YouVersion Logo
Search Icon

Romeine 1

1
1Van Paulus. Ek dien Christus Jesus. Hy het my aangestel as apostel. Dit is my taak om God se goeie nuus oral bekend te maak. 2Hierdie goeie nuus is al lankal deur God se boodskappers in die Bybel neergeskryf. 3Dit handel oor God se Seun, Jesus Christus. Hy is ons Here. Hy kom uit die nageslag van Dawid. 4Toe Jesus na sy kruisiging uit die dood opgestaan het, het die Heilige Gees aan Hom die heel belangrikste posisie in die hemel gegee. Hy is daar in die hemel triomfantlik as die Seun van God aangewys. Daarom besit Hy nou al die mag in die hemel en op die aarde.
5Jesus was baie goed vir my. Hy het my aangestel as sy apostel. Ek moet vir mense uit alle volke van Hom vertel. Ek sê vir hulle om in Hom te glo en om te doen wat Hy sê.
6Julle tel onder die gelukkiges wat hierdie goeie nuus glo. Christus het julle ook geroep om in Hom te glo.
7Ek skryf hierdie brief aan julle almal in Rome. God het julle baie lief. Hy het julle eenkant gesit vir Homself sodat julle Hom voltyds kan dien.
Die goedheid en vrede van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus is by julle.
Paulus wil graag na Rome toe kom
8Ek kan nie anders as om deur Jesus Christus vir my God dankie te sê dat mense oor die hele wêreld van julle geloof praat nie. 9En God, wat ek met my hele lewe dien omdat ek die goeie nuus oor sy Seun bekendmaak, weet dat julle nooit uit my gedagtes is nie. 10Elke keer as ek bid, vra ek Hom of Hy tog nie ’n plan kan maak sodat ek binnekort na julle toe kan kom nie. 11Ek wil julle baie graag persoonlik ontmoet. Ek het die wonderlikste geestelike geskenke uit God se hand ontvang waarin ek julle wil laat deel. Dit sal julle geloof sterker maak. 12Ek wil graag ook iets van julle ontvang: julle groot geloof kan my aanspoor om nog harder vir die Here te werk. So kan ons mekaar help om die Here nog beter te dien.
13Weet julle hoeveel keer ek al probeer het om na julle toe te kom? Tot nou toe het daar elke keer iets voorgeval. Maar hou moed, ek is op pad. Ek beplan om ook daar in Rome vir julle en vir ander mense van Christus te vertel. Op hierdie manier sal daar ook by julle ’n ryk oes vir die Here ingesamel word.
14Dit is my plig om aan alle mense op aarde, Jode en nie-Jode, geleerdes en ongeletterdes, die goeie nuus oor Jesus Christus bekend te maak. 15Daarom wil ek bitter graag na julle toe kom. Ook daar in Rome moet ek die goeie nuus laat weerklink.
Die hart van die brief
16Ek is glad nie skaam om die goeie nuus oor Jesus Christus bekend te maak nie. God se groot krag is aan die werk op elke plek waar hierdie boodskap verkondig word. Hy red elkeen wat dit glo, Jode en nie-Jode. God se goedheid word sigbaar oral waar mense met hulle hele lewe op Hom vertrou. 17Daar staan immers in die Bybel geskryf: “Almal wat deur God van hulle sondes vrygespreek is omdat hulle glo, sal die ware lewe ken.”
God is kwaad
18Uit sy hemelse woonplek wys God dat Hy baie kwaad is oor al die sondige dinge wat die mense hier op die aarde aanvang. Hulle verruil die waarheid vir leuens. 19Dis ’n groot fout, want God het alles wat hulle oor Hom behoort te weet binne hulle bereik geplaas. 20Van die begin van die skepping af het God Hom baie duidelik aan ons bekendgemaak. Alhoewel niemand van ons God met die blote oog kan sien nie, het Hy sy groot krag oral in die skepping aan ons kom wys. Sy handewerk wys dat Hy die enigste ware God is. Daarom het die mense geen verskoning nie. 21Hulle weet baie goed wie God is. Hulle weier egter om Hom te aanbid of Hom te dank vir al die goedheid wat Hy aan ons bewys. Daarom dat hulle soos ’n spul dwase optree. Hulle hele lewe is een stuk donkerte. 22Tog maak hulle asof hulle verskriklik slim is, al is hulle eintlik dom en sonder insig. 23Hierdie mense het selfs so ver gegaan om hulle eie gode te maak. Hulle het die voorreg om die ewige God te ken gaan staan en verruil vir ’n spul handgemaakte gode. Nou buig hulle voor dié lewelose afbeeldings van mense, voëls, diere en reptiele.
24God laat egter nie toe dat mense sy groot Naam deur die modder sleep nie. Daarom het Hy besluit om hierdie mense te straf deur hulle aan hulle eie lot oor te laat. Nou leef hulle al hulle sondige begeertes na hartelus uit. Die gevolg: hulle het erger as ’n klomp varke geword omdat hulle meedoen aan elke denkbare vorm van seksuele losbandigheid. 25En dit net omdat hulle die waarheid verruil het vir ’n spul leuens. In plaas daarvan dat hulle voor die Skepper buig, verkies hulle om voor hulle eie handewerk te buig. Dit is ’n groot fout. Daar is immers maar net een God wat tot in alle ewigheid aanbid moet word.
26God het al hierdie sondaars oorgegee aan hulle siek begeertes. Daarom het vroue begin om die normale seksuele gemeenskap met mans te verruil vir abnormale seksuele gemeenskap met ander vroue. 27Die mans het presies dieselfde gedoen. Hulle het ook hulle normale seksuele gemeenskap met vroue laat staan omdat hulle vreemde seksuele gemeenskap met ander mans wou hê. As gevolg daarvan het hulle allerhande skandelike dade met mekaar begin pleeg. Maar hulle het ’n baie duur prys daarvoor betaal. God het hulle gestraf deur hulle aan hulleself oor te laat.
28Omdat hierdie mense glad nie daarin belangstel om God op die regte manier te ken nie, het Hy toegelaat dat hulle kan dink net wat hulle wil en doen wat hulle wil. 29Daarom is hulle hele lewe nou een groot deurmekaarspul. Hulle neem deel aan elke denkbare vorm van goddeloosheid. Hierdie mense is propvol boosheid, seksuele wellus, geldgierigheid en slegtheid. 30Hulle harte loop oor van slegte dinge soos jaloesie, moord, twis, bedrog, kwaadpratery en ’n geskinder. Hulle steek mekaar in die rug en hulle haat God. Boonop dink hulle heeltemal te veel van hulleself. Hulle praat groot. Elke dag dink hulle ’n spul nuwe sondes uit. Hulle haat hulle ouers. 31Hulle is ongehoorsaam en dom. Ja, hierdie heidene is ’n spul gevoellose wesens wat net mooi niks vir ander mense omgee nie. 32Natuurlik weet hulle hoe God wil hê hulle moet leef. En hulle weet ook dat die doderyk op hulle wag. Tog hou hulle aan met al hulle booshede. En asof dit nie erg genoeg is nie, moedig hulle ander mense aan om hulle slegte voorbeeld te volg.

Currently Selected:

Romeine 1: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in