getroos wanneer hulle moedeloos was.”
Currently Selected:
Job 29: DB
Highlight
Share
Copy
Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in
2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.