JOËL 3

3
Oordeel oor vyandige nasies
1Die Here sê: “Wanneer dié tyd aanbreek, sal Ek Juda en Jerusalem weer voorspoedig maak.#3:1 3:1-21 is in die grondteks 4:1-21. 2Ek sal al die nasies van die wêreld in die Josafatvallei bymekaarmaak. Daar sal Ek hulle oordeel omdat hulle my volk kwaad aangedoen het. Hulle het Israel wat aan My behoort onder die nasies verstrooi en my land verdeel. 3Hulle werp die lot om te besluit wie van my volk hulle slawe gaan wees. Hulle ruil jong seuns vir prostitute en jong dogters vir genoeg wyn om dronk te word.
4“Wat het julle teen My, Tirus, Sidon en streke van die Filistyne? Probeer julle wraak neem op My? As dit die geval is, wees versigtig! Ek sal julle baie skielik tref en julle terugbetaal vir alles wat julle gedoen het.
5“Julle het my goud en my silwer gesteel. Julle het my kosbare skatte na julle heidense tempels toe weggedra. 6Julle het die mense van Juda en Jerusalem aan die Grieke verkoop wat hulle ver van hulle eie land af weggeneem het.
7“Maar Ek sal hulle terugbring uit al hierdie plekke waarheen julle hulle verkoop het. Dan sal Ek julle terugbetaal vir alles wat julle gedoen het. 8Ek sal julle seuns en julle dogters aan die mense van Juda verkoop, wat hulle weer aan die mense van die veraf land Arabië#3:8 Grondteks die Sabiërs. sal verkoop. Ek, die Here, sê dit!”
9Sê aan die nasies: “Sonder julle af vir oorlog! Roep julle dapperste soldate op! Laat die krygsmanne uittrek vir die aanval! 10Maak swaarde van julle ploegimplemente en spiese van julle snoeiskêre. Selfs die swakkeling moet sê: ‘Ek is ’n dapper soldaat!’ 11Al julle nasies van die omringende omgewings, kom gou! Kom bymekaar in die Josafatlaagte.”
Here, bring u soldate af daarheen!
12“Die nasies moet wapens opneem en na die Josafatlaagte toe optrek. Daar sal Ek oor al die nasies van die omgewing oordeel. 13Steek die sekel in, want die oes is ryp. Kom trap, want die wynpers is vol. Die wynvate loop oor van al die onreg van hierdie mense.”
14Derduisende mense wag in die laagte in afwagting vir die uitspraak. Dit is hier waar die Dag van die Here binnekort sal aanbreek. 15Die son en maan sal verdonker. Die sterre sal nie meer skyn nie.
16Die Here sal brul uit Sion, uit Jerusalem sal Hy bulder. Die hemel en die aarde sal begin skud. Maar vir die mense van Israel is die Here ’n skuilplek en ’n veilige vesting.
Voorspoed vir God se volk
17“Julle sal dan weet dat Ek, die Here julle God, op Sion#3:17 Sionsberg verwys na die berg waarop die tempel in Jerusalem gebou is., my heilige berg, woon. Jerusalem sal altyd ’n heiligdom wees. Geen vreemdelinge sal meer daar deurtrek nie.
18“In dié tyd sal soet wyn van die berge afdrup, melk sal teen die heuwels afvloei. Die droë spruite van Juda sal vol water wees. ’n Fontein sal in die tempel van die Here ontspring en die vallei van akasias#3:18 Grondteks Sittim. natlei. 19Egipte en Edom het die mense van Juda aangeval en onskuldige mense doodgemaak. As gevolg hiervan sal Egipte ’n verlate ruïne word en Edom ’n onbewoonbare woestyn.
20“Maar Juda sal vir altyd bly voortbestaan. Jerusalem sal vir geslag na geslag daar wees. 21Die oortredings van my volk wat Ek nog nie vergewe het nie, sal Ek vergewe. Ek, die Here, sal Jerusalem my blyplek maak.”

Tans Gekies:

JOËL 3: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan