2 KRONIEKE 8

8
Die baie prestasies van Salomo
1Dit was al twintig jaar sedert Salomo koning geword het. Die groot bouprojekte van die Here se tempel en sy koninklike paleis was afgehandel. 2Salomo het toe sy aandag gewy aan die herbou van die dorpe wat koning Hiram vir hom gegee het, en Israeliete daar gevestig. 3In hierdie tyd het Salomo teen die stad Hamat-Soba geveg en dit verower. 4Hy het Tadmor in die woestyn herbou en ook baie dorpe in die omgewing van Hamat as voorraadstede. 5Hy het die stede van Bet-Goron-Bo en Bet-Goron-Onder versterk, die mure herbou en hekke by die poorte aangebring. 6Hy het in hierdie tyd ook Baälat en ander voorraadstede herbou, en stede gebou waar sy strydwaens en perde#8:6 Of en berede magte. aangehou kon word. Hy het al die beplande bouwerk in Jerusalem, die Libanon en deur sy hele ryk voltooi.
7Daar was nog mense in die land wat nie Israeliete was nie, soos die Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete. 8Hulle was afstammelinge van die volke wat Israel nie heeltemal uitgeroei het nie. Salomo het hulle opgeroep vir dwangarbeid, soos dit vandag nog is. 9Maar Salomo het niemand uit die Israeliete as slawe gebruik nie. Hy het hulle aangestel om te dien as soldate, offisiere in sy leër, bevelvoerders oor sy strydwaens, en sy berede mag. 10Koning Salomo het ook 250 van hulle aangestel om toesig te hou oor die verskillende projekte.
11Salomo het sy vrou, die dogter van die farao, uit die Dawidstad laat verhuis na die nuwe paleis wat hy vir haar gebou het. Hy het gesê: “My vrou kan nie in koning Dawid van Israel se paleis woon nie, want dit is heilige grond omdat die ark van die Here daar gestaan het.”
12Toe het Salomo brandoffers vir die Here gebring op die altaar van die Here wat hy in die voorportaal van die ingang na die tempel toe gebou het. 13Die offerandes het van dag tot dag gewissel volgens die opdragte wat Moses gegee het. Offers is gewy op die Sabbatte, by nuwemaan en die drie jaarlikse feeste, naamlik die Fees van die Ongesuurde Brood#8:13 Ook bekend as die Paasfees., die Fees van die Weke en die Huttefees. 14Hy het die priesters se take bepaal volgens die voorskrifte van sy pa Dawid. Hy het ook die Leviete beveel om volgens voorskrifte die volk te lei in die lofprysings. Hulle moes ook die priesters bystaan in hulle daaglikse pligte. Hy het ook die poortwagters volgens hulle afdelings aangestel soos Dawid, die man van God, beveel het. 15Salomo het in geen opsig afgewyk van Dawid se voorskrifte aangaande die priesters, die Leviete en dié in bevel van die voorraadkamers nie.
16So het Salomo verseker dat al die werk in verband met die tempel van die Here uitgevoer is vanaf die dag toe die fondamente van die tempel van die Here gelê is totdat dit voltooi is.
17Later het Salomo na Esjon-Geber en Elat, hawestede aan die kus van Edom, gegaan. 18Hiram het vir hom skepe, beman deur sy eie ervare seemanne, gestuur. Hulle het saam met Salomo se manskappe na die land Ofir gevaar. Hulle het byna vyftien en ’n half ton goud vir koning Salomo daarvandaan teruggebring.

Tans Gekies:

2 KRONIEKE 8: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan