1 KONINGS 16
16
1Die woord van die Here teen Baesa het tot Jehu seun van Ganani gekom en gesê: 2“Ek het jou uit die stof uit opgetel en jou as heerser oor my volk Israel aangestel, maar jy het die pad van Jerobeam geloop: jy het my volk Israel laat sondig sodat hulle My met hulle sondes uitgetart het. 3Daarom gaan Ek ontslae raak van jou en jou familie. Ek gaan met jóú hele huis maak soos met die huis van Jerobeam seun van Nebat. 4Die een van jou familie wat in die stad omkom, die honde sal hom opvreet; en dié een wat in die veld omkom, die roofvoëls sal hom vreet.”
5Die ander verhale oor Baesa en wat hy gedoen het, ook sy dapperheid, is opgeteken in die annale van die konings van Israel.
6Baesa is oorlede, en hy is begrawe in Tirsa. Sy seun Ela het hom as koning opgevolg.
7Die profeet Jehu seun van Ganani moes die oordeel van die Here aankondig oor Baesa en sy nageslag, nie net omdat wat hy gedoen het, verkeerd was in die oë van die Here en hy die Here uitgetart het soos die geslag van Jerobeam nie, maar ook omdat hy vir Jerobeam vermoor het.
Ela word koning oor Israel
8In die ses en twintigste regeringsjaar van koning Asa van Juda het Ela seun van Baesa in Tirsa koning geword oor Israel. Hy het twee jaar geregeer.
9Een van sy onderdane, Simri, die aanvoerder van die helfte van die strydwamag het 'n sameswering teen hom gesmee. Toe Ela hom aan huis van Arsa, die opsigter van die paleis in Tirsa, dronk gedrink het, 10het Simri ingekom en hom doodgemaak. Simri het hom vermoor in die sewe en twintigste regeringsjaar van koning Asa van Juda.
Simri self het hom as koning opgevolg.
11Dadelik nadat hy die koningskap oorgeneem het, het Simri die hele koningshuis van Baesa uitgeroei, selfs ook sy bloedverwante en raadgewers. Simri het al wat manlik is in Baesa se familie doodgemaak. 12Simri het die hele familie van Baesa uitgeroei, soos die Here gesê het deur die profeet Jehu. 13Dit was die gevolg van die sonde wat Baesa en sy seun Ela gedoen het en wat hulle Israel laat doen het. Hulle het die Here die God van Israel uitgetart met hulle afgodsbeelde.
14Die ander verhale oor Ela en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Israel.
Omri kom in opstand teen Simri
15Tydens die sewe en twintigste regeringsjaar van koning Asa van Juda was Simri sewe dae koning in Tirsa. Die volk was toe net besig om die Filistynse stad Gibbeton te beleër. 16Toe die volk wat besig was met die beleg, die berig kry dat Simri 'n sameswering gesmee en die koning om die lewe gebring het, het die hele Israel nog dieselfde dag daar in die laer vir Omri, die hoof van die leër, tot koning uitgeroep. 17Omri en die hele Israel het toe van Gibbeton af opgetrek en Tirsa gaan beleër. 18Toe Simri bemerk dat die stad ingeneem word, het hy na die verskanste deel van die paleis toe gevlug en die paleis op hom afgebrand. So is hy dood. 19Dit was alles die gevolg van die sondes wat hy gedoen het. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het die pad van Jerobeam geloop en dieselfde sonde gedoen as dié waarmee Jerobeam Israel laat sondig het.
20Die ander verhale oor Simri en oor die sameswering wat hy gesmee het, is opgeteken in die annale van die konings van Israel.
21Die volk het egter nou verdeeld geraak. Een helfte wou vir Tibni seun van Ginat koning maak, en die ander helfte vir Omri. 22Omri se aanhang het gaandeweg sterker geword as Tibni s'n, en toe Tibni te sterwe kom, het Omri koning geword.
Die regering van Omri
23In die een en dertigste regeringsjaar van koning Asa van Juda het Omri koning geword van Israel. Hy het twaalf jaar geregeer, ses daarvan uit Tirsa.
24Toe het hy Samariaberg van Semer gekoop vir ag en sestig kilogram silwer en bo-op die berg gebou. Hy het die stad wat hy daar gebou het, Samaria genoem na die naam van Semer, die vorige eienaar van die berg.
25Omri het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy was slegter as al sy voorgangers. 26Hy het die pad van Jerobeam seun van Nebat geloop en dieselfde sonde gedoen as dié waarmee Jerobeam vir Israel laat sondig het, sodat hulle die Here die God van Israel met hulle afgodsbeelde uitgetart het.
27Die ander verhale oor Omri, oor wat hy gedoen het en oor sy dapperheid is opgeteken in die annale van die konings van Israel.
28Omri is oorlede, en hy is begrawe in Samaria. Sy seun Agab het hom as koning opgevolg.
Agab word koning van Israel
29Agab seun van Omri het koning van Israel geword in die ag en dertigste regeringsjaar van koning Asa van Juda. Agab seun van Omri het Israel twee en twintig jaar uit Samaria geregeer.
30Agab seun van Omri het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, meer as al sy voorgangers. 31Dat hy voortgegaan het met die sondes van Jerobeam seun van Nebat was nog die minste; hy het ook met Isebel dogter van koning Etbaäl van die Sidoniërs getrou en die god Baäl begin dien en hom aanbid. 32Hy het 'n altaar vir Baäl opgerig by die Baälstempel wat hy gebou het in Samaria. 33Agab het ook 'n gewyde paal opgerig en hy het meer gedoen om die Here die God van Israel uit te tart as al die konings van Israel voor hom.
34In daardie tyd het Giël van Bet-El die stad Jerigo opgebou. Toe hy die fondamente daarvan gelê het, het sy oudste seun Abiram gesterf, en toe hy die poortdeure gehang het, het sy jongste, Segub, gesterf. Dit was in ooreenstemming met die vervloeking wat die Here deur Josua seun van Nun uitgespreek het.
Currently Selected:
1 KONINGS 16: AFR83
Highlight
Share
Copy
Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1983, 1992. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.