2 SAMUEL 2

2
Dawid as koning van Juda gekroon
1Hierna het Dawid vir die Here gevra: “Moet ek teruggaan na een van die stede in Juda?”
“Ja, gaan,” het die Here geantwoord.
Toe vra Dawid: “Na watter plek toe moet ek gaan?”
Die Here het geantwoord: “Na Hebron toe.”
2Dawid en sy vroue, Aginoam uit Jisreël en Abigajil die weduwee van Nabal uit Karmel, het daarnatoe gegaan; 3so ook al sy manskappe met hulle gesinne. Hulle het in die omstreke van Hebron gaan bly. 4Die leiers van Juda het na Dawid toe gekom en hom as koning oor Juda gesalf.
Toe Dawid hoor dat die inwoners van Jabes in Gilead vir Saul begrawe het, 5stuur hy vir hulle die volgende boodskap: “Mag die Here julle seën omdat julle getrou was aan julle koning Saul en hom begrawe het. 6Mag die Here ook aan julle getrou wees en julle beloon met sy onfeilbare liefde! Ek sal julle ook beloon vir wat julle gedoen het. 7Maar nou moet julle sterk en moedig wees, want julle koning Saul is dood. Neem kennis dat die inwoners van Juda my as hulle nuwe koning gekroon het.”
Is-Boset as koning van Israel gekroon
8Maar Abner seun van Ner, die bevelvoerder van Saul se leër, het reeds met Saul se seun Is-Boset na Maganajim gegaan. 9Daar het hy Is-Boset koning oor Gilead, Aser, Jisreël, Efraim, Benjamin en die res van Israel gemaak. 10Is-Boset was 40 jaar oud toe hy koning van Israel geword het en hy het twee jaar regeer. Net Juda het hulle agter Dawid geskaar. 11Dawid het Hebron sy hoofstad gemaak en van daar sewe en ’n half jaar oor Juda regeer.
’n Geveg tussen Israel en Juda
12Op ’n dag lei Abner die troepe van Is-Boset, seun van Saul, van Maganajim af teen Gibeon. 13Joab, seun van Seruja, het met Dawid se troepe uit Hebron getrek en Abner by die Gibeondam ontmoet. Die twee groepe het weerskante van die dam stelling ingeneem. 14Toe maak Abner ’n voorstel aan Joab: “Kom, laat ’n paar van ons soldate ’n vertoning gee van man-teen-man-gevegte.”
“Goed, laat hulle dit doen,” stem Joab in. 15Twaalf man uit elke kant, dié van Is-Boset en dié van Dawid, is gekies om teen mekaar te veg. 16Maar elkeen het sy teenstander aan die hare gegryp en sy swaard deur die ander een se ribbes gesteek sodat almal van hulle gesterf het. Daarna is die plek die Veld van Swaarde genoem. 17Daarna het die twee leërs mekaar aangeval. Teen die einde van die dag het Dawid se manskappe vir Abner en die leër van Israel verslaan.
Joab agtervolg Abner
18Joab, Abisai en Asael, die drie seuns van Seruja, was ook daardie dag daar. Asael kon so vinnig soos ’n wildsbok hardloop, 19en hy het Abner agternagesit. Hy het hom meedoënloos agtervolg. 20Toe Abner omkyk, roep hy uit: “Is dit jy, Asael?”
“Ja, dis ek,” antwoord hy.
21“Draai weg van my af,” sê Abner. “Pak liewer een van die jonger manne en vat sy wapens.” Maar Asael het geweier en het volgehou om hom te agtervolg.
22Abner het weer vir hom geskree: “Hou op om my te agtervolg! Hoekom moet ek jou doodmaak? Hoe sal ek weer jou broer Joab in die oë kan kyk?” 23Maar Asael wou nie kopgee nie. Abner het toe sy spies agtertoe deur sy agtervolger Asael se maag gesteek sodat dit by sy rug uitgekom het. Hy het op die grond geval en gesterf. Elkeen wat daar verbygekom het, het gaan stilstaan by die plek waar Asael doodgemaak is.
24Joab en Abisai het egter vir Abner bly agternasit. Teen sononder kom hulle aan by die heuwel Amma naby Gia op die pad na die wildernis van Gibeon. 25Daar bo-op die rant het Abner se manskappe uit Benjamin hulle rondom Abner geskaar en stelling ingeneem. 26Abner skree toe vir Joab: “Moet ons altyd ons verskille met die swaard oplos? Besef jy nie dit sal net tot bitterheid lei nie? Wanneer gaan jy vir jou manskappe sê hulle moet ophou om hulle broers te agtervolg?”
27Joab antwoord: “So waar as wat God leef, as jy nie nou gepraat het nie, sou die manskappe eers teen die oggend opgehou het om hulle broers te agtervolg.” 28Joab het toe op die ramshoring laat blaas en sy manskappe het die agtervolging van Israel gestaak.
29Abner en sy manskappe het deur die nag met die Jordaanvallei langs getrek. Hulle het deur die Jordaanrivier gegaan en die oggend#2:29 Of en al met die Bithronspruit langs. Die grondteks se betekenis is onduidelik. verder getrek totdat hulle by Maganajim aangekom het.
30Toe Joab die agtervolging staak, het hy sy soldate bymekaargeroep. Benewens Asael het net negentien gekort. 31Aan die kant van Abner het 360 man, almal uit Benjamin, gesneuwel. 32Joab en sy manskappe het die liggaam van Asael na Betlehem toe geneem en hom in die familiegraf begrawe. Daarna het hulle die hele nag deur getrek en Hebron teen dagbreek bereik.

Tans Gekies:

2 SAMUEL 2: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan