JOSUA 22

22
Die oostelike stamme gaan huis toe
1Daarna het Josua die stamme van Ruben en Gad en die halwe Manassestam by hom laat bymekaarkom. 2Hy het vir hulle gesê: “Julle het pligsgetrou alles nagekom wat Moses, die dienaar van die Here, aan julle opgedra het. Julle het elke opdrag uitgevoer wat ek vir julle gegee het. 3Al het dit lank geduur, het julle nooit die ander stamme in die steek gelaat nie. Julle het alles gedoen wat die Here julle God julle beveel het. 4Die Here julle God het soos Hy beloof het, vir julle volksgenote permanente blyplek gegee. Julle kan nou omdraai en teruggaan na julle woonplekke toe, na die grond wat Moses, die dienaar van die Here, vir julle oorkant die Jordaanrivier gegee het. 5Let baie goed daarop dat julle die gebod en die wet wat Moses, die dienaar van die Here, julle voorgehou het, moet gehoorsaam. Dit beteken dat julle die Here julle God moet liefhê, die koers moet inslaan wat Hy van julle verwag, bedag moet wees op wat Hy wil hê, daaraan vashou en met hart en siel vir Hom lewe.”
6Josua het hulle seën toegewens en hulle weggestuur. Hulle is toe terug na hulle eie woonplek toe. 7Moses het vir die een helfte van die Manassestam grond in Basan gegee. Josua het vir die ander helfte van die stam grond wes van die Jordaan saam met die ander stamme gegee. Toe Josua hulle nou terugstuur na hulle woonplekke toe, het hy hulle geseën 8en vir hulle gesê: “Gaan terug en deel alles wat julle by julle vyande afgeneem het met julle families by die huis. Deel julle rykdom met hulle, julle groot troppe vee, die silwer, goud, koper en yster, en die baie klere wat julle gekry het.”
9Die Rubeniete en Gadiete en die mans van die halwe Manassestam het die ander Israeliete in Silo in Kanaän agtergelaat. Hulle het teruggegaan na Gilead, na hulle grond wat hulle verower het, soos die Here hulle deur Moses beveel het.
Die gedenkteken by Gelilot
10Hulle het by Gelilot by die Jordaanrivier gekom. Dit is nog aan Kanaän se kant van die rivier. Daar het hulle langs die Jordaan ’n baie groot en mooi altaar gebou.
11Toe die ander Israeliete hoor dat die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam die altaar by Gelilot aan hulle kant in Kanaän opgerig het, 12het hulle by Silo saamgetrek om oorlog teen die twee en ’n half stamme te gaan maak.
13Die Israeliete het vir Pinehas, die seun van die priester Eleasar, na die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam in Gilead gestuur. 14Tien leiers wat elkeen hoof was van ’n Israelitiese familiegroep, en die tien ander stamme verteenwoordig het, het Pinehas vergesel.
15Hulle het by die stamme Ruben, Gad en die halwe Manassestam in Gilead aangekom en vir hulle gesê: 16“Die volksvergadering van die Here wil by julle hoor hoekom julle so ontrou is aan die God van Israel. Julle het julle rug op die Here gedraai toe julle die altaar gebou het! Julle is mos nou in opstand teen Hom! 17Was ons oortreding by Peor nie groot genoeg nie? Ons het tot vandag toe nog nie die smet daarvan afgeskud nie, selfs al het die Here die gemeenskap daarvoor gestraf. 18Julle is nou besig om van Hom af weg te dwaal. Julle kom vandag in opstand teen Hom en net môre is Hy woedend teen ons almal in die gemeenskap van Israel. 19As julle grond dan besoedel is, moet julle liewer oorkom na die Here se gebied waar die Here in sy tabernakel woon. Kry liewer grond tussen ons, maar moenie in verset kom teen die Here of ons deel maak van julle verset deur ’n ander altaar vir julleself te bou nie. Daar is net een altaar van die Here ons God. 20Was die Here nie briesend vir die hele gemeenskap van Israel toe Akan, die seun van Serag, ontrou was en van die goed van die banvloek gevat het nie? Hy was nie die enigste een wat deur sy sonde dood is nie.”
21Die Rubeniete, die Gadiete en die mense van die halwe Manassestam het die hoofde van die familiegroep geantwoord: 22“Die Here alleen is God, net die Here is God! Hy weet, en laat Israel ook weet dat julle nie vandag ons lewens moet spaar as ons dit uit opstand of met slegte bedoelings teen die Here gebou het nie. 23Ons het nie die altaar gebou om ons rug op die Here te draai nie. As ons dit gebou het om daarop brandoffers, graanoffers en maaltydoffers te bring, moet die Here ons straf. 24Ons het dit gebou omdat ons bekommerd was dat julle nageslag net oormôre vir ons nasate sal sê: ‘Wat het julle met die Here, die God van Israel, te doen? 25Die Here het die Jordaanrivier as ’n skeiding tussen ons en julle van Ruben en Gad gestel. Julle het nie deel aan die Here nie!’ Julle nageslag sal dan ons nasate keer om die Here te dien. 26Ons het daarom besluit om vir ons die altaar te bou, nie met die oog op brandoffers of diere-offers nie, 27maar as herinneringsteken vir ons en vir julle en vir ons nageslagte ná ons, dat ons ook die reg het om die Here by sy heiligdom te gaan aanbid met ons brandoffers, ons ander diere-offers en ons maaltydoffers. Julle nageslag sal nie later vir ons nageslag kan sê: ‘Julle het geen deel aan die Here nie.’ 28Ons het by onsself gedink dat as hulle later so iets vir ons of ons nageslag sou sê, dan kan ons nageslag vir hulle sê: ‘Kyk na die afbeelding van die Here se altaar. Ons voorouers het dit nie vir brandoffers of diere-offers gebou nie, maar as ’n gedenkteken tussen ons en julle.’
29“Dis glad nie in ons gedagte om teen die Here in opstand te kom of die rug op Hom te draai deur ons eie altaar te bou vir brandoffers, graanoffers en ander diere-offers nie. Daar is nie ’n ander altaar hiervoor as net die een van die Here ons God wat voor sy tabernakel staan nie.”
30Toe die priester Pinehas en die leiers van die volksvergadering, die familiehoofde wat by hom was, hoor wat die Rubeniete, Gadiete en mense van Manasse te sê het, was hulle gerusgestel.
31Pinehas, die seun van die priester Eleasar, het vir die mense van Ruben, Gad en Manasse gesê: “Ons weet vandag dat die Here tussen ons is. Julle was nie ontrou aan die Here soos ons gedink het nie. Julle het die Israeliete uit die hand van die Here gered.”
32Pinehas, die seun van die priester Eleasar, en die tien leiers het toe teruggekom van die mense van Ruben en Gad in Gilead. Hulle is terug na die ander Israeliete in Kanaän om aan hulle verslag te doen. 33Die ander Israeliete was tevrede. Hulle het God geloof. Daar was nie langer sprake daarvan om oorlog te gaan maak en die gebied van die Rubeniete en Gadiete te verwoes nie.
34Die mense van Ruben en Gad het die gedenkaltaar “Getuienis” genoem. Hulle het gesê: “Dit is die getuienis tussen hulle en ons dat die Here ook ons God is.”

Tans Gekies:

JOSUA 22: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan