PREDIKER 3

3
’n Tyd vir alles
1Daar is ’n vaste tyd vir alles,
elke ding onder die son
het sy tyd:
2’n Tyd om gebore te word
en ’n tyd om te sterf.
’n Tyd om te plant
en ’n tyd om uit te ruk
wat geplant is.
3’n Tyd om dood te maak
en ’n tyd om gesond te maak.
’n Tyd om af te breek
en ’n tyd om op te bou.
4’n Tyd om te huil
en ’n tyd om te lag.
’n Tyd om te treur
en ’n tyd
om van vreugde te dans.
5’n Tyd om jou saad te saai
en ’n tyd
om jou saad terug te hou.#3:5 Grondteks ’n Tyd om klippe weg te gooi en ’n tyd om klippe bymekaar te maak.
’n Tyd om te omhels
en ’n tyd om weg te bly
van omhelsing.
6’n Tyd om te soek
en ’n tyd om te verloor.
’n Tyd om op te pas
en ’n tyd om weg te gooi.
7’n Tyd om te skeur
en ’n tyd om vas te werk.
’n Tyd om stil te bly
en ’n tyd om te praat.
8’n Tyd om lief te hê
en ’n tyd om te haat.
’n Tyd vir oorlog
en ’n tyd vir vrede.
9Watter voordeel is daar
vir die een wat iets doen
wat hom vermoei?
10Ek het nagedink oor die taak
waarmee God die mens belas.
11Hy het alles mooi gemaak,
Hy het aan die mens
’n visie gegee
van die ewigheid.
Tog kan mense nie
die volle omvang
van God se werk,
van begin tot end,
verstaan nie.
12Ek het besef daar is vir mense
niks beter nie
as om vrolik te wees
en tydens hul lewe
die goeie te geniet.
13Mense moet eet en drink
en onder al hul moeite
nog die goeie kan geniet.
Dit is geskenke van God.
14Ek weet alles wat God doen,
is vir ewig.
Niemand kan daar iets byvoeg
of daar iets van wegneem nie.
God doen dit sodat die mens
Hom sal eer.
15Wat is, was reeds.
Wat nog sal wees,
was ook alreeds,
God soek dít op
wat alreeds verby is.
Die lewe is onregverdig
16Ek het nog iets
onder die son opgemerk:
In die plek waar reg moet wees,
was daar onreg.
In die plek waar daar
geregtigheid moes wees,
was daar boosheid.
17Toe het ek by myself gedink:
“God spreek reg
oor die regverdige en goddelose,
want daar is ’n tyd vir elke saak,
ook vir alles
wat gedoen word.”
Almal is van stof
18Ek het besef
God laat mense toe
om in hulle boosheid
te volhard,
want Hy toets hulle.
So kan hulle insien
dat hulle niks beter is
as diere nie.
19Die mens se lot
is dieselfde
as die dier s’n.
Die een gaan dood,
nes die ander.
Hulle deel dieselfde asem.
Die mens het geen voordeel
bo diere nie,
want alles is sinloos.
20Almal gaan na dieselfde plek.
Hulle kom uit die stof
en hulle word weer stof.
21Wie weet of die asem
van die mens
boontoe gaan
en diere se asem
afgaan na die aarde toe?
22Ja, ek het agtergekom dat daar
niks beter is nie
as dat mense gelukkig is
in hulle werk.
Dit kom die mens toe.
Wie kan hom laat weet
wat ná hom sal gebeur?

Tans Gekies:

PREDIKER 3: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan