YouVersion Logo
Search Icon

Sagaria 14

14
Die Here regeer
1Neem kennis, Jerusalem, daar kom ’n dag dat die Here straf sal uitdeel. Op dié dag sal alles wat jy het, gevat word en voor jou oë verdeel word. 2In dié tyd sal die Here al die nasies bymekaarmaak om oorlog teen Jerusalem te maak. Hulle sal die stad inneem en die goed in die huise steel. Erger nog, hulle sal die vroue in Jerusalem onsedelik aanrand. Hulle sal die helfte van die stad se mense uit die land wegvat. Die ander helfte sal in die stad kan bly.
3Die Here sal dan optrek en teen die nasies baklei soos Hy al in die verlede gedoen het. 4In dié spesifieke tyd sal die Here op die Olyfberg staan, oos van Jerusalem. Wanneer dit gebeur, sal die Olyfberg middeldeur skeur. Die een helfte sal noord padgee en die ander helfte suid. Dit sal maak dat daar ’n groot kloof sal wees wat van oos na wes loop. 5Julle sal deur hierdie kloof in die berg ontsnap en tot so ver as die sykant van die berg kan gaan. Julle sal moet vlug net soos julle vroeër in koning Ussia van Juda se tyd vir die aardbewing moes vlug. Dan sal die Here wat my God is, kom en al die hemelwesens saam met Hom.
6Daardie dag sal daar nie lig of koue of ryp wees nie. 7Dit sal ’n snaakse dag wees, want die daglig sal nie ophou nie. Net die Here weet wanneer dit sal wees. Daar sal nie gewone dag of nag wees nie. Al word dit aand, sal dit nog steeds lig bly. 8In dié tyd sal daar vars water uit Jerusalem vloei. Die een helfte van die water sal in die rigting van die Dooie See loop en die ander helfte na die Middellandse See toe. Die water sal dwarsdeur die winter en die somer aanhou loop.
9Die Here sal koning wees oor die hele wêreld. Daardie dag sal almal weet dat Hy die enigste God is. Sy Naam sal die enigste Naam wees wat genoem word. 10Die hele gebied rondom Jerusalem sal oop en uitgestrek lê. Na die noorde toe sal dit lê tot by Geba en na die suide tot so ver as Rimmon. In die middel van hierdie gebied sal Jerusalem hoog uitstaan soos vroeër. Die stad sal lê van die Benjaminingang af tot by die plek waar die ou hek was. Dan verder tot by die Hoekingang en van die Gananeltoring tot by die plek waar die koning se wyn gemaak word. 11Die mense sal in Jerusalem kom bly en veilig voel, want die stad sal nie weer verwoes word nie.
12Die Here sal ’n verskriklike siekte laat uitbreek onder al die nasies wat teen Jerusalem baklei het. Hulle liggame sal begin vrot terwyl hulle nog leef. Dieselfde sal gebeur met hulle oë en hulle tonge. 13In dié tyd sal die Here ’n vreeslike angs die mense laat beetpak. In die deurmekaarspul sal hulle mekaar gryp en mekaar slaan. 14Selfs die mense van Juda sal by Jerusalem teen die vyand baklei. Die rykdom van die volke in die omgewing sal afgevat word. Op dié manier sal groot hoeveelhede goud, silwer en klere bymekaargebring word. 15Dieselfde vreeslike siekte wat die mense oorgekom het, sal ook die perde, muile, kamele, donkies en watter ander diere daar ook al in die vyand se kampe is, besmet.
16Wat na alles sal gebeur, is dat die vyande van Jerusalem wat nie van die siekteplaag dood is nie, elke jaar na die stad toe sal terugkom. Wanneer hulle kom, sal dit wees om eer te kom bewys aan die Koning, die Here wat sterker as almal en alles is. Hulle sal ook kom om die fees te vier waar daar altyd hutte van takke gebou word. 17As daar enige volk êrens op aarde is wat nie na Jerusalem toe wil kom om die Here, die Koning, te kom vereer nie, sal dit nie by hulle reën nie. 18En as die mense van Egipte nie na die fees toe wil kom nie, sal die Here hulle straf. Dieselfde vreeslike siekte sal hulle aantas wat ander nasies getref het wat geweier het om Hom te kom dien. 19Die mense van Egipte sal saam met die ander volke gestraf word as hulle nie die fees van die hutte wil kom vier nie.
20In dié tyd sal daar selfs op die klokkies aan die perde se tuie geskryf staan: “Spesiaal bedoel vir die Here.” Die potte wat in die tempel van die Here gebruik word om in te kook, sal net so belangrik wees as die potte wat by die offeraltaar gebruik word. 21Wat sal gebeur, is dat elke kookpot in Jerusalem en Juda gebruik sal word in diens van die Here. Enige mens wat sal kom om die Here te eer sal hierdie potte mag gebruik om hulle offervleis in te kook. Daar sal in hierdie tyd ook nie meer mense wees wat in die tempel van die Here koop en verkoop nie. Hy is die Here wat sterker is as alles en almal.

Currently Selected:

Sagaria 14: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in