YouVersion Logo
Search Icon

21 dae oor die krag van gebed deur Angus Buchan™Sample

21 dae oor die krag van gebed deur Angus Buchan™

DAY 11 OF 21

“Bid en lees die Woord”

Ons moet tyd in die Woord deurbring, want Jesus is die Woord. Dit is dalk ’n goeie plan om die Woord in die eerste persoon te lees. Dan spreek die Woord jou direk aan – nie ’n algemene woord of ’n LOGOS-woord nie, maar ’n RHEMA-woord – ’n woord van God vir jou vir daardie dag.

Daar is baie mans en vroue wat professore in godsdiens is. Hulle ken die Bybel van voor tot agter en kan enige deel van die Boek aanhaal, maar hulle het nie noodwendig die Outeur van die Boek ontmoet nie. Die werklikheid is dat die Christelike geloof oor ’n Man gaan, nie oor ’n organisasie nie. Daardie Man se Naam is Jesus Christus, die grootste Man wat nog ooit geleef het.

Wanneer ons die Woord begin lees en Hy daardeur met ons begin praat, kan ons ware intimiteit met Hom vind. God sal ons gerusstel en vir ons die rigting aandui. Jy sal sy invloed begin raaksien in kwessies soos wanneer jy moet koop, wanneer jy moet verkoop, of jy van werk moet verander of nie, hoe jy jou gesin moet versorg, ensovoorts. Daar daal ’n enorme vrede neer oor iemand wat bid. Ek hoop Hy hoef nooit weer vir iemand wat ek ken te sê: “Sê vir Angus ek verlang na hom” nie.

In Handelinge 4:13 lees ons: “Die raadslede was verbaas toe hulle Petrus en Johannes se waagmoed sien, want hulle het besef dis gewone mense sonder enige besondere opleiding. Hulle het hulle ook herken as mense wat saam met Jesus was.” Dit is die deurslaggewende faktor. Jy kan sien as persone baie tyd saam met Jesus deurbring, want hoe meer tyd mense saam met iemand deurbring, hoe meer word hulle soos daardie persoon.

Die wêreld is nie op soek na my of jou nie, maar na Jesus Christus. Die mate waarin Jesus in jou lewe betrokke is, sal bepaal hoe effektief jy is. Bestee tyd saam met God. Verkeer intiem met Hom en jy sal sien hoe jou lewe verander.

GEBED: Liewe Here Jesus, ek wil nie net kopkennis van U hê nie, maar hartskennis. Ek wil meer tyd saam met U deurbring sodat U betrokke kan wees in my lewe en my elke dag kan lei. Amen.
Day 10Day 12

About this Plan

21 dae oor die krag van gebed deur Angus Buchan™

Hierdie 21-dag-plan is ’n samestelling van dagstukkies oor gebed. Dit is ’n wonderlike hulpmiddel om ’n dieper verhouding met God te ontwikkel. Elke dag bevat ’n Skrifverwysing, ’n oordenking oor gebed en ’n slotgebed.

More

Ons wil graag Angus Buchan / Christelike Uitgewersmaatskappy bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek gerus: http://www.cumuitgewers.co.za/