JEREMIA 51

51
1Die Here sê:
“Ek sal ’n verwoester aanhits
teen Babel
en die inwoners
van Babel#51:1 Grondteks Leb-Kamai, wat ’n kodenaam vir Babel is..
2Ek stuur vreemdelinge na Babel
wat hulle sal verstrooi.
Op die noodlottige dag
sal hulle Babel van alle kante af
aanval,
en hulle sal die land kaal steel.
3Moenie die boogskutters
kans gee om hulle boë te span
of hulle gevegsklere
aan te trek nie.
Moenie die jongmense spaar nie.
Nee, roei die hele leër uit!
4Hulle sal dood neerval in Babel
of dodelik gewond
in die strate lê.
5Want Ek het Israel en Juda
nie in die steek gelaat nie.
Al is hulle land vol oortredings
teen die Heilige van Israel,
is Ek steeds hulle God,
die Here, die Almagtige.”
6Vlug uit Babel!
Red julleself!
Moenie dat Babel se sonde
julle vernietig nie!
Dit is die tyd
van die Here se wraak,
Hy gaan die stad
nou terugbetaal.
7Babel is ’n goue beker
in die Here se hande.
Die hele wêreld drink daaruit
en word dronk.
Die nasies drink van die wyn
en verloor hulle verstand.
8Skielik het Babel nou ook geval
en is verwoes.
Huil oor die stad!
Gee vir haar medisyne,
miskien is daar genesing.
9Ons sou die stad help
as ons kon,
maar niks kan Babel
nou meer genees nie.
Vergeet van die stad!
Laat elkeen na sy eie land
teruggaan!
Die oordeel oor die stad
reik tot by die hemel,
styg tot by die wolke.
10Die Here het
ons onskuld bewys.
Kom ons vertel in Jerusalem#51:10 Grondteks Sion.
wat die Here ons God
gedoen het.
11Maak julle pyle skerp!
Neem julle skilde op!
Want die Here het die gedagte
by die koning
van die Mediërs
laat posvat
om op te trek
teen die Babiloniërs
en hulle te vernietig.
Dit is hoe die Here wraak neem,
Hom wreek oor sy tempel.
12Lig die vlag
om die mure van Babel
aan te val.
Versterk die wagposte!
Plaas wagte oral uit!
Stel hinderlae op!
Die Here het ’n plan
met die Babiloniërs,
Hy voer dit uit!
13Julle woon langs baie water.
Julle is skatryk.
Maar julle einde het aangebreek,
julle lewensdraadjie is geknip!
14Die Here, die Almagtige,
sweer by Homself:
“Julle vyande sal oor julle spoel
soos ’n swerm sprinkane
in ’n koringland.
Hulle sal die oorwinning oor julle
uitskreeu.”
’n Loflied vir die Here
15Deur sy krag het Hy
die aarde gemaak,
deur sy wysheid
die wêreld tot stand gebring.
Deur sy insig het Hy
die hemel uitgestrek.
16As Hy praat, is daar
donderweer in die hemel.
Hy laat die wolke opstyg
oor die aarde.
Hy laat die weerlig blits
as dit reën.
Hy laat die wind
uit sy stoorkamers kom.
17In vergelyking met Hom
is elke mens ’n dwaas,
sonder enige kennis!
Goudsmede maak afgodsbeelde,
maar hulle kom in die skande.
Hierdie beelde is ’n leuen,
want hulle haal nie asem nie.
18Afgode is eintlik nutteloos,
’n bedrogspul!
As die tyd van afrekening kom,
sal hulle vernietig word.
19Maar die God van Israel
is nie so ’n afgod nie.
Hy het alles wat bestaan,
gemaak,
ook sy eie volk,
sy besonderse besitting.
Hy is die Here, die Almagtige!
Groot straf vir Babel
20“Jy is my hamer,
my oorlogswapen.
Ek gebruik jou
om nasies mee te verpletter
en koninkryke te verwoes.
21Ek gebruik jou om perde
en ruiters mee te tref,
ook strydwaens
met hulle bemanning.
22Met jou hulp
sal Ek mans en vroue uitwis,
ook oumense en kinders,
jong seuns en meisies.
23Ek het jou gebruik om herders
en hulle vee uit te roei,
so ook plaaswerkers
en hulle osse.
Ek sal jou gebruik
om regeerders en amptenare
te vernietig.”
24Die Here sê ook:
“Voor julle oë sal Ek
Babel en die Babiloniërs
terugbetaal
vir al die kwaad
wat hulle aangerig het
in Jerusalem#51:24 Grondteks Sion..
Julle sal dit sien gebeur.
25Dit kan jy maar weet,
vernietiger van die aarde,
verwoester van die wêreld,
Ek is jou vyand,”
sê die Here.
“Ek sal teen jou optree,
Ek gooi jou teen die berghange af.
Ek maak jou
’n verskroeide berg.
26Jy sal vir altyd verwoes lê.
Niemand sal uit jou rommel
’n klip kan gebruik
vir ’n hoeksteen of ’n steen
vir die fondasie nie,”
sê die Here.
27Hou ’n vaandel op oor die land,
blaas op die ramshoring
onder die nasies.
Berei die nasies voor vir oorlog
teen Babel.
Roep die koninkryke van Ararat,
Minni en Askenas op
teen Babel.
Stel dan ’n bevelvoerder aan
en kom met soveel perde
soos ’n swerm sprinkane.
28Bring die leërs
van die konings van Medië,
hulle leiers en die amptenare
en al die lande waaroor hulle
regeer teen hulle.
29Die land bewe en krul,
want die plan van die Here
staan vas teen Babel:
Hy maak Babel ’n verlate plek –
niemand sal daar bly nie.
30Die soldate van Babel
veg nie meer nie.
Hulle sit nie ’n voet
uit hulle
versterkte skuilings nie.
Hulle moed is gebreek,
hulle is so bang soos vroue.
Hulle huise is aan die brand,
die stadshekke afgebreek.
31Van oral kom
boodskappers aangehardloop
met nuus
vir die koning van Babel:
Die stad is van alle kante af
ingeval!
32Al die ontsnaproetes is afgesny,
die versterkings
is aan die brand gesteek,
en die soldate is lam van angs!
33Die Here, die Almagtige,
die God van Israel, sê:
“Babel is soos ’n dorsvloer
waar hulle koring trap.
Binnekort sal Babel se oestyd
aanbreek.”
34“Koning Nebukadnesar
van Babel
het ons verteer, verpletter
en al ons kragte getap.
Hy het ons
soos ’n groot monster
ingesluk.
Hy het sy maag vol gemaak
met ons skatte.
Hy het ons uit ons eie land
gegooi.”
35Die mense van Jerusalem#51:35 Grondteks Sion. sê:
“Mag al die geweld
wat ons moes deurgaan,
na Babel terugkom.”
Jerusalem sê:
“Mag die Babiloniërs
die skuld vir ons bloed betaal!”
Die Here se wraak op Babel
36Die Here sê vir Juda:
“Ek sal julle saak behartig
en namens julle wraak neem.
Ek sal Babel se waters
en fonteine laat opdroog.
37Babel sal verander
in ’n bouval,
’n lêplek vir jakkalse,
’n plek wat mense
met afgryse en veragting
vervul.
Niemand sal meer
daar woon nie.
38Hulle brul saam soos leeus,
grom soos leeuwelpies.
39Terwyl hulle nog dronk is
van die wyn,
berei Ek vir hulle ’n ander fees.
Ek sal hulle dronk maak
sodat hulle vrolik kan raak.
Hulle sal aan die slaap raak
en nooit weer
wakker word nie,”
sê die Here.
40“Ek sal hulle
na die slagpale bring
soos lammers, ramme en bokke.
41Hoe verskriklik
is die val van Babel#51:41 Grondteks Sesak, ’n kodenaam vir Babel.,
vroeër geprys deur die wêreld!
Nou sal Babel afstootlik wees
onder die nasies.
42Die see het opgestoot
en oor Babel gespoel.
Die stad lê toe onder die golwe.
43Babel se stede lê in puin,
’n droë land, ’n woestynland.
Niemand woon meer daar,
of gaan selfs naby verby nie.
44Ek sal Bel in Babel straf.
Ek sal hom laat uitspoeg
wat hy ingesluk het.
Die nasies sal hom nie
langer aanbid nie.
Ja, Babel se mure het geval.”
’n Boodskap aan die ballinge
45“My volk, maak dat julle
uit Babel wegkom!
Vlug vir julle lewens,
want die Here se woede gloei!
46Moenie angstig raak
as julle in die land
die nuus hoor
van magte wat optrek nie.
Elke jaar is daar sulke stories
in omloop van leiers
wat teen mekaar veg.
47Kyk, die tyd kom
dat Ek Babel se afgode
gaan straf.
Die hele land
sal in die skande kom
en lyke sal oral rondlê.
48Die hemel en die aarde
en alles daarin
sal sing van blydskap oor Babel,”
sê die Here.
“Want die leërs
van die verwoestende vyand
sal uit die noorde
teen Babel optrek.
49“Babel het baie mense
van Israel
doodgemaak.
Hulle het ook baie ander mense
in die wêreld
doodgemaak.
Nou is dit hulle beurt
om te sterf!
50Julle wat die dood
vrygespring het, vlug!
Moenie staan en talm nie!
Al gaan julle na veraf lande,
dink aan die Here
en aan Jerusalem.”
51Julle sê: “Ons is verneder.
Ons is beledig en skaam.
Want vreemdelinge het
die Here se tempel ontwy.”
52Die Here het geantwoord:
“Die tyd kom
dat Ek Babel se afgode straf.
Gewonde mense sal oral
deur die land kreun.
53Al reik Babel tot aan die hemel,
en al is die torings versterk,
nogtans sal die vernietigers
teen die stad optrek,”
sê die Here.
Verwoesting van Babel
54“Hoor hoe skreeu hulle in Babel!
Dis die geluid
van groot vernietiging
in die land van die Babiloniërs#51:54 Grondteks Galdeërs..
55Want die Here verwoes Babel.
Hy laat die rumoer ophou.
Die vyand sal met ’n gedreun
teen hulle aanstorm
soos ’n groot massa water.
Hulle oorlogskrete
sal deur die stad klink.
56’n Vernietiger trek op
teen Babel
om die stad te verwoes.
Hulle vang die soldate
en slaan hulle wapens
aan stukke.
Omdat die Here ’n God is
wat regverdig straf,
kry hulle wat hulle verdien.
57Ek maak die leiers,
amptenare, wyse manne,
bestuurders, bevelvoerders
en soldate dronk.
Hulle sal aan die slaap raak
en nooit weer
wakker word nie!”
sê die Koning wie se Naam die Here,
die Almagtige, is.
58Die Here, die Almagtige,
sê ook:
“Babel se mure is baie dik,
maar sal gelykgemaak word
met die grond.
Die stadspoorte is baie hoog,
maar vuur sal dit verbrand.
Baie werkers uit ander lande
het vir hulle gewerk,
maar dit was tevergeefs.
Vuur sal hulle werk verbrand!”
Jeremia se boodskap vir Babel
59Die profeet Jeremia het ’n opdrag saam met Seraja na Babel toe gestuur. Seraja was die seun van Nerija en kleinseun van Magseja. Hy het saam met koning Sedekia na Babel toe gereis. Seraja was verantwoordelik vir die reisreëlings. Dit was in die vierde jaar wat koning Sedekia oor Juda regeer het.
60Jeremia het al die rampe wat Babel gou sou tref op ’n boekrol geskryf. 61Hy het vir Seraja gesê: “Wanneer jy in Babel kom, moet jy alles wat in die boekrol geskryf staan, hardop lees. 62Dan moet jy sê: ‘Here, U het gesê U gaan hierdie stad verwoes. Geen mens of dier sal meer hier wees nie. Die stad sal vir altyd leeg en verlate bly.’
63“Wanneer jy die boek klaar gelees het, maak dit vas aan ’n klip en gooi dit in die Eufraatrivier. 64Sê dan: ‘Dieselfde sal met Babel gebeur. Babel sal sink en nooit weer opkom nie. Dit sal gebeur omdat die Here rampe oor hulle sal bring. Al hulle mense sal vernietig word.’”
Hier eindig die boodskappe van Jeremia.

Tans Gekies:

JEREMIA 51: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan