PSALMS 46

46
God is ons toevlug
1Vir die koorleier: ’n Psalm van die Koragiete. Op die wysie van “Jongvroue”. ’n Lied.
2God is ons toevlug en ons krag;
in nood is Hy gereed
om te help.
3Daarom sal ons nie bang wees nie,
al bewe die aarde,
al verskuif die berge
diep in die see;
4al bruis en skuim die waters,
al skud die berge
as die waters styg!
Sela
5Die strome van die rivier
bring vreugde
in die Godstad,
in die heilige woning
van die Allerhoogste.
6God self woon daar;
dit sal nie beweeg nie.
As die dag breek,
sal God kom help.
7Die nasies rumoer
en koninkryke wankel.
God praat,
en die aarde versmelt.
8Die Here, die Almagtige,
is by ons;
ons skuilplek
is die God van Jakob.
Sela
9Kom, aanskou die werke
van die Here,
wat verwoesting bring
op die aarde
10en oorloë beëindig
oor die hele aarde.
Hy verbreek die boog
en vernietig die spies.
Die skilde
verbrand Hy met vuur.
11“Wees stil en weet Ek is God!
Ek sal vereer word
deur die nasies,
verhewe wees
oor die hele aarde.”
12Die Here, die Almagtige,
is by ons.
Ons skuilplek
is die God van Jakob.
Sela

Tans Gekies:

PSALMS 46: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan