JEREMIA 49

49
’n Boodskap oor Ammon
1Hierdie boodskap gaan oor die Ammoniete.
Die Here sê:
“Het Israel nie ’n nageslag
wat die grond van Gad
kan erf nie?
Hoekom het julle wat Milkom aanbid,
Gad ingeneem
en in sy dorpe kom bly?
2Die tyd kom,” sê die Here,
“dat Ek jou sal straf daarvoor
en Rabba,
die Ammonietestad,
sal vernietig.
Net ’n hoop bourommel
sal oorbly.
Die dorpies rondom sal ook
afgebrand word.
Dan sal Israel
weer die land terugneem
wat julle van hulle afgevat het,”
sê die Here.
3“Huil droewig, Gesbon,
want die stad Ai is verwoes.
Kla maar, inwoners van Rabba!
Trek julle rouklere aan,
huil en loop heen en weer
tussen die mure.
Want julle god Milkom
sal in ballingskap gaan,
saam met sy priesters
en sy amptenare.
4Wat spog julle so
met julle vrugbare valleie,
julle ontroue mense?
Julle vertrou op julle rykdom.
Julle dink niemand
kan julle aanval nie!
5Ek, die oppermagtige Here,
die Almagtige, sê:
Kyk, Ek bring verskrikking
oor julle.
Julle bure sal julle uitdryf,
en julle sal verstrooi word.
Niemand sal die vlugtelinge
weer bymekaarbring nie.
6“Maar as alles eendag verby is,
sal Ek Ammon
se lot weer verander,”
sê die Here.
’n Boodskap oor Edom
7Hierdie boodskap handel oor Edom. Die Here, die Almagtige, sê:
“Is daar nie meer mense
in Teman
wat verstandig is nie?
Wat het geword van mense
met gesonde verstand?
Is daar niemand oor
met goeie raad nie?
8Draai om en vlug weg!
Julle wat in Dedan bly,
kruip weg in grotte!
Want Ek gaan Edom
met ’n ramp tref.
Die tyd van afrekening
het gekom.
9Los die druiweplukker nie altyd
iets in die wingerd nie?
As diewe in die nag inbreek,
neem hulle ook nie alles saam nie.
10Maar Ek sal Edom kaalstroop.
Niemand sal vir My kan wegkruip nie.
Ek sal hulle kinders,
familie en bure uitroei.
Edom sal ophou bestaan.
11Los julle weeskinders vir My.
Ek sal sorg dat hulle bly lewe.
Julle weduwees kan ook op My
vertrou.”
12Die Here sê: “As onskuldige mense swaar moes kry, hoeveel te meer verdien julle dit nie! Julle sal nie ongestraf bly nie, julle sal die beker moet drink! 13Ek het gesweer – so waar as Ek leef! – dat Bosra ’n plek sal word waarvoor mense sal skrik. Die stad sal in ’n puinhoop verander. Mense sal die plek as ’n vloek beskou en met die stad spot. Al die dorpies in die omgewing sal vir altyd verwoes lê.”
14Ek het ’n boodskap
van die Here gekry:
’n Gesant is na die nasies gestuur
om te sê:
“Span saam teen Edom!
Maak gereed vir ’n geveg!
15“Ek maak julle niksseggend
onder die nasies,
verag deur mense.
16Die vrees wat julle inboesem,
ook julle hoogmoed,
mislei julle.
Julle bly in rotsskeure
en beheer die hoogste dele
van die heuwel.
Maar al bly julle
op hoë pieke
soos arende,
sal Ek julle hard aarde toe bring.
Ek, die Here, sê dit!
17“Edom sal ’n verskrikking
vir almal wees.
Almal wat daar verbygaan,
sal ontsteld wees
en na hulle asems snak
oor al die rampe
wat hulle getref het.
18Die vernietiging van Edom
sal net so erg wees
as toe Sodom en Gomorra
en die dorpe in die omgewing
verwoes is.
Niemand sal meer daar bly nie,”
sê die Here.
19“Soos ’n leeu
wat by die Jordaanrivier
uit die bosse kom
op soek na groen weivelde,
so sal Ek hulle
uit hulle eie land verjaag.
Ek sal ’n leier van my keuse
aanstel.
Wie kan met My vergelyk word?
Wie sal My uitdaag?
Watter leier kan My opponeer?
20Luister na die Here se planne
vir Edom
en vir die mense van Teman:
Selfs die klein kindertjies
sal weggesleep word.
En hulle huise sal leeg staan.
21Wanneer Edom tot ’n val kom,
sal die aarde skud.
Hulle geroep sal weerklink
tot so ver as die Rietsee.
22Kyk! Die vyand kom vinnig
soos ’n arend
wat sy vlerke uitsprei
en hoog vlieg
en dan op sy prooi toesak.
So sal die vyand
met Bosra maak.
Daardie dag
sal die dapperste soldate
net so bang wees
soos ’n vrou
wat geboorte gee.”
’n Boodskap oor Damaskus
23Oor Damaskus. Die Here sê:
“Hamat en Arpad is ontsteld,
hulle het slegte nuus gehoor.
Hulle is ontmoedig,
onrustig
soos ’n onstuimige see.
24Damaskus is moedeloos.
Sy het omgedraai om te vlug,
paniek het oor hulle toegesak.
Angs het hulle beetgepak,
bekommernis en pyn
oorweldig hulle,
soos vir ’n vrou wat geboorte gee.
25Die stad is beroemd,
bekend vir vrolikheid.
Hoe is dit moontlik
dat so ’n stad
nou verlate kan wees?
26Die jong mans sal op die strate val
en doodgaan.
Al die soldate sal sterf,”
sê die Here, die Almagtige.
27“Ek sal ’n vuur in Damaskus
aan die brand steek
wat al koning Ben-Hadad se paleise
sal afbrand.”
’n Boodskap oor Kedar en Gasor
28Die boodskap gaan oor Kedar en die koninkryke van Gasor. Koning Nebukadnesar van Babel het hulle aangeval. Die Here sê:
“Maak reg en val Kedar aan!
Vernietig die mense
uit die ooste!
29Hulle tente en vee
sal geplunder word
en hulle skuilings, besittings
en kamele weggedra word.
Mense sal uitroep:
‘Daar is oral gevaar!’
30“Vlug vir julle lewens!
Gaan kruip weg in grotte,
inwoners van Gasor,”
sê die Here.
“Koning Nebukadnesar van Babel
smee ’n komplot teen julle.
Hy gaan ’n plan teen julle
in aksie stel.”
31Die Here se opdrag is:
“Val die volk aan
wat so rustig is,
hulle wat so veilig woon.
Hulle woon afgesonderd,
sonder deure of hekke.
32Al hulle kamele sal buit wees,
hulle groot getalle vee
is daar om te plunder.
Ek sal hierdie mense wat in
afgesonderde plekke woon,
in alle windrigtings verjaag.
Ek sal sorg dat rampe
hulle van alle kante af tref,”
sê die Here.
33“Gasor sal ’n eensame
en verlate plek wees.
Niemand sal meer daar woon nie.
Dit sal ’n lêplek wees
vir jakkalse.”
’n Boodskap oor Elam
34Die Here het vir die profeet Jeremia ’n boodskap oor Elam gegee. Dit was net toe Sedekia koning van Juda geword het.
35Die Here, die Almagtige, sê:
“Ek sal die pyl en boog van Elam,
die setel van hulle mag,
aan stukke breek.
36Ek sal vyande
uit alle rigtings
na Elam toe bring,
en Ek sal hulle verstrooi
in alle rigtings.
Daar sal geen nasie wees
waar Elam se ballinge
nie sal wees nie.
37“Ek sal Elam bangmaak
vir hulle vyande,
vir dié wat hulle lewe soek.
Ek bring onheil oor hulle.
My gloeiende woede
sal onheil oor Elam bring,”
sê die Here.
“Ek sal oorloë oor hulle bring
totdat Ek hulle uitgeroei het.
38Ek sal hulle konings en leiers
vernietig.
Dan sal Ek
die koning van Elam wees,”
sê die Here.
39“Maar eendag, in die toekoms,
sal Ek weer die lot
van Elam verander,”
sê die Here.

Tans Gekies:

JEREMIA 49: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan