Johannes 14

14
Jesus die weg na die Vader
1“Laat julle harte nie ontsteld wees nie. Glo in God, glo ook in My. 2In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek voor te berei. 3En as Ek gegaan en vir julle plek voorberei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. 4Julle ken die weg na die plek waarheen Ek gaan.” 5Thomas sê vir Hom: “Here, ons weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die weg ken?” 6Jesus sê vir hom: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. 7As julle My leer ken het, sal julle ook my Vader ken. En van nou af ken julle Hom, en het Hom reeds gesien.” 8Filippus sê toe vir Hom: “Here, wys ons die Vader, en dit is vir ons genoeg.” 9Jesus sê vir hom: “Ek is al so 'n lang tyd by julle, en het jy My nie leer ken nie, Filippus? Wie My gesien het, het die Vader gesien. Waarom sê jy dan, ‘Wys ons die Vader?’ 10Glo jy dan nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek vir julle sê, sê Ek nie uit Myself nie, maar dit is die Vader wat in My bly en sy werke doen. 11Glo My dat Ek in die Vader en die Vader in My is; of glo dan op grond van die werke self. 12Amen, amen, Ek sê vir julle: Wie in My glo, hy sal ook die werke doen wat Ek doen, en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader gaan. 13En wat julle in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik mag word. 14As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.”
Belofte van die Heilige Gees
15“ As julle My liefhet, sal julle my gebooie onderhou. 16En Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle 'n ander Parakleet gee, sodat Hy vir ewig by julle kan wees. 17Hy is die Gees van die waarheid, wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat die wêreld Hom nie sien nie en ook nie ken nie. Julle ken Hom egter, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. 18Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. 19 Nog 'n kort tydjie, en die wêreld sien My nie meer nie; maar julle sien My, omdat Ek leef en julle sal leef. 20 Op daardie dag sal julle weet: Ek is in my Vader, en julle in My en Ek in julle. 21Wie my gebooie het en dit onderhou, hy is die een wat My liefhet. En wie My liefhet, my Vader sal hom liefhê, en Ek sal hom liefhê en Myself aan hom bekend maak.” 22Judas, nie Judas Iskariot nie, vra Hom toe: “Here, hoe is dit dat U Uself aan ons gaan bekend maak en nie aan die wêreld nie? ” 23Jesus antwoord hom: “As iemand My liefhet, sal hy ter harte neem wat Ek sê, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. 24Wie My egter nie liefhet nie, neem nie my woorde ter harte nie. Die woorde wat julle hoor, is nie myne nie, maar dié van die Vader wat My gestuur het.
25“Dit het Ek vir julle gesê terwyl Ek by julle gebly het. 26Die Parakleet, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle in alles onderrig en julle aan alles herinner wat Ek vir julle gesê het. 27Vrede laat Ek julle na – my vrede gee Ek julle. Ek gee dit nie vir julle soos die wêreld dit gee nie. Laat julle harte nie ontsteld en bang wees nie. 28Julle het gehoor dat Ek vir julle gesê het: Ek gaan weg, maar Ek kom weer na julle toe. As julle My liefgehad het, sou julle bly gewees het dat Ek na die Vader gaan, omdat die Vader groter as Ek is. 29 En nou het Ek dit vir julle gesê voordat dit gebeur, sodat julle, wanneer dit gebeur, kan glo. 30Ek sal nie meer baie met julle praat nie, want die heerser van die wêreld is aan die kom, en hy het nie mag oor My nie. 31Maar sodat die wêreld kan weet dat Ek die Vader liefhet en doen soos wat die Vader aan My opgedra het, staan op, laat ons hiervandaan weggaan! ”

S'ha seleccionat:

Johannes 14: AFR20

Subratllat

Comparteix

Copia

None

Vols que els teus subratllats es desin a tots els teus dispositius? Registra't o inicia sessió