2 KRONIEKE 30

30
Voorbereidings vir die Paasfees
1Koning Hiskia het ’n boodskap aan die hele Israel en Juda gestuur en briewe geskryf aan Efraim en Manasse. Hy het hulle uitgenooi om na die tempel van die Here in Jerusalem te kom en die Paasfees van die Here die God van Israel te vier. 2Die koning, die leiers en die hele gemeente in Jerusalem het besluit om die Paasfees in die tweede maand te vier. 3Hulle kon dit nie op die gewone tyd vier nie omdat daar toe nog nie genoeg priesters afgesonder was nie en die volk nog nie in Jerusalem bymekaargekom het nie. 4Hierdie plan om die Paasfees later te vier, was vir die koning en die hele volk goed. 5Hulle stuur toe ’n aankondiging deur die hele Israel, van Berseba in die suide tot Dan in die noorde. Hulle het elkeen uitgenooi om na Jerusalem te kom om die Paasfees van die Here die God van Israel te vier. Die volk het dit nie meer in groot getalle gevier soos destyds voorgeskryf was nie.
6Op bevel van die koning is boodskappers deur die hele Israel en Juda gestuur met briewe van die koning en sy amptenare wat soos volg gelui het:
Kinders van Israel, kom terug na die Here die God van Abraham, Isak en Israel sodat Hy weer sal terugkom na die oorblyfsel wat ontsnap het uit die hand van die Assiriese konings. 7Moenie soos julle voorouers en bloedverwante maak nie. Hulle het die Here die God van hulle voorouers verlaat sodat Hy van hulle ’n voorwerp van afgryse gemaak het, soos julle self kan sien. 8Moenie koppig wees soos julle voorouers nie, maar onderwerp julle aan die Here. Kom na sy tempel toe, die plek wat Hy vir altyd as heilig afgesonder het. Dien die Here julle God sodat sy toorn van julle afgewend kan word. 9As julle na die Here toe terugkom, sal julle broers en julle kinders met medelye behandel word deur hulle wat hulle gevange geneem het en hulle sal hulle na hierdie land toe laat terugkom, want die Here julle God is genadig en Hy is julle goedgesind. As julle na Hom toe terugkom, sal Hy nie voortgaan om sy gesig van julle af weg te draai nie.
Viering van die Paasfees
10Die boodskappers het van dorp tot dorp deur die hele Efraim en Manasse tot so ver as Sebulon gegaan. Maar die mense het hulle uitgelag en hulle gespot. 11Sommige uit Aser, Manasse en Sebulon het hulleself verootmoedig en na Jerusalem toe gegaan. 12Die hand van God was egter oor die mense van Juda. Hy het hulle ’n eenheidsgevoel gegee sodat hulle die bevele van die koning en sy amptenare as die woord van die Here gehoorsaam het. 13Gevolglik het ’n groot skare in Jerusalem bymekaargekom om die Paasfees en die Fees van die Ongesuurde Brood in die tweede maand te vier. 14Hulle het die heidense altare uit Jerusalem verwyder en die wierookaltare in die Kedronvallei gegooi.
15Op die veertiende dag van die tweede maand het hulle die paaslam geslag. Die priesters en Leviete het toe skaam geword, hulleself gereinig en brandoffers na die tempel van die Here gebring. 16Hulle het hulle plekke in die tempel ingeneem volgens die bepalings van Moses, die man van God. Die Leviete het die bloed vir die priesters gebring en hulle het dit op die altaar gesprinkel. 17Omdat baie van die mense nie hulleself gereinig het nie, moes die Leviete die paaslammers slag vir hulle wat nie seremonieel rein was en nie hulle lammers self aan die Here kon wy nie. 18Die meeste van hulle wat uit Efraim, Manasse, Issaskar en Sebulon gekom het, het hulleself nie gereinig nie. Hulle het die paaslam geëet al was dit strydig met wat voorgeskryf is. Maar koning Hiskia het vir hulle gebid en gesê: “Mag die Here, wat goed is, elkeen vergewe 19wat besluit het om God die Here, die God van hulle voorouers, te dien selfs al is dit nie volgens die reinheidsvoorskrifte van die heiligdom nie.” 20Die Here het Hiskia se gebed verhoor en die volk genees.
21Die Israeliete wat in Jerusalem byeen was, het die Fees van die Ongesuurde Brood sewe dae lank met vreugde gevier. Elke dag het die Leviete en priesters tot eer van die Here gesing, met begeleiding van musiekinstrumente wat aan die Here gewy is. 22Hiskia het die Leviete geprys vir die goeie insig wat hulle getoon het tydens die diens van die Here. Die feesvierings het sewe dae lank geduur. Maaltydoffers is gebring en sondes is voor die Here die God van hulle voorouers bely.
23Die hele vergadering het toe besluit om die fees vir ’n verdere sewe dae te verleng sodat hulle nog ’n week lank feesgevier het. 24Hiskia, koning van Juda, het 1 000 beeste en 7 000 skape vir die vergadering gegee. Die leiers het ook 1 000 beeste en 10 000 skape gegee. ’n Groot getal priesters het hulleself gereinig.
25Die hele vergadering van Juda het gejuig: die priesters, Leviete, die gemeente wat uit Israel gekom het, die uitlanders uit Israel, asook almal wat in Juda gewoon het. 26Daar was groot blydskap in die stad, want Jerusalem het sedert die dae van Salomo seun van koning Dawid nie weer ’n feesviering soos hierdie gesien nie. 27Nadat die priesters en Leviete opgestaan het en die seën oor die volk uitgespreek het, het God dit gehoor, want hulle gebed het die heilige woning in die hemel bereik.

Tans Gekies:

2 KRONIEKE 30: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan