Logoja YouVersion
Ikona e kërkimit

Johannes 2

2
Bruilof by Kana
1 Op die derde dag was daar 'n •bruilofsfees by Kana in Galilea, en Jesus se moeder was daar. 2Ook Jesus en sy dissipels is na die bruilofsfees genooi. 3Toe die wyn opraak, sê Jesus se moeder vir Hom: “Hulle het nie meer wyn nie.” 4Maar Jesus sê vir haar: “Vrou, waarom pla u My? My uur het nog nie aangebreek nie. ” 5Sy moeder sê vir die dienaars: “Doen wat Hy ook al vir julle sê.” 6Daar het, ooreenkomstig die reinigingsgebruike van die Jode, ses klipkanne gestaan wat elk tussen twee en drie metretes kon hou. 7Jesus sê toe vir hulle: “Maak die kanne vol water.” En hulle het dit tot bo toe volgemaak. 8Daarop sê Hy vir hulle: “Skep nou daarvan uit en neem dit vir die hoofkelner.” Hulle het dit toe geneem. 9Toe die hoofkelner die water proe wat wyn geword het – hy het nie geweet waar dit vandaan kom nie, hoewel die dienaars wat die water uitgeskep het, geweet het – roep hy die bruidegom 10en sê vir hom: “'n Mens sit eers die goeie wyn voor, en eers wanneer hulle begin dronk word, dié van swakker gehalte; maar jy het die goeie wyn tot nou teruggehou.”
11 Dit het Jesus by Kana in Galilea gedoen, die begin van sy tekens. Hy het sy heerlikheid geopenbaar en sy dissipels het in Hom geglo.
12 Hierna het Hy, sy moeder, sy broers en sy dissipels na Kapernaum afgegaan, maar nie baie lank daar gebly nie.
Reiniging van die tempelterrein
(Matt 21:12-13; Mark 11:15-17; Luk 19:45-46)
13Die Pasga van die Jode was op hande, en Jesus het opgegaan na Jerusalem. 14Op die tempelterrein het Hy verkopers van beeste, skape en duiwe aangetref, en ook die geldwisselaars wat daar sit. 15Daarop het Hy 'n sweep van toue gemaak en almal van die tempelterrein weggejaag, ook die skape en die beeste, en die munte van die geldwisselaars het Hy uitgegooi en die tafels omgekeer. 16Vir dié wat duiwe verkoop, het Hy gesê: “Vat hierdie goed hier weg! Hou op om die huis van my Vader 'n huis te maak waar handel gedryf word!” 17Sy dissipels het onthou dat daar geskryf staan: “Die hartstog vir u huis sal My verteer.” 18Die Jode vra Hom toe: “Met watter teken kan jy vir ons bewys dat jy hierdie dinge doen?” 19 Jesus het hulle geantwoord: “Breek hierdie tempel af, en binne drie dae sal Ek dit opbou.” 20Daarop het die Jode gesê: “Ses-en-veertig jaar gelede is daar aan hierdie tempel begin bou, en jy sal dit binne drie dae opbou?” 21Maar Hy het van die tempel van sy liggaam gepraat. 22 Toe Hy later uit die dood opgewek is, het sy dissipels onthou dat Hy dit gesê het, en hulle het die Skrif en die woord wat Jesus gespreek het, geglo.
Jesus se mensekennis
23Toe Jesus tydens die Pasga in Jerusalem was, het talle die tekens gesien wat Hy doen en in sy Naam geglo. 24Maar Jesus het Hom nie op hulle verlaat nie, omdat Hy alle mense ken. 25Hy het nie nodig gehad dat iemand van die mens getuig nie; want Hy het self geweet wat daar in die mens is.

Aktualisht i përzgjedhur:

Johannes 2: AFR20

Thekso

Ndaje

Copy

None

A doni që theksimet tuaja të jenë të ruajtura në të gjitha pajisjet që keni? Regjistrohu ose hyr