OPENBARING 13

13
Die monster uit die see trek op teen Christus
1Toe het ek ’n monster uit die see sien opkom met tien horings en sewe koppe. Op sy horings was daar tien koningskrone en op sy koppe name wat God belaster het. 2Die monster wat ek gesien het, het net soos ’n luiperd gelyk. Sy pote was net soos dié van ’n beer en sy bek net soos dié van ’n leeu. Die draak het van sy eie krag, sy troon en groot mag aan hom gegee. 3Aan een van sy koppe was hy oënskynlik dodelik verwond, maar sy dodelike wond het gesond geword. Die hele wêreld het verwonderd agter dié monster aan geloop. 4Hulle het in aanbidding neergeval voor die draak omdat hy aan die monster mag gegee het. En hulle het die monster aanbid en gesê: “Wie is soos die monster? En wie kan teen hom oorlog maak?”
5Dié monster is toegelaat om vreeslike en lasterlike dinge te sê; aan hom is ook die mag verleen om 42 maande lank só op te tree. 6Hy het sy mond oopgemaak om teen God te laster; hy het God as persoon, sy woonplek en dié wat in die hemel woon, belaster. 7Hy is ook toegelaat om teen die gelowiges oorlog te maak en hulle te oorwin; aan hom is ook gesag gegee oor elke stam, volk, taalgroep en nasie. 8Al die bewoners van die aarde sal in aanbidding voor hom neerkniel. Dit is hulle wie se name nie van die fondamentlegging van die wêreld af in die Boekrol van die Lewe aangeteken is nie – die Boekrol van die geslagte Lam.
9Elkeen wat ’n oor het om te luister,
moet hoor.
10Wie vir gevangenskap bestem is,
gaan in gevangenskap;
wie bestem is om met die swaard
doodgemaak te word,
sal so doodgemaak word.
In hierdie sake het die gelowiges#13:10a Grondteks heiliges. volharding en vertroue#13:10b Of geloof. nodig.
Die monster uit die aarde, in diens van die draak en die seemonster
11Toe het ek ’n ander monster gesien wat uit die aarde opkom. Hy het twee horings gehad, net soos ’n lam, maar hy het gepraat soos ’n draak. 12Hy tree met al sy gesag namens die eerste monster op. En hy oorreed die aarde en al die bewoners daarvan om die eerste monster te aanbid, dit is dié een waarvan die dodelike wond gesond geword het. 13Hy doen ook asemrowende wondertekens sodat hy voor die oë van die mense selfs vuur uit die hemel op die aarde laat neerkom. 14En hy mislei die bewoners van die aarde deur die wondertekens wat hy toegelaat is om namens die monster te doen. Hy het ook die bewoners van die aarde beveel om ’n standbeeld vir die monster op te rig; dit is die monster wat die litteken van die swaard dra en wat weer lewend geword het. 15Hy is ook toegelaat om lewe in die standbeeld van die monster te blaas sodat dit kan praat en almal laat doodmaak wat dit nie aanbid nie.
16Hy verplig al sy volgelinge, klein en groot, ryk en arm, vryes en slawe, om ’n merk op hulle regterhand of op hulle voorkop te kry. 17Dit word gedoen sodat niemand kan koop of verkoop sonder die merk van die naam van die monster, of die getal van sy naam nie. 18In hierdie geval is onderskeidingsvermoë nodig. Laat die een wat insig het, die getal van die monster bereken, want dit is die mens se getal. Sy getal is 666#13:18 Enkele manuskripte 616..

Tans Gekies:

OPENBARING 13: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan