NAHUM 2

2
Die ondergang van Nineve
1Vyandelike leërs omsingel jou,
Nineve!
Beman julle wagposte!
Hou die paaie dop!
Wees slaggereed!
Versterk jou met alle mag!
2Die land Israel lê kaal geplunder,
verwoes ná julle invalle.
Maar die Here sal weer
die eer en roem van Israel herstel.
3Die geveg teen Nineve begin.
Die son blits rooi op die skilde.
Helderrooi is hulle uniforms.
Die son blink op die strydwaens
gereed vir die geveg,
en spiese word rondgeswaai.
4Die strydwaens jaag roekeloos
deur die strate en oor die pleine.
Hulle flikker soos fakkels,
en blits verby soos weerlig.
5Die koning beveel sy offisiere,
maar hulle struikel in hulle haas.
Hulle jaag na die stadsmure
om verdedigingslinies op te stel.
6Te laat, die riviersluise is reeds oop!
Die paleis stort weerloos inmekaar!
7Nineve se ballingskap is seker,
en die diensmeisies treur daaroor.
Hulle kla soos duiwe wat koer,
en gebroke slaan hulle
op hulle bors.
8Nineve is soos ’n
lekkende opgaardam,
die inwoners verdwyn daaruit!
“Staan stil! Staan stil!”
word hulle beveel,
maar niemand draai om nie.
9Steel die silwer, buit die goud!
Daar is net nie ’n einde
aan Nineve se skatte nie!
Daar is oneindig baie
kosbare voorwerpe!
10Die stad is leeggedra,
kaalgestroop en verwoes.
Harte smelt en knieë knak,
hulle bene bewe,
en almal se gesigte is bleek.
11Waar is die lêplek van die leeus,
die voerplek van die welpies?
Waar is Nineve,
die leeu van die nasies,
wie se wyfie en welpies kon loop
en sonder vrees gelewe het?
12Jy het jou vyande verskeur
om jou welpies en wyfie te voed.
Jou stede en huise was vol met buit,
jou rusplekke gevul met roof.
13Die Here, die Almagtige, sê:
“Ek is jou vyand!
Ek sal jou strydwaens
in rook en vlamme laat opgaan.
Die swaard sal jou soldate afmaai,
sonder enige buit op die aarde.
Die stemme van jou boodskappers
sal vir altyd stil wees.”

Tans Gekies:

NAHUM 2: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan