YouVersion Logo
Search Icon

Matteus 17

17
Op die berg saam met Jesus
1Ses dae later het drie dissipels ’n voorsmaak gekry van God se nuwe wêreld. Dit het gebeur toe Petrus, Johannes en Jakobus alleen saam met Jesus op ’n hoë berg was. 2Sy voorkoms het skielik voor hulle oë verander. Sy gesig het soos die son begin gloei. En sy klere het helder wit geskyn. 3Moses en Elia, die twee groot profetiese figure uit Israel se geskiedenis, het hulle opwagting gemaak en met Jesus begin praat oor sy taak wat voorgelê het.
4Petrus het nie mooi verstaan wat aan die gang was nie. Hy bied toe maar aan om drie spesiale tente op te rig: een vir Jesus, een vir Moses en een vir Elia. 5Terwyl hy nog so staan en praat, het ’n helder wolk hulle skielik omring. Toe sê daar ’n stem uit die wolk: “Dit is my Seun vir wie Ek baie lief is. Wat Hy doen, verskaf My groot vreugde. Luister na wat Hy vir julle sê!”
6Toe die drie dissipels hierdie stem hoor, het hulle hulle morsdood geskrik. Hulle het plat op hulle gesigte neergeval. 7Jesus het egter na hulle toe gestap en hulle aangeraak. “Staan maar op. Julle hoef nie bang te wees nie,” het Hy vir hulle gesê. 8Toe hulle hul oë oopmaak, sien hulle slegs vir Jesus by hulle staan.
9Daarna, terwyl hulle van die berg afklim, sê Jesus vir die dissipels: “Julle mag vir niemand vertel wat julle op die berg gesien het nie. Eers wanneer Ek, die Seun van die mens, uit die dood opgestaan het, kan julle vir ander mense hiervan vertel.” 10Hulle vra toe vir Hom: “Hoekom sê al die skrifkenners dan dat Elia eers aarde toe moet kom voordat die Messias sy opwagting maak?”
11“Dit is so,” het Jesus geantwoord. “Elia kom om alles gereed te maak. 12Maar weet julle, Elia het eintlik al klaar gekom. Tog het die mense hom nie herken nie. Daarom het hulle hom doodgemaak. Die Seun van die mens gaan binnekort net so behandel word.” 13Toe snap die dissipels dat Jesus besig was om oor Johannes die Doper te praat. Hy was die Elia wat op die toneel verskyn het om die Messias se koms aan te kondig.
’n Bose gees word weggejaag
14Toe Jesus en die drie dissipels onder kom, het baie mense vir Hom gestaan en wag. ’n Man het vinnig tussen die skare deurgevleg en voor Hom neergeval. 15“Here, help my seun, asseblief,” het hy gesmeek. “Hy ly verskriklik. Ek dink hy is in die mag van ’n bose gees. Hy kry sulke snaakse aanvalle. Dan val hy op die grond neer. Hy het al ’n paar keer in ’n vuur of in die water beland wanneer dit gebeur. As dit so aanhou, is hy binnekort dood. 16Ek het hom na u dissipels toe gevat, maar hulle kon niks vir hom doen nie.”
17Jesus draai om na sy dissipels toe en sê vir hulle: “Julle ongelowiges! Hoeveel keer moet Ek dieselfde dinge oor en oor sê en doen voordat julle sal glo? Dit kan nie langer so aangaan nie! Kry julle lewens in orde. My geduld is nou besig om op te raak.”
Jesus sê toe vir die man: “Bring gou die seun hier.”
18Toe die seun by Jesus kom, het Hy die bose gees beveel om uit hom pad te gee. In ’n oogwink was die bose mag weg. Die seun was dadelik gesond.
19Kort daarna, toe hulle alleen was, het die dissipels halfverleë na Jesus toe gekom. “Hoekom kon ons nie daardie duiwel uit die seun verdryf nie?” het hulle Hom gevra.
20“Omdat julle geloof te klein is,” het Hy reguit geantwoord. “Julle maak nie erns met God nie. Weet julle, as julle geloof in Hom maar net so groot soos ’n klein mosterdsaadjie is, sal julle onmoontlike dinge regkry. Dan sal julle enige struikelblok in julle lewe kan oorkom, hoe groot dit ook al is. Julle sal selfs vir hierdie berg kan sê: ‘Skuif uit die pad uit!’ dan sal dit gebeur. Niks is onmoontlik vir mense wat op God vertrou nie.”
22Kort daarna het Jesus se ander volgelinge in Galilea by Hom en sy dissipels aangesluit. Hy sê toe vir hulle: “Weet julle, Ek gaan binnekort in die hande van wrede mense val. 23Hulle gaan My vermoor. Maar moenie bekommerd wees nie. Ek is sterker as die dood. Op die derde dag sal Ek weer deur God lewendig gemaak word.”
Hierdie nuus was ’n groot skok vir hulle.
Om belasting te betaal of nie
24Kort daarna het amptenare wat elke jaar die tempelbelasting insamel by Petrus se huis in Kapernaum opgedaag. “Betaal daardie leermeester van julle ook sy tempelbelasting?” het hulle vir Petrus gevra.
25“Natuurlik!” het Petrus geantwoord.
Toe Petrus daarna in die huis kom, het Jesus hom ingewag met ’n moeilike vraag: “Simon, sê My, van wie vorder ’n koning belasting in: van sy eie kinders, of van al sy onderdane?”
26“Van sy onderdane,” het Petrus dadelik geantwoord. “’n Koning se eie kinders betaal tog nie belasting aan hulle pa nie.”
“Ja, jy’s reg,” sê Jesus. “’n Koning laat tog nie sy kinders belasting betaal nie. 27Wel, dan geld dieselfde mos van My. Ek is God se Seun. Daarom hoef Ek nie tempelbelasting te betaal nie. Maar wag, netnou sê die mense lelike dinge oor My. Daarom sal Ek dit liewer maar betaal.
“Petrus, gaan gou see toe en gooi jou lyn in. In die eerste vis wat jy vang se bek sal daar genoeg geld wees om ons al twee se tempelbelasting te betaal. Vat dit namens jou en My daar na die belastinggaarders toe.”

Currently Selected:

Matteus 17: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in