JEREMIA 36

36
Baruk lees Jeremia se boodskappe in die tempel voor
1Die Here het weer vir Jeremia ’n boodskap gegee. Dit was in die vierde jaar wat Jojakim seun van Josia koning van Juda was. Hy het gesê: 2“Kry ’n notaboek en skryf al die boodskappe neer wat Ek vir jou oor Israel, Juda en die ander nasies gegee het. Begin so ver terug as die tyd van koning Josia toe Ek die eerste boodskap vir jou gegee het tot dié wat Ek nou vir jou gee. 3Miskien sal die mense van Juda ophou om verkeerd te doen as hulle al die slegte dinge hoor wat Ek vir hulle beplan. Dan sal Ek hulle oortredings en sondes kan vergewe.”
4Jeremia het toe vir Baruk seun van Nerija laat roep. Baruk het al die boodskappe van die Here wat Jeremia vir hom hardop voorgedra het, op ’n boekrol neergeskryf. 5Jeremia het toe vir Baruk gesê: “Ek mag nie naby die tempel kom nie. 6Maar gaan jy op die volgende vasdag na die tempel toe en lees daar die boodskappe van die Here wat hier geskryf staan vir die volk. Lees dit sodat ook al die mense uit die verskillende dorpe in Juda dit kan hoor. 7Miskien sal hulle die Here om genade smeek en ophou om so sleg te lewe. Die Here is baie kwaad. Hy het oordeel oor hierdie volk aangekondig.”
8Baruk seun van Nerija het alles gedoen wat Jeremia hom beveel het. Hy het die boodskappe van die Here wat geskryf was vir die mense by die tempel voorgelees.
9In die vyfde jaar wat Jojakim koning van Juda was, in die laatherfs#36:9 Grondteks die negende maand., is ’n vasdag vir die Here aangekondig. Al die mense het uit die dorpe in Juda en Jerusalem gekom om hierdie dag by die tempel by te woon. 10Baruk het Jeremia se boodskappe uit die boekrol in die tempel vir almal voorgelees. Hulle was in Gemarja seun van Safan die sekretaris se kantoor toe hy dit gedoen het. Hierdie kamer was in die boonste voorhof, naby die Nuwe Ingang van die tempel.
11Miga seun van Gemarja en kleinseun van Safan het ook die boodskappe van die Here uit die boekrol gehoor. 12Hy het toe na die sekretaris se kantoor in die paleis gegaan. Al die senior amptenare was in die vertrek besig met ’n vergadering. Hulle was Elisama die staatsekretaris, Delaja seun van Semaja, Elnatan seun van Akbor, Gemarja seun van Safan, Sedekia seun van Gananja en ook nog ander van die amptenare.
13Toe Miga vir hulle vertel wat Baruk vir die mense by die tempel voorgelees het, 14het die amptenare vir Jehudi gestuur om Baruk te gaan vra om ook vir hulle die boodskappe wat hy vir die volk gelees het, te kom lees. Jehudi was die seun van Netanja en kleinseun van Selemja, en ’n agterkleinseun van Kusi. Baruk het die boek gevat en na die paleis toe gegaan waar hulle was. 15Die amptenare het Baruk genooi om te sit en uit die boekrol vir hulle voor te lees. Baruk het dit vir hulle voorgelees.
16Nadat hulle alles gehoor het wat Baruk voorgelees het, het hulle bevrees na mekaar gekyk. Hulle het vir Baruk gesê: “Ons moet verseker vir die koning gaan vertel wat ons gehoor het.” 17Maar eers wou hulle by Baruk hoor: “Sê vir ons, hoe het jy hierdie boodskappe gekry? Kom dit direk van Jeremia af?”
18Baruk het hulle geantwoord: “Jeremia het vir my presies gesê wat om te skryf, woord vir woord. Ek het dit met ink op die boekrol neergeskryf.”
19Die amptenare se raad aan Baruk was: “Jy en Jeremia moet liewer iewers gaan wegkruip. Niemand moet weet waar julle is nie!” 20Die amptenare het die boekrol veilig in Elisama die sekretaris se kantoor weggebêre. Hulle het toe na die paleis toe gegaan en vir die koning alles oorvertel wat hulle gehoor het.
Koning Jojakim verbrand die boekrol
21Koning Jojakim het Jehudi gestuur om die boekrol te gaan haal. Hy het dit in Elisama se kantoor gaan haal en vir die koning voorgelees terwyl al sy amptenare bygestaan het. 22Dit was laatherfs. Die koning het in ’n warm deel van die paleis voor die vuur gesit. 23Baruk het die boekrol in kolomme geskryf. Elke keer as Jehudi drie of vier van hierdie kolomme voorgelees het, het die koning sy mes gebruik om dit uit die boekrol te sny. Hy het deel vir deel in die vuur gegooi. So het hy aangehou totdat hy die hele boekrol verbrand het.
24Die koning en sy amptenare het geluister na alles wat geskryf was, maar dit het hulle nie banggemaak nie. Hulle het ook nie hulle klere geskeur nie.
25Selfs nadat Elnatan, Delaja en Gemarja die koning gesmeek het om nie die boek te verbrand nie, wou hy nie luister nie.
26Hierna het die koning vir sy seun Jeragmeël, Seraja seun van Asriël en ook vir Selemja seun van Abdeël opdrag gegee om Baruk en Jeremia te arresteer. Maar die Here het Baruk en Jeremia weggesteek.
Jeremia skryf die boekrol oor
27Die koning het die boekrol wat Jeremia dikteer en Baruk geskryf het, verbrand. Nadat hy dit gedoen het, het die Here weer vir Jeremia ’n boodskap gegee. Hy het gesê: 28“Kry vir jou ’n ander boekrol en skryf weer alles neer wat in die boekrol gestaan het wat Jojakim verbrand het.
29“Sê dan vir koning Jojakim van Juda: Die Here sê: Jy het die boek verbrand, want jy sê: Hoekom het jy daarop geskryf dat die koning van Babel hierdie land gaan verwoes en dat geen mens of dier gaan oorleef nie?
30“Die Here sê oor Jojakim, die koning van Juda, die volgende: Hy sal nie iemand uit sy familie hê om die koningskap van Dawid voort te sit nie. Hulle sal sy lyk buite weggooi en hom nie begrawe nie. Hy sal so oop lê in die hitte van die dag en in die koue van die nag. 31Ek sal hom, sy familie en sy amptenare oor hulle sonde straf. Ek sal hulle en die inwoners van Jerusalem en ook al die mense van Juda tref met al die rampe wat Ek beloof het hulle gaan tref. Hulle wou nie na my waarskuwings luister nie!”
32Jeremia het toe weer ’n papier geneem en vir sy sekretaris Baruk gedikteer wat om te skryf. Hy het alles weer neergeskryf soos dit in die boekrol was wat koning Jojakim verbrand het. Jeremia het egter in hierdie boek nog baie boodskappe soortgelyk aan die ander bygevoeg.

Tans Gekies:

JEREMIA 36: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan